’n Fiets vir twee – Ilze Beukes (Uittreksel)

by Romanza
’n Fiets vir twee – Ilze Beukes (Uittreksel)

Een

Die Saterdagoggendverkeer in die Kaap is druk; Benita se fietswiele sing oor die teerpad na die Argus Expo. Om te dink dit is net ’n jaar gelede wat sy hierdie pad met haar Mini Cooper gery het om haar ouers by die Expo te ontmoet.
Gelukkig het sy toe nog nie geweet dat hulle enkele ure later deur ’n noodlottige ongeluk van haar af weggevat sou word nie. Sy was buite haarself toe sy die nuus kry. Dit het soos haar einde gevoel. Min het sy egter geweet die ergste nagmerrie het toe eers begin. Wat daarna gebeur het, het haar onherroeplik verander. Sy spartel steeds om op haar voete te kom.
Net soos haar Facebook-terugblik vanoggend, gaan sy vandag terug soontoe – daar waar hulle vir ’n laaste keer saam was. Dit is nie asof hulle vir haar gaan wag nie . . . Die seerkry en teleurstelling gryp met seekatarms om haar keel; onverwagte trane gly oor haar wange. Sy vee dit vies onder haar fietsrybril weg. Vir ’n oomblik verloor sy beheer en haar fiets swenk regs voor ’n swart sportmotor in.
’n Toeter skel in haar ore en ruk haar terug na die werklikheid. Sy pluk die fiets net betyds voor die voertuig se wiele weg. Benita se hele lyf ruk en met lam bene hou sy net-net die fiets op die pad. Sy moet konsentreer. Die verkeerslig slaan oor na rooi; sy sug verlig en bring die fiets tot stilstand. Eers toe haar voete op vaste grond weerskant van haar fiets staan, loer sy versigtig na die swart sportmotor met die afslaandak wat langs haar staan. Haar hart hamer wild in haar borskas.
Die songesoende vreemdeling se frons is diep op sy voorkop ingekeep. Hy skud sy kop terwyl hy na haar kyk. Dit voel of sy etlike sentimeter in die teerpad kan insink. Sy kyk hoe hy sy vingers deur sy donker hare trek en dan stadig oorleun na haar kant toe. Gelukkig steek die duursame sonbril sy oë weg wat sekerlik vuur spoeg na haar.
“Ek het amper bo-oor jou gery! Jy moet kyk wat jy doen.”
Sy staan versteen en haal skaars asem. Hy draai sy kop weg en kyk voor hom uit. Sy blaas haar asem stadig oor haar lippe. Die man se optrede is heeltemal geregverdig – sy het dit verdien. Maar hoekom lyk hy so bekend? Van waar af ken sy hom? Dink, dink, dink. Sy loer versigtig terug. Die wind waai sy donker kuif heen en weer. ’n Spiertjie spring in sy een wang en sy hande span wit om die stuurwiel.
Soos ’n weersligstraal tref dit haar . . . Dit is wraggies Melt Richter, die fietsryer waaroor elke koerant en tydskrif deesdae kwyl. Sy het self op die punt van die bank voor die TV gesit toe hy laas jaar ’n been van die Tour de France-fietswedren gewen het. Sy knyp haar oë styf toe en kreun. Deksels, hoekom moet dit nou juis hy wees? Haar wange raak warm. Sy het self ’n onbehoorlike droom of twee oor hom gehad. Daardie drome het so pas onder sy wiele beland.
Toe die lig oorslaan, skiet die swart sportmotor voor haar uit. Sy begin stadig trap en voel effens dronkerig.


By die stadion sluit sy haar fiets toe met ’n slot en volg die stroom mense na binne. Ná ’n effense gesoek, kry sy die stalletjie waar hulle laas jaar vir haar ’n fietsryhemp gekoop het. Benita streel ingedagte met haar vingers oor die rye veelkleurige uitrustings. Sy het net hier gestaan, haar ma daar aan die oorkant, en toe hulle opkyk en sien hulle het identiese hemde uitgesoek, het hulle lekker gelag. Benita het toe nooit die volgende dag die Argus gery nie. Sy vryf oor haar borskas. Dit pyn fisies soos iemand wat slegte spysvertering het. Skielik voel sy benoud en kry nie asem nie.
“Als reg? Kan ek help?”
Sy kyk na die verkoopsdame en skud haar kop stadig. “Nee, ek kyk net.”
Die meisie knik en stap weg.
Naarheid stoot in haar op en die geraas om haar raak al dowwer terwyl die aarde spiraal. Dan het sy geen beheer . . .
Stemme kom teruggesweef, haar kop klop pynlik. Mense kyk af na haar. Onder haar vingerpunte voel sy ’n growwe mat en lig dan haar kop.
’n Donkerkopman staan gebukkend oor haar; die mooiste seeblou oë kyk bekommerd na haar. Sy hande beduie: “Staan terug, asseblief. Gee die meisie lug.” Dan is sy aandag terug by haar.
“Is jy oukei? Kan jy opstaan?”
“Ek dink so.”
Met sy een arm om haar en sy ander hand in hare, lig hy haar soos ’n veer van die grond af. Hy laat nie los voor sy op ’n stoel twee tree verder sit nie.
“Moenie omval nie; ek kry gou vir jou ’n energiekoeldrank.”
Terwyl hy wegstap na die yskas toe, voel sy nog die hitte van sy aanraking op haar vel. ’n Mens mis dit as niemand meer aan jou raak of vir jou omgee nie.
“Hierso, drink dié, dalk help dit.”
Haar mond voel nog droër terwyl sy na hom staar. Sy steek haar hand uit, hul vingers raak en elektrisiteit skiet tussen hulle. Hul oë hou mekaar ’n oomblik langer vas en sy voel hoe die hitte terugkruip in haar wange. “Dankie.”
Hy glimlag. Kuiltjies maak duikies in sy wange. “Jy het my groot laat skrik.”
Vir die tweede keer, dink Benita terwyl sy die helfte van die koeldrank dorstig wegsluk. Sy druk die doppie terug op die bottel en probeer stadig regop kom.
Melt se hand skiet na haar elmboog. “Stadig nou; staan eers ’n rukkie. Is jy saam met iemand hier?”
Sy skud haar kop. Sy moet hier wegkom en vars lug kry. Netnou tjank sy weer. Hy is so dierbaar, anders as vroeër. Dit betrap haar onkant.
“Dit lyk of die wind jou gaan omwaai. Wag, ek stap saam met jou uit. Ek is Melt Richter.”
“Benita Lamprecht. Dankie vir jou omgee. Ek sal verder regkom.” Sy tel haar rugsak op en swaai dit oor haar skouer. Haar bene voel van voor af lam en sy haal skaars asem terwyl sy na hom kyk. Wat is dit met haar? Is sy nie meer mans gewoond nie? Hy laat skoon haar binneste bewe.
“Ek dring aan.”
Sy voel hoe hy kort-kort na haar kyk terwyl hulle na die uitgang stap. Dit is die vreemdste dag ooit. Hoe sou sy ooit kon droom dat sy hom eendag sou ontmoet en dit onder sulke omstandighede?
“Dankie, Melt, ek is regtig oukei.”
Hy ignoreer haar teëpraat en bly by haar. Toe sy die rugsak oopmaak en haar pers fietsryhelmet uithaal, herken hy haar.
“Jy is die meisie wat voor my ingeswaai het met die fiets.”
“Ek is skuldig, jammer daaroor.”
“Het jy toe reeds sleg gevoel?”
Wil hy nou soos ’n ouer broer namens haar verskonings soek? Dit maak hom nog dierbaarder.
Sy skud haar kop. “Nee, ek het ’n simpel, gevaarlike fout gemaak.”
Hy lyk verleë terwyl hy met sy duim oor sy ken vryf. “Ek het net geskrik; my aanmerking was onnodig. Ons maak almal foute.”
Sy waai met haar hand. “Vergeet daarvan.”
“Ek het ’n fietsrak agter aan my motor. Kom, ek gaan laai jou gou af.”
Sy skrik haar lam – dit mag beslis nie gebeur nie. “Nee dankie. Ek sal regkom; jy is verniet bekommerd.”
“Sluit oop jou fiets. Jy kan nie so op die pad gaan nie.”
“Ek . . .” ’n Paar jong meisies stap nader en vra vir sy handtekening terwyl hulle soos verliefdes giggel.
Benita sluit intussen haar fiets oop. Hy staan agter die fiets; sy kan nie verbykom sonder om hom uit die pad te druk nie. Hy draai om en vat die fiets uit haar hande.
Sy baasspelerigheid is besig om haar op te werk. “Ek het jou gesê ek sal self regkom, dankie!”
Hy skud sy kop en stap vooruit asof sy niks gesê het nie.
Ná ’n rukkie kyk hy om en die terg blink in sy oë. “Kom jy, kwaaitjie? Ek probeer net die ander motoriste teen jou beskerm.”
Sy klap haar tong. “Dit was laag.” Haar hart fladder egter soos ’n verraaier s’n.
Benita verkyk haar aan sy perfekte bene waarin die spiere rondspeel terwyl hy na sy voertuig stap.
Terwyl hy die voordeur van die sportmotor vir haar oophou, daag sy seeblou oë haar uit vir ’n teenreaksie. Dit lyk of hy die speletjie geniet. Hy is seker lankal gewoond daaraan dat meisies hulleself voor hom gooi.
Net omdat sy dit haat om aandag te trek, sak sy af op die duur leersitplek van sy nog duurder sportmotor. Sy kyk vinnig weg toe ’n paar selfone in hul rigting wys. Mag sy asseblief nooit na haarself op die voorblad van ’n koerant kyk nie. Sy verkies dat haar blik wurms dig toebly. Dit is erg genoeg om elke dag met die vernedering saam te leef.
“Waar kan ek jou aflaai?”
“Drie blokke verder by Fishies . . . die viswinkel. Ek werk tydelik daar.”
Hy frons. “Ek koop soms seekos daar, maar ek het jou nog nie voorheen daar gesien nie. Is dit ’n studentewerk? Ek bedoel, swot jy nog?”
“Nee. Ek het opgeskop. Dis net ’n tydelike werk tot ek iets beter kry.”
Daar hang ’n stilte tussen hulle. Drie blokke voel nou vrek ver.
“Neem jy ook môre deel aan die Argus?”
“Nee. Ek moet werk.”
“Dalk ook maar beter so, veral oor wat vroeër gebeur het, en daar word reeds sterk wind vir môre voorspel.”
“Vir jou onthalwe hoop ek die weervoorspelling is verkeerd.”
“Ek ook.”
Benita voel hoe die sportmotor spoed verminder toe hulle nader kom aan Fishies.
Sy wys na die houthek. “Stop sommer hier.” Hy moet nou maar dink wat hy wil; sy gee nie meer om nie. Hul paaie skei hier.
Hy stoot die fiets na die hek.
Sy probeer dit by hom oorvat. “Dankie vir als.”
“Sluit oop die hek anders gaan jy met die fiets en die hek tegelyk sukkel.”
Haar hande bewe effens terwyl sy die sleutel in die houthek se slot draai. Haar moed sak in haar skoene terwyl sy die hek oophou. Sy wil haarself oortuig dat dit nie saak maak wat hy van haar dink nie, maar tog maak dit wel saak. Die reuk van visafval in die vullisdromme tref haar in die krop. Sy lig haar ken dapper en kyk hom waterpas in die oë.
Hy stoot die fiets deur die hekopening.
Sy sien die skok en verwarring op sy gesig.
“Waar presies bly jy?”
“In die kamer daar agter.”
Hy lyk heeltemal uitgeboul.
Sy trek haar rug regop en sal nooit erken dat haar hart saggies huil oor als wat haar tot op hierdie plek gebring het nie, en dat sy kaal voel voor sy oordeel. Die vernedering is swaar om te sluk. Sy wens hy wil nou gaan. Benita wag dat hy omdraai sodat sy hom nooit weer in die oë hoef te kyk nie.
“H’m . . . is jy seker jy is oukei, Benita? Kan ek nie iets vir jou doen nie?”
Sy hoor die omgee in sy stem. Dit irriteer haar egter nou. Hierdie situasie is haar werklikheid, haar vernedering. Dit maak dit erger. Sy trek haar rug nog regopper en daag hom uit met haar katoë. “Wat bedoel jy? Hoekom sal ek nie wees nie?”
Hy lig sy hand in ’n groet. “Kyk mooi na jouself.”
Toe hy die houthek agter hom toetrek, sluit sy dit en haar skouers val.
Benita stoot haar fiets verby die vol vullisdromme waar vlieë draai tot by die kamertjie aan die regterkant. Sy sluit die windverweerde houtdeur oop en stamp die halsstarrige ding oop. Die teleurstelling dat hy dit gesien het, laat haar ineenkrimp. Hy was haar sportheld tot vanoggend. Dit is ook nou deel van die verlede – net nóg een wat sy liefs nie wil onthou nie. Vernedering grawe met lang naels in haar siel.
Ná ’n hoofpynpil skop sy haar skoene uit en kruip diep onder haar ma se handgemaakte donskombers op haar bed in. Die hele vertrek en die badkamertjie langsaan ruik ekstra muf. Die gordynlose venstertjie aan die bokant van die oorkantste muur laat ’n dun strepie sonlig in, maar dit is te min om die koue uit haar siel te verdryf.
Sy trek haar kop toe, maar haar gedagtes maal en maal net verder – die skok in sy oë, die opregte besorgdheid soos waarmee ’n mens na ’n straatbrak sal kyk en wonder wat jy kan doen.
Met ’n sug gooi sy die donskombers van haar af en voel na vlug, maar waarheen? Die viswinkel is al ander plek wat sy deesdae ken.