Lizelle von Wielligh praat oor liefde, geloof en haar droomman

Liefde met die eerste oogopslag

As jong meisie het ek ʼn baie spesifieke droomman in gedagte gehad. Hy moes swart hare en ʼn blas vel hê. Dan moes hy ook nie soos ʼn rugbyspeler gebou wees nie, want – só het ek gereken – sal al daardie spiere net eendag vet word en dan sit ek met ʼn kolossale man.

Net voor my matriekafskeid ontmoet ek toe meneer Perfek – uiterlik. Eers het ek gedink ek is die gelukkigste meisie wat leef, maar soos wat die tyd aangestap het, het ek besef hierdie verhouding wil maar net nie werk nie.

Ten einde raad het ek een dag, dit was so twee jaar later, voor my tuinwoonstelletjie gaan staan en tot God uitgeroep om hulp. In my hart het ek vuriglik gehoop die Here sal hom verander sodat ons bymekaar kan pas, maar toe ontvang ek ʼn onverwagse antwoord op my gebed – een wat my wêreld met een sin verpletter het. Hy het kort daarna uit die bloute gebel en net gesê: “Jammer, maar my liefde vir jou het net verdwyn.”

Ek was in sak en as, maar dit was Goddelike ingryping, want so dikwels bevind ons ons in ʼn verhouding wat maar net nie wil werk nie. Ons dink egter ons moet net áánhou bid en áánhou hoop en áánhou glo, maar ongelukkig werk dit selde so uit.

Hierna het ek nie weer kans gesien vir ʼn verhouding en seerkry nie. Ek was alleen en het die Here gevra om asseblief my trouman vir my te stuur, en Hy kan maar hierdie keer kies hoe hy moet lyk. Ek het my les geleer.

Dit was skaars drie maande later toe ʼn vriend my saam met al sy vriende see toe genooi het. Aanvanklik wou ek nie sy uitnodiging aanvaar nie, omdat ek geweet het hy het ʼn oog op my en ek wou hom nie vals hoop gee nie. My ma het my gelukkig anders oortuig en gereken dit sal my goeddoen ná my liefdesteleurstelling.

Ons het die aand laat by die see aangekom. Almal was in die sitkamer en Tinus het gelê en TV-speletjies speel. Die oomblik toe ek hom sien, het ek dadelik geweet hy is die een.

Vol vreugde het ek vir die Here gevra: Maar wat nou? Ek kan tog nie na hom toe gaan en vir hom sê hy is my trouman nie. Ons het nog nie eens ʼn woord met mekaar gepraat nie en hy gaan dink ek is die kluts kwyt. Verder het ek nie eens geweet of hy ʼn Christen is nie. Ek het toe baie mooi gevra of die Here nie asseblief vir hom sal sê dat ek sy trouvrou is nie.

Tinus het egter gedink ek is sy vriend se meisie, en soos dit ʼn goeie vriend betaam het hy anderpad gekyk. Twee dae later het hy egter besef daar is niks tussen ons nie. Hy het toe begin wonder of ek nie dalk sy lewensmaat is nie en het daaroor gaan bid, maar soos Gideon wat die wolvliesie uitgesit het, wou hy ook ʼn teken hê. Hy het gevra as ek sy trouvrou is, moet ek die volgende dag eerste aan sy hand raak – ʼn byna onmoontlike teken vir ʼn skaam meisie soos ek (gelukkig is ek nou nie meer so inkennig nie!)

Maar die Here is getrou. Die volgende dag het ons toe in die see gaan swem. Ek was daar net waar die branders breek en hy weer op ʼn sandbank ʼn entjie weg. Ek kon nie daar uitkom nie en het niksvermoedend my hand na hom uitgesteek en hom om hulp gevra. Hy het my skepties aangekyk en ek onthou nog so goed wat ek op daardie oomblik gedink het: Jinne, ou. Help my net. Dis mos nie ʼn groot ding wat ek van jou vra nie. Min het ek eintlik geweet hoe groot die oomblik is.

Hy het sy regterhand vir my gegee, maar niks laat blyk nie. Was dit toeval? het hy gewonder en dit raadsaam geag om eers weer met die Here daaroor te gaan praat. Die Here het toe ʼn Psalm en Spreuke 31 van die knap vrou by hom laat opkom.

Ek sal nooit die aand vergeet toe hy langs my op die bank kom sit het nie. Hy was baie ongemaklik toe hy my vertel het ek is sy trouvrou – nie seker hoe ek dit gaan hanteer nie – terwyl ek net al breër geglimlag het, want ek het dit al die eerste aand geweet. Ook was die Skrifgedeeltes so in die kol. Die Psalm was die een wat ek gelees het toe ek vir ʼn lewensmaat by God gesmeek het. Dit sê so mooi: Die Here het jou smeekgebed verhoor. En Spreuke 31 lê my al van kindsbeen af na aan die hart.

Maar ons ontmoeting was soveel meer as net liefde met die eerste oogopslag. Ons het dadelik ge-click. Dit het as’t ware gevoel of ons die draad opgetel het waar ons dit vantevore neergesit het, maar daar was nie ʼn vroeër nie.

Ons is besonder bevoorreg om nou al amper vyftien happily ever after-jare te hê. Niemand verstaan my soos hy nie. Hy is my beste vriend en gee die lekkerste drukkies in die hele wêreld. En hy lyk glad nie soos wat ek as jong meisie gedink het my droomman moes lyk nie, maar ek het nog nie ʼn aantrekliker man as hy op die aardbol raakgeloop nie. God weet beslis beter!

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>