Lentemelodie – Madelie Human (Uittreksel)

by Romanza
Lentemelodie – Madelie Human (Uittreksel)

Een

Ali Greyling sug en streel oor haar geliefde ryperd, Lady Jane, se fluweelsagte neus. “Ai, Lady, ek en jy is nou ewe veel opgekrok ná die ongeluk. Jy kan nie meer mooi sien nie, ek kan nie meer sing nie, en ek lyk soos ’n vrekken spook met die litteken op my wang. Wat gaan ons maak?” Haar tong sleep effens en die woorde kom nie mooi duidelik uit nie, maar sy weet haar getrouste maat en trooster van baie jare sal nie omgee nie. Lady Jane se ore roer om Ali te laat weet sy luister, en sy laat rus haar groot kop op haar skouer, net soos toe Ali as twaalfjarige meisietjie gebroke was ná haar ma se dood. Haar pa het die perd destyds as troos vir haar gekoop nadat sy eerste vrou aan kanker oorlede is.

“Maar julle is nog altyd aawwesome,” antwoord ’n kinderstem met uitgerekte klem op die laaste woord. “Lady Jane is die beste-este perd en jy sing die mooiste in die hele wêreld!” oordryf klein Arinda, oudste spruit van hul bure, Ruan en Sabrina Kleynhans, met albei arms wyd uitgesprei. “Ons weet almal dis nie Lady se skuld dat sy jou afgegooi het omdat die slang haar uitgefreak het nie.”
Ali skud haar melankolie af en kan nie help om te lag vir een van haar heel gunstelingmense op die aarde nie. “Jy is heeltemal reg, Arinda. Dit was nie Lady se skuld nie. Sy was baie dapper en het die spoegkobra verjaag sodat dit my nie kon bykom nadat ek afgeval het nie. Toe spoeg die nare slang gif in haar oë en nou kan sy nie meer so mooi sien nie. Gelukkig het jou pappa ons daar in die veld gekry en haar oë vinnig genoeg uitgewas sodat die slanggif haar nie heeltemal blind kon maak nie,” verseker sy die meisietjie en help haar om op die wit paalheining van die perdekamp te klim sodat sy ook kan bykom om die perd te streel.

Voor die kind is sy nie so selfbewus oor die klanke wat misvorm van haar beseerde tong afrol nie. Ongelukkig kon Ruan nie haar tong wat sy met die val feitlik heeltemal af gebyt het, red nie. Dit en die lelike sny aan haar wang waar ’n skerp rots haar getref het, het erg gebloei en hy moes met haar na die naaste mediese hulp jaag. Van die spiere in haar tong, sowel as die senuwee, is erg beskadig. Ou dokter Senekal, die enigste dokter op hulle dorp, kon wel steke insit, maar sy naaldwerk is nou nie juis van die beste kwaliteit nie. Die wonde het ’n dik rif op haar tong gelaat en ’n lelike litteken op haar wang. Die wond self aan haar tong het wel heel gou genees, maar haar spraak nie heeltemal nie, en dit beteken dat haar sangloopbaan nou in gedrang is. Die litteken aan haar wang sal later met plastiese snykunde tot ’n mate herstel kan word, maar niemand weet hoe lank nog voor sy haar spraak volkome sal kan herwin nie.
Die feit dat Ali haar Skepper kwalik neem omdat Hy eers haar ma weggeneem het toe sy haar die heel nodigste gehad het en nou ook haar suksesvolle sangloopbaan kortgeknip het, verswyg sy. Dis nie juis iets wat jy met ’n sesjarige kind bespreek nie.
“Kom, poplap, ons moet huis toe gaan.” Dis Ruan met Stian, sy vierjarige seun, op sy skouers wat van die huis af aangestap kom. “Mamma wag vir ons.” Hy kom nader en kyk ondersoekend na Ali. “Jy oukei?”
Ali maak haar rugstring styf. Sy wens sy het ’n rand gehad vir elke keer wat sy die afgelope weke daardie vraag moes beantwoord. “Hou op om my dit te vra. Niks het verander sedert jy verlede week gevra het nie.” Toe die r’e haar pootjie, bly sy summier stil en verwens haar lui tong.
Hy ignoreer haar negatiwiteit en sit sy arm broederlik om haar skouers. “Ons gee om vir jou, meisiekind, dis al.” Hy sug. “Ek voel steeds verantwoordelik oor ek nie liewer met jou na ’n beter dokter op een van die buurdorpe gejaag het nie, maar ek was bang jy verloor te veel bloed.”
“Ruan, ons het mos hierdie refrein tot vervelens toe gesing. Jy het gedoen wat jy dink die beste is. Hou nou op skuldig voel. Dis nie jou skuld dat geen dokter wat sy sout werd is hier in die boendoe wil kom praktiseer nie en Oudok het sy bes gedoen.”
Hy skud sy kop. “Kom kuier asseblief op Rolbos. Sabrina sal jou geselskap waardeer. Ek is seker sy kan nie wag om al die stories van jou skitterlewe daar in New York te hoor nie. Die baba en die besigheid hou haar dag en nag aan die gang. Ek sê jou, sy is behoorlik uitgerafel, dis dié dat ek hier kom kuier het om hierdie tweetjies vir ’n rukkie onder haar voete uit te kry.”
“H’m. Dankie.” Ali wens almal wil haar uitlos. Sy weet hulle gee net om, maar die gedurige gekarring krap haar net meer om.
Hy leun oor die heining en vee oor die perd se maanhare. “Bring vir Lady Jane, dan leer ek jou die terapeutiese oefeninge wat haar sal help om haar swak sig te hanteer. Jy sal ook moet leer om namens haar op die uitkyk te wees en haar rondom hindernisse te stuur.” Ruan het ’n kliniek op sy plaas waar hy perde met probleme behandel.
Ali pers haar lippe opmekaar. Bly stil, Ali, maan die stem in haar kop. Hulle sal nie ophou nie, al sê sy wat. “Ek en Lady Jane is oukei. Ons verstaan mekaar en ons sal self regkom, dankie.”
Ruan sê niks verder nie, gee haar skouer net ’n drukkie en vat sy dogter se hand. “Kom, Arinda, Mamma wag vir ons. Kom kuier, Ali,” sê hy vir oulaas voordat hy loop.

Ali laat sak haar kop teen haar perd se nek en sluk hard aan die knop in haar keel. Sy haat selfbejammering, maar op die oomblik moet sy hard veg teen daardie einste swakheid. As sy net die tyd ’n paar weke terug kon draai. Hoekom het God die slang juis op daardie spesifieke dag oor die pad waar sy en Lady Jane gaan ry het, laat seil? Die slang in die paradys het die sondeval veroorsaak en die slang hier op Kronkelpad het haar val veroorsaak.
Ali skud haar kop om die doemgedagtes uit haar kop te kry. Die naderskuiwende skaduwees dui aan dat dit laat word en sy lei Lady Jane uit die kampie na die stalle toe om hul ryperde te gaan versorg vir die nag.

“Haai, Nagtegaal, kan ek jou help?” kom haar pa se stem van die stal se wye skuifdeure af. Jaco Greyling kom nader met die ander drie ryperde op sleeptou.
Ali sluk weer ’n keer aan die knop in haar keel wat nou dreig om haar te verwurg. Nog ’n barmhartige samaritaan wat probeer om haar van haarself te red.
Die dokter het gesê haar tong behoort volkome te genees, maar vir haar voel dit nie so nie. Die dik rif waar die steke was, pootjie haar spraak gedurig. “Ek kom reg, dankie, Pappa.” Die r-klank sukkel om uit te kom, want weer eens wil haar tong nie mooi saamwerk nie en sy verwens die besering vir die soveelste keer. Selfs die troetelnaam wat haar eie ma haar altyd voor haar dood genoem het, steek haar vanaand dwars in die krop en sy wens haar pa wil haar nie so noem nie. Dit herinner haar net aan die twee belangrikste dinge in haar lewe wat sy verloor het – haar dierbare ma sowel as haar loopbaan. Die musiekbedryf is erg kompeterend en al is sy selfs net vir ses maande uit die kalklig, kan dit ’n groot effek op die verkope van haar musiek hê.
“Ek weet jy kom reg, maar wat is daarmee verkeerd as ek tyd saam met my dogter wil deurbring?” Hy vat ’n emmer en gooi ’n bietjie hawer in elke perd se voerbak terwyl sy haar merrie roskam. “Ons het jou allervreeslik baie gemis toe jy jare lank in New York was, eers daar by Juilliard se musiekskool en toe op al die konserttoere. Is ek selfsugtig as ek nou bly is jy is hier omdat ek jou graag hier by ons wil hê?” Jaco het tien jaar gelede weer getrou met die bekende sangeres, Belinda. Dit was Belinda wat Ali aangemoedig het om ’n sangloopbaan te volg en haar gehelp het om met die regte opleiding en kontakte in die musiekbedryf in te kom.

“Ek kan nie help om opstandig te voel nie, Pappa. My loopbaan het net mooi op dreef gekom. Ek staan op die punt om ’n yslike kontrak te onderteken en nou dit. Ek voel lus om ten hemele te skree. Dit druis in teen alles wat ons godsdiens ons leer, maar ek voel so verontreg. Dink Pappa dat God my straf oor iets?”
Jaco gaan haal die tuinslang by ’n kraan daar naby en maak die krippe by al die perde se stalle vol terwyl hy haar op sy rustige manier antwoord. “Ek hoor jou, my kind, en ek verstaan hoe jy voel, maar natuurlik straf God jou nie.”
“Verstaan? Ek glo nie Pa kan weet hoe ek voel nie!”
Jaco skuif die tuinslang na die volgende krip. Dit neem ’n rukkie voordat hy weer praat. “Ja, ek dink ek verstaan jou opstandigheid. Twaalf jaar gelede toe Mamma so siek was, my vee op strepe gevrek het van die droogte en die bank gedreig het om my plaas op ’n veiling te verkoop, het ek presies so gevoel. Ek was net so kwaad vir my Skepper en het ook gedink ek word onregverdig gestraf, maar dominee Driaan het my laat insien dat die God wat ons aanbid, nie so werk nie. As God ons sou straf vir als wat ons verkeerd doen, sou die wêreld sekerlik lankal uitgeroei gewees het.”
“As dit nie straf is nie, wat is dit dan?”
“Ek kan nie woorde in God se mond sit nie, maar ek glo dis ’n toets vir ons geloof. Ken jy die storie van Job in die Bybel?”
“Ja, dis mos die ou van wie die satan al sy goed en sy familie weggeneem het totdat hy niks oorgehad het nie en in sak en as was.”
“En wat was Job se reaksie toe hy daar op die ashoop gesit het? Het hy opstandig geraak of gekerm en gekla oor sy lot?”
Ali frons effens. Sy kan sien waarheen haar pa mik en sy weet nie of sy dit wil hoor nie. “Nee, hy het aangehou om God te loof en te prys,” antwoord sy half onwillig.
“En hoe het God hom beloon?”
“Hy het hom geseën met selfs meer as wat hy vantevore gehad het,” onthou sy ’n Sondagskoolles uit haar kinderdae. Ali sluk weer ’n keer hard aan die knop in haar keel. “Ek kan sien wat Pappa my probeer leer, maar ek weet darem nie of ek op die oomblik in staat is tot lofprysing nie. Ek kan nie eens sing nie, en wanneer ek probeer bid, wil die woorde nie kom nie.”
Jaco glimlag toegeeflik vir sy dogter. “Jy is sterker as wat jy dink, my meisiekind. Ek weet jy sal terugbons en weer ons vrolike, singende nagtegaal wees. Moenie verwag dat al jou probleme oornag sal verdwyn nie. Gee jouself tyd om te genees en vertrou dat die Here ’n plan met jou lewe het.”
Ali glimlag huiwerig vir haar pa. Hierdie groot man was nog altyd die rots waarop sy haar lewe lank kon vertrou. Miskien moet sy haar nou ook op sy oordeel verlaat. “Dankie, Pappa.” Sy gaan na hom toe en gee hom ’n drukkie. “Ek is lief vir Pappa.” Sy koester haar in die sterk arms om haar voordat hy haar laat gaan.
Hy draai die kraan toe en rol die tuinslang weer op. “Nou toe, kom. Tannie Belinda wag seker al vir ons vir aandete.” Hy wys vir haar om voor te stap en maak die staldeur agter hulle toe vir die nag.