Liefde onbeperk – Marilé Cloete (Uittreksel)

Liefde onbeperk – Marilé Cloete (Uittreksel)

Een

“O, jy’s dáárdie Estelle?” Die man is baie lank, baie blond en ly ooglopend aan ’n oormaat selfvertroue. Of dalk is sy probleem net ’n verwronge humorsin, want die twee potblou oë lag vrolik oor die glas wyn na haar toe, asof hy haar nie pas gruwelik beledig het nie.
Estelle lig haar glas vir hom en probeer ongeërg glimlag. Die enigste probleem is dat sy hoegenaamd nie ongeërg oor haar reputasie voel nie. “Ja, dáárdie Estelle. Ek neem aan jy is dié Bernard?”
“Einste.” Hy plak sy glas op die naaste oppervlak neer en steek sy hand hartlik na haar toe uit. “Aangename kennis, Estelle. Báie aangename kennis.”
Sy reputasie het hom nie verniet vooruitgeloop nie. Partytjiedier, allemansvriend, vrolike verbreker van die inperkingsregulasies, leef asof hy geen sorge in die wêreld het nie. Gelukkig weet sy hoe om met sy soort te werk. “Hallo,” sê sy koeltjies en ignoreer die uitgestrekte hand.

Sy let egter wel deeglik op dat dit goed versorg met kort, netjiese naels is. Teen haar sin registreer sy ook dat albei hande volkome ringloos is. Die dorp se riemtelegram het haar wel deeglik ingelig dat hy nie verloof of getroud en vermoedelik ook nie op die oomblik verlief is nie, maar sy sal seker vir die res van haar lewe op haar hoede wees vir getroude wolwe in skaapsklere. Hoewel mens Lucie se Etienne sekerlik nie as ’n wolf in skaapsklere kan beskou nie.
Die Bernard-vent trek nie sy hand terug nie, maar laat dit liggies op haar arm rus. Sy skrik vir haar lyf se onverwagte reaksie. Dit kom nou daarvan as ’n mens twee maande lank in afsondering geleef het. Jy raak velhonger, menshonger. Dit het sekerlik niks te make met die feit dat die baas van die betrokke hand haar met vonkelende oë aankyk en duidelik besig is om haar reaksie te toets nie. Sy trek haar arm haastig weg. “Ons is nie veronderstel om aan mekaar te raak nie. Daar is ’n pandemie aan die gang, as jy dalk vergeet het.”

Sy gul lag laat ’n paar mense na hulle omkyk. Estelle krimp innerlik ineen. Hoeveel van die gaste in haar suster en swaer se braaikamer wonder nou of sy al weer besig is om ’n man op te tel? Wanneer gaan sy ooit daarin slaag om die episode met Etienne heeltemal agter haar te sit? Wanneer gaan sy haarself heeltemal vergewe en miskien selfs af en toe vergeet van die enkele groot dwaasheid wat sy in haar lewe begaan het?
“Jy’s ’n mooi een om my van die pandemie te vertel, Estelle.” Hy lyk geensins geaffronteerd nie. “Hier is jy per slot van rekening saam met my en ten minste tien ander mense in Ben en Santie se braaikamer ingeprop, terwyl ons almal weet dis absoluut verbode. Ek kan my kwalik ’n beter plek voorstel om die virus op te tel.”
Haar veggees verlaat haar heeltemal. ’n Mens kan ook net só lank in die man se stout blou oë kyk sonder om deur sy persoonlikheid aangeraak te word. “Ek weet, ek weet. Ek kon dit net nie langer alleen in my woonstel uithou nie. Maar ek het regtig nie geweet hier gaan so ’n klomp mense wees nie. Om die waarheid te sê, voel ek nogal benoud.”Ervare wolf wat hy is, vat hy onmiddellik sy kans: “Nou kom ons gaan soek ’n ander plek om te gesels.”
Sy hand in die holte van haar rug voel warm en gerusstellend, hoewel sy met haar verstand weet “gerus” is die laaste ding wat sy in hierdie man se geselskap moet voel. “Is jy seker jy het ‘gesels’ in gedagte?” gooi sy oor haar skouer terwyl sy voor hom uitstap. Die kolletjie waar sy hand ’n paar oomblikke gerus het, voel vreemd koud. Natuurlik net omdat dit vroegwinter is en hulle uit die warm braaikamer na die kombuis beweeg het.

Hy lag natuurlik asof dit die grap van die jaar is. “Jy’s ’n reguit ene, nè?”
Sy skakel maar die ketel aan by gebrek aan iets anders om te doen. “Ja, ek is. Daarby is ek nie van plan om ooit, ooit weer in ’n onverantwoordelike verhouding betrokke te raak nie.”
“En jy neem aan ’n verhouding met my sal onverantwoordelik wees?” Die uitdaging is duidelik. Hierdie man speel met haar. Sy dink nie hy kan homself help nie; hy is van terg en flankeer aanmekaargesit.
Sy maak kaste oop en toe op soek na koffiebekers. Sy het nog nooit gewaag om te tuis in haar sus se kombuis te raak nie. “Ná die fiasko met Etienne voel dit vir my enige verhouding sal onverantwoordelik wees. Watter man gaan my ooit weer ernstig opneem? Ten minste in hierdie dorp? Al wat leef en asemhaal, weet ek was op ’n stadium die ‘ander vrou’ in twee goeie mense se huwelik.”
“Miskien oordryf jy, Estelle.” Hy haal melk uit die yskas en begin soek in die verskillende mooi potte op die toonbank na die koffie. “Miskien stel mense nie regtig soveel in jou liefdeslewe belang soos dit vir jou voel nie.”
“Wel, jou optrede weerspraak jou stelling. Jy ken my van g’n kant af nie en jy het daarvan geweet.” Sy het die suiker opgespoor en gooi sommer twee teelepels in haar beker.
“Gooi maar vir my ook twee.” Hy skep ’n hoë lepel koffie in sy beker, lig die houer vraend na haar. “Hoeveel drink jy? Hoogvol?”
“Ja, gee maar hoogvol.” Dit voel of sy enige beskikbare versterking moet aangryp.
“Ek weet nie noodwendig van jou oor die rede waaraan jy dink nie.” Hy skep ’n yslike opgehoopte lepel koffie in haar beker. Sy gaan vir die volgende uur soos die Duracell-hasie spring van al die kafeïen en suiker. “Ek weet onder andere van jou omdat Etienne se Lucie een van my suster Isa se beste pelle is. Nie omdat die hele dorp oor jou aan die praat is nie.”
Sy skink so woes dat ’n paar druppels kookwater op haar hand beland. “Jy ken dus die hele hartseer storie.”
Hy sak op een van die kroegstoeltjies by die kombuistoonbank neer, sluk versigtig aan die kookwarm koffie. “Eintlik weet ek nie veel nie. Om eerlik te wees, dis nie regtig die soort ding wat my interesseer nie. Wat ek wel weet, is dat die storie ’n gelukkige einde gehad het. Die tweetjies is mos voor die inperking haastig weer wetlik getroud en het op Zoom verder getrou toe die inperking verleng is. Ek was self op die virtuele party. Dit was so romanties soos kan kom en ’n tranedal van die eerste water. Jy hoef jou definitief nie meer oor Etienne en Lucie te bekommer nie.”
“Ek weet, ja. Maar dit maak nie ongedaan wat gebeur het nie.”
“Dalk is jy te hard op jouself, Estelle. Was die petalje nie ’n hele paar jaar gelede nie? Is dit nie tyd om jouself te vergewe en aan te beweeg nie?” Die oë wat oor die koffiebeker na haar kyk, is vir ’n verandering heeltemal ernstig.
“Ja, dis seker so.” Die koffie brand in haar keel af. “Maar die skade is gedoen. Gaan sy hom ooit weer heeltemal vertrou? Om nie eens te praat van die hartseer wat dit vir hulle albei gebring het nie. Dink net aan die lyding toe sy haar arm in daai ongeluk verloor het en nie haar man aan haar sy gehad het in die aaklige aanpassingstyd nie.”
“Jy het met eer uit die ding gekom, Estelle. Jy het die ou in die pad gesteek, as ek reg onthou?”
Dis darem een ding waarop sy ’n klein, klein bietjie trots is. “Jip, maar dit was nie van edelheid nie. Dit was bloot omdat ek besef het hy sal vir altyd vir sy vrou lief wees.”
“Jy’s nie iemand wat jou laat misbruik nie.”
“Nee, ek is nie.” Dis darem seker ’n kompliment. Dis ontstellend hoe nodig sy dit het.
“Jy’s ook nie een wat vlug vir jou probleme nie. Anders was jy lankal weg uit die dorp.”
“Ja, dis seker so.” Dis ook ontstellend hoe moeilik dit vir haar is om ’n kompliment te aanvaar. Is haar arme selfbeeld regtig só aan flarde dat sy niks moois oor haarself kan glo nie?
Bernard sluk sy koffie weg en staan op, steek sy hand na haar uit. “Jy’s nie so sleg soos jy dink nie, Estelle. Kom ons gaan kyk of jou swaer al ’n stukkie vleis gaar het.”
Teen haar beterwete plaas sy haar hand in syne. “Oukei.” Hulle stap bloot van een vertrek na ’n ander, maar sy kry die gevoel dat sy eintlik veel verder stap.