Madeliefie in Namakwaland – Nellie Alberts (Uittreksel)

by Romanza
Madeliefie in Namakwaland – Nellie Alberts (Uittreksel)

Een

“When your ba-a-by, leaves you all alo-o-ne, and nobody calls you on the pho-o-ne, don’t you feel like cr-y-y-ing, don’t you feel like cry-y-y-ing? Come on ba-a-by, cry to me . . .”
Hanna neurie saam met die radio terwyl sy die kombuis opruim. Daar was omtrent ’n toeloop vanoggend vir die Madeliefie se Boereontbyt, seker omdat so baie reisigers in die karavaanpark oornag het, dink sy en skakel die skottelgoedwasser aan.
“. . .When you’re all alone, in your lonely room, a-a-and there’s nothing . . .” Sy draai die volume harder. Dié sestigerstreffer van The Staccatos bly ’n gunsteling. Sy kan dit nie help nie: Sy hou nou maar eenmaal van die Goue Oues. Haar lyf wieg ritmies heen en weer voor die spensrak terwyl sy die tertbestanddele uitsoek.
Sy voel goed vanoggend, glad nie huilerig of eensaam soos die lied suggereer nie – inteendeel . . . Dalk kom maak Innes vanoggend ’n draai. Hy is juis so gek oor suurlemoentert.
Toe die aroma van die terte in die oond die vertrek vul, hoor sy die geluid waarvoor sy heimlik luister: ’n Voertuig wat voor die Teekamer intrek. Sy kyk oor die tafels en stoele heen, uit by die groot uitstalvensters en sien ’n wit viertrekbakkie stop. Sy glimlag ingenome.
Die groot man in kakieklere wat die deur oopstoot, kyk rond in die vertrek tot hy haar raaksien. Hy haal sy keps af en vee deur sy hare.
“Hallo, boertjie, lank laas gesien. Hoe gaan dit met die skapies?” Innes Jansen, boer en veespekulant, voordanser by dorpsdanse en ’n man wat lekker kan soen, het so pas haar dag gemaak. Hy’s hier! Haar hart klop bly.
“So-so.” Hy glimlag flouerig, en vermy haar oë.
Gits, onthou sy, het hy nie Saterdagaand van fliek op Springbok gepraat nie? Sy het nog niemand gekry om vanaand na haar pa te kyk nie. O wel, dan is vanaand se fliek van die baan. Maar wat, hy ken mos haar pa se situasie. Hulle kan maar net lekker by die huis kuier; sy kan iets vir aandete maak.
Haar wange word effens warm by die gedagte aan die vuurwarm vryery op die stoepbank wat gewoonlik hul aande tuis afsluit terwyl haar pa salig slaap. Sy haal haar skouers op. Wat daarvan? Sy hoop hul verhouding is op pad na ’n trouring toe – hulle sien mekaar al meer as ’n jaar en hy het al dikwels in daardie rigting geskimp.
Hy kom sit by die toonbank en kyk rond vir ’n plek om sy keps neer te sit. Hanna leun oor die toonbank en soengroet hom. Hy soen terug, maar dit is nie so entoesiasties soos gewoonlik nie.
“O aarde,” probeer sy ’n grap maak, “moenie vir my sê die veediewe het al weer toegeslaan nie.”
Hy skud sy kop, en kyk haar met ernstige bruin oë aan.
“H’m,” terg sy. “Wat sal jou beter laat voel? Nog ’n soentjie?” Sy leun speels vooroor, maar hy sit effens terug op sy stoel.
“H’m . . . jy het nie dalk gewone koffie nie?”
“Wat! Gewone koffie? Niks boeretroos vir die boer nie?” Hanna hou haar stem lig, maar agter in haar kop tinkel ’n klokkie. Iets is nie reg nie.
“Iets ruik lekker. Wat bak jy?”
Hy kyk ongemaklik rond, enige plek behalwe in haar oë, besef sy verontrus.
“Suurlemoentert. Dit sal nou-nou gaar wees. Wil jy hê?”
Hy skud weer sy kop, kyk weg terwyl hy ’n lang teug van sy koffie neem. Hy sit die beker neer en leun met sy arms op die toonbank. “Ek moet met jou praat, Hanna.”
Instinktief weet sy dat wat gaan kom nie aangenaam sal wees nie. Dit is nie net ’n fliekafspraak wat gekanselleer word nie. Die klokkie in haar kop het nou ’n sirene geword. Sy vul haar beker hoewel sy nie eintlik koffie wil hê nie. “Praat maar.” Haar stem is stram.
Hy verskuif sy voete en staar woordeloos af in sy beker; die sirene het in ’n trompetgeskal verander. Die stilte rek en rek. Uiteindelik kyk hy in die rigting van die voordeur en rammel af: “Ek gaan binnekort trou, Hanna.”
Dit is asof ’n skoot koue water haar tref. Hoewel hulle nog nooit formeel oor ’n huwelik gepraat het nie, het hy dikwels na hul toekoms saam verwys. Dat hy gaan trou, kan sy glo, maar dat sy nie in die prentjie ingesluit is nie, het sy nooit verwag nie. Haar hart sak tot in haar skoene. Sy sluk swaar, probeer iets sê, iets wat haar ware gevoel verskans, maar haar tong wil nie werk nie. “O, regtig,” kry sy uiteindelik uit.
Hy kyk vlugtig op, met soveel ongelukkigheid in sy gesig dat sy moet wegkyk om nie in trane uit te bars nie. “Nou toe nou!” Sy veg om haar skok weg te steek, om ’n greintjie waardigheid te behou. “Is dit . . . iemand wat ek ken?” Sy sukkel die woorde uit.
“H’m . . . dis Stella van der Walt . . . van Springbok.”
Sy skud haar kop, druk haar bewende lippe opmekaar. “Ek ken haar nie.” Watter bisarre gesprek! Hoe op aarde het sy nooit eens ’n sweempie van ’n idee opgetel dat daar ’n ander vrou is nie?
“H’m . . .” Hy maak keel skoon, krap met sy vinger aan sy oor. “Sy is swanger, jy sien.”
Hanna staar hom met stokstywe oë aan; daar’s ’n gat waar haar maag moet wees. “Swanger?” Sy sluk. “En jy is . . . aanspreeklik?”
Innes antwoord nie. Hy kyk net by die venster uit.
Witwarm woede stuif deur haar lyf. Sy wil sy simpel, mooi gesig klap, die beker warm koffie oor sy kop omkeer, hom van die stoel afstamp. “So,” spoeg sy en probeer die bewing in haar stem onderdruk, “jy speel die heeltyd stoetram in die dorpe al langs die N7. Maandae is dit Stella op Springbok, Dinsdae is dit dom Hanna op Turatara en die Vader weet wie dit die res van die week is.”
“Nee, wag, dis nie so nie, Hanna. Ek . . .”
“Rêrig, Innes?” Haar stem is sarkasties. “As dit nie so is nie, hoe de duiwel het Stella van Springbok swanger geraak?” Sy weet as sy nie baklei nie, sal sy in trane uitbars.
Hy bly lank stil, sug dan. “Ek weet nie.”
Sy rol haar oë. Hoe naïef dink hy is sy? “Jy is ’n boer, Innes, en jy weet nie hoe sulke dinge gebeur nie?”
“Jy weet tog hoe ek oor jou voel, Hanna.” Hy leun vooroor.
“Nee.” Sy tree terug. “Nee, ek dink nie ek weet nie.”
Hy vee oor sy oë. “Ek moet my plig doen. Jy moet dit tog verstaan, Hanna.” Hy sug weer; skud sy kop. “Ek weet nie wat om te sê nie.”
Maar sy weet wat om te sê: “Totsiens, Innes, vaarwel, au revoir, hamba kahle . . . voertsek!” Sy kreet die laaste woord uit.
Sy gesig vertrek. “Hanna, asseblief, kan ons nie . . .?”
“Moenie vir my kom Hanna-Hanna nie.” Sy swaai om, reg om in die kombuis te verdwyn – voor sy sy hare een vir een uittrek en sy skene blou skop.
Sy sagte, diep stem stop haar in haar spore: “Hanna, ek wil nie hê ons vriendskap moet hieronder ly nie.”
Sy kan nie glo wat sy hoor nie. Wat ’n arme onnosele klip was sy nie! Hoe het sy nie oor daardie diep fluweelstem geswymel nie? Wanneer hy in haar oor gefluister het, het sy stem haar rilling op rilling gegee. Hoe kon sy so ’n kluit gewees het?
“Jou vriendskap beteken vir my baie, Hanna.” Hy staan op; kom nader. “Ek het gedink ons kan . . . gehoop ons kan so voortgaan.”
Hanna moet haar mond doelbewus toeklap; dit hang oop in verstomming. Sy kan eenvoudig nie glo wat uit die man se mond kom nie. Vriendskap, há! Hy wil nog steeds aangaan met ’n vryery agter sy vrou se rug! Hoe vermetel!
“Nee, Innes, die antwoord is néé! Kry . . . jou . . . ry!”
“Hanna . . .”
“En moenie vergeet nie: Die koffie kos twintig rand.”
Genadiglik pieng die voordeurklokkie en ’n gesin van vier kom ingestap vir ’n vroeë middagete. Sy los hulle terwyl hulle na die uitgestalde kwilte en ander items kyk, en begin vinnig ’n mengelslaai maak. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Innes sy keps op sy kop sit nadat hy eers onseker rondgestaan het, en toe by die deur uitstap.