Liefde vir ’n middlekind – Kristel Loots (Uittreksel)

by Romanza
Liefde vir ’n middlekind – Kristel Loots (Uittreksel)

Een

’n Langtafel is nie altyd ’n goeie idee nie. Jy sit waar jy sit waar jy sit. En as die mense om jou jou verveel, verveel hulle jou vir lank. Julle sit omtrent op mekaar se skote en van ’n gemaklike sosiale afstand is daar geen sprake nie. Spasie om tydens die vyfgangmaaltyd op te staan en rond te beweeg na groener weivelde is daar ook nie. Die paadjie is daar vir die kelners wat oorlaaide skinkborde balanseer en jou aangluur as jy daarna mik om jou bene te rek.
Daarom sit Mitzi, regop soos ’n houtpop, met verlangende oë om haar en rondkyk na die tafelgenote verder suid wat interessanter lyk as dié hier om haar. Hoe interessant kán die ou spulletjie nou ook wees as jy in ag neem waarom hulle hier is. Om geld in te samel vir straatbrakke en -katte. Alles Katrina se idee. Die een met die mooi geaardheid, die sagte suster. Dis mos Mitzi wat die feeks is hier rond. Ja wel, dit was nog altyd maklik vir Katrina om die goeie suster te wees. Vir Mitzi het die lewe tot dusver nie soveel genade gehad het nie.
“Hier is ’n paar celebrities ook,” spog Katrina.
“Ek kon so dink. Die sosiale vlinders wat nie ’n geleentheid misloop waar hulle gesien kan word nie.”
Katrina haal haar skouers op. “Die kaartjies het soos basaarpoeding verkoop.”
“Maak nou nie saak dat dit teen daardie prys daylight robbery is nie.”
“Natuurlik nie. Dis vir ’n goeie doel.”
“Ja, jong! Diereregte staan deesdae langsaan menseregte.”
Katrina is dadelik op haar seepkissie. “Dit hoort ook so. Mense kan nog vir hulself praat, diere nie.” Mitzi ken die storie en sy stem saam. Dat die hond nie geskop mag word as die baas van die huis befoeterd van die werk af kom nie. Of by die deur uitgesit mag word wanneer dit jou pas nie.
Katrina het blykbaar al wat vriend, vyand of familielid is, omgepraat om ’n kaartjie te koop vir die We care/Ons gee om-liefdadigheidsorganisasie se langtafel in die Stellenbosse doodloopstraat. Het by haar weggooi-losloopdiere aangeleer om met kleinhondjie-oë na mense te kyk, laat jou dadelik skuldig voel al het jy niks verkeerd gedoen nie. Sodat jy maar inval by wat sy van jou vra. Uit die goedheid van haar, en jou eie hart ook, natuurlik.
Katrina ken seker ook die meeste van die mense wat ewe gedwee om die langtafel plek ingeneem het, servette onder die kenne of op die skote oopgevou. Weet dalk ook wie die man is wat skuins oorkant Mitzi sit. Maar Mitzi vra nie uit nie, wil nie hê Katrina moet weet hoe hy haar interesseer nie.
Sy verbeel haar sy betrap die man se oë elke af en toe op haar. Wat natuurlik belaglik is. Die man is mooi genoeg om vir ’n winkelpop gebruik te word. Ons praat nou nie van Pick n Pay clothing of Mr Price nie. Ons praat van eksklusief, ons praat van ’n oorsese winkel soos Millennium Men, waar die klere gewoonlik aan koplose mannekyne se lywe gepas word. Maar in hierdie man se geval sou daar ’n uitsondering gemaak word. ’n Mens mors nie met ’n kop, ’n paar skouers en ’n gesig soos syne nie.
Goeie gedorie, maar die man het ’n presence aan hom. Asof hy jou beveel om op hom verlief te raak. Die baksteenkakebeen nogal baie soos dié van ’n held in ’n liefdesverhaal. Die kuif wat wil-wil uit styl uit vorentoe flop en oë wat lyk asof dit selfs op ’n afstand in joune kan boor. Sy raai sommer as hy sou opstaan sodat jy sy onderlyf sien, sal ’n mens ’n tweede keer wil kyk. Die wit hemp span hoeka so ’n aksie te styf om daardie breë borskas.
Seker een van daardie ouens wat jy douvoordag al in die gim sal kry. Sy haat sulke mans, die ene bulte en spiere wat jou ongemaklik laat wegkyk. Of skelm laat kyk. Hulle sweet net effentjies soos die modelle in advertensies – mooi netjies. Mannetjiespoue met swierige stertvere wat hul vroulike eweknieë ver in die skadu stel. Dis die dinge in haar kop en haar hart wat haar so bewus maak van die man. Die besef dat sy by ’n kruispad gekom het, ’n besluit moet neem met haar lewe vorentoe. Sy staan op die randjie van ’n afgrond en sy kan haar des dinges val as sy daar affoeter. Of dalk sal sy vlieg . . .
Haar maag draai by die gedagte daaraan.
Dis ordentlike mense hier om haar as sy moet raai. Ryk genoeg om hopeloos te veel te betaal vir die borde kos wat vir hulle aangedra word.
Behalwe miskien vir die twee jafels wat reg oorkant haar sit. Bakkebaarde soos boeregeneraals gone wrong. Verstaan blykbaar nie hoe goatees gedra moet word nie. Dat dit ’n kuns op sy eie is om ’n baard so te sny dat ’n man nog soenbaar is. Nie soos hier met te veel baard en te min man nie. Dié twee pas net so min by die skynbaar uitgelese tafelgenote om hulle soos orrelmusiek op ’n Saterdagaand.
“Wie’s die twee hillbillies aan die ander kant van die tafel?” fluister-vra sy vir Katrina.
“Weet nie. Seker iemand wat hulle geborg het om hier te wees.”
Sy en Katrina kon nog altyd lekker oor ander mense skinder. Sommer lelik skinder ook, soos susters maar maak, nie filters voor die mond hê nie.
“Goeie daad vir die dag gedoen, hulle op eie risiko hier losgelaat.”
Waar hulle uitstaan soos skewe tande in ’n perfek ortodonties-gemanipuleerde mond. Verslind die kos, seker nie baie vertroud met skinkborde vol gratis kos nie. Elmboë nie mooi netjies langs die sye soos dit hoort nie. Vurke te vol gelaai. Eet oopmond. Vrye geeste. Mitzi beny hulle amper die vryheid van wees wat jy is omdat dit jou nie traak nie.
Sy en Katrina lag onderlangs. Regte twee hekse om ’n vuur.
Vir Mitzi is feitlik almal hier onbekend en onbemind. Behalwe vir Danie hier aan haar linkersy. Danie Vermeulen, die liefde van haar lewe. Wel, ten minste vir die laaste vier jaar van haar lewe. Hy is vir haar so bekend soos die palm van haar hand, maar helaas ook nie aldag ewe bemind nie. Sy hare te lank en slordig in sy nek, sy blokkieshemp dieselfde een wat hy gister ook werk toe gedra het. En kriewelrig hier langs haar. Wil nie regtig hier wees nie, moes met onnoembare beloftes van vergoeding omgekoop word om saam met haar te kom.
Wil hom ook nie regtig hier hê nie, maar wou nie alleen hier tussen die diereliefhebbers sit en kloek oor die verskriklike lot van die arme straatkatte en -brakke nie. Hou van diere, amper meer as van mense. Die meeste mense, in elk geval. Maar sy praat nie dieretaal nie. ’n Gekloek oor “Ounooi se honne” kom nie maklik oor haar lippe nie. Geen wonder almal glo sy het ’n niekerbol vir ’n hart in haar borskas nie, heeltemal anders as Katrina se malvalekkersagte, spierwitte hartjie wat, jammer vir haar, nie haar familie en veral nie haar suster kon kies nie.
Lyk nie asof Danie die ete, die aand, haar prikkelende geselskap óf haar stunning rok geniet nie. Kyk skaars na haar. Sou hy haar ooit nog as vrou raaksien of smelt sy saam met die potplante in haar woonstel? Nie ’n goeie gedagte nie, want die meeste daarvan is verdroog en baie naby aan vrek. Van onsigbaar wees, het sy genoeg gehad in haar grootwordjare, dankie. Met Ruben as die oudste, die kroonprins van die gesin, Pappa se bulletjie en Katrina, Mamma se skattebolletjie, handjies klap, koekies bak, soet en goed, die baba van die gesin wat tot onlangs toe nog op Ma se skoot gesit het. En tussen die twee uiterstes is sy – die middelkind wat nie juis ’n duik in iemand se hart of lewe maak nie.
Sy wil ’n slag behoorlik raakgesien word, dêmmit, man. Iemand moet na haar kyk soos die adonis daar oorkant dit sporadies doen. Of so lyk dit vir haar van hier af. Asof sy ’n derde oog op die voorkop het, of iets anders aan haar wat hom dronkslaan. Dalk ’n joernalis wat raar-maar-waar-stories skryf. Oor vet vroue in rokke wat nie behoorlik pas nie.
Maar dis nie waarvoor sy raakgesien wil word nie.
Dis sowaar tyd dat sy vir haar ’n paar moerse groot tatoes kry. Nie ’n beskaafde rosie op die enkel wat per ongeluk raakgesien word nie, maar behoorlike sleeve tatoes met ’n paar draakgesigte en ’n unicorn ineengevleg en slagspreuke waarvan die betekenis nie maklik ontsyfer kan word nie. Next level. Daar moenie ’n wit kolletjie vel op haar linkerarm oor wees nie. Mense moet wonder waaroor dit gaan. Oor háár wonder. Die meisiemens met die vreemde tatoes. Het julle gesien? Hoe kan ’n mens jou so wil mismaak? Hoe dink sy gaan daardie drake en diere lyk teen die tyd dat haar vel papperig en verrimpel is? Soos mombakkies wat in die reën vergeet is, dis hoe. Makaber. Bisar. Aaklig.
As hulle daarvan uitvind, sal haar ma hopelik genoeg omgee om ineen te stort, haar pa sal haar broer teen haar waarsku en haar ouma sal die adres van die tatoeëerder vra, maar sy sal die kans moet waag. Sy is hopeloos te old school. Dis hoekom die dekselse Danie dwarsdeur haar kyk asof hy eerder die eikebome agter haar raaksien.