’n Man in my Kerskous – Madelie Human (Uittreksel)

by Romanza
’n Man in my Kerskous – Madelie Human (Uittreksel)

Een

“Berna-kind, maak tog jou hare los en haal daardie uiloogbril van jou gesig af sodat ’n mens jou kan sien. Dis immers vakansie. Ek kan nie verstaan hoekom jy jouself so wegsteek nie. Jy het nie my suster se sletterige gene geërf nie; jy is so kuis as kan kom; jy hoef nie na ’n outydse skooljuffer te lyk om dit te bewys nie.”
Berna se naamgenoot en tante, Bernadette, weier om Tannie genoem te word en leef ’n lewe groter as die werklikheid. Haar vrye gees straal uit elke aspek van haar optrede en voorkoms. Haar hart is so groot soos haar lyf en haar onblusbare positiewe geaardheid maak dat een en almal vir haar lief is. Haar voorliefde vir baie bont klere en bonkige juwele laat haar meer soos ’n sigeuner-fortuinverteller lyk as die hardwerkende akademikus wat sy is. As dit nie vir hierdie uitsonderlike vrou was nie, weet sy nie so mooi nie. Sy het by Bernadette grootgeword terwyl haar eie ma die wêreld vol rondflenter op soek na die volgende man wat moontlik haar “meneer Perfek” mag wees.
Colette is wel die koket waarvoor haar suster haar gereeld uitskel. Elke keer wanneer hulle haar sien, het sy ’n ander man op sleeptou – die een se karakter minder perfek as die ander. Berna weet nie eens wie haar biologiese pa is nie. Gelukkig het Colette net die een kind gehad, en nie haar vele minnaars se gene op nog onskuldige kinders oorgedra nie – anders was hul familie dalk in totale chaos.
“Bernadette, moenie jou oor my bekommer nie. Ek is gelukkig soos ek is. Los my bolla en my bril; dit weer die ongevraagde aandag van allerhande oorlamse mans af.”
“As jy maar een van die oorlamse manne sal toelaat om jou ’n bietjie warm te vry, sal jy dalk bykom in die lewe,” brom Bernadette terwyl sy met die geklingel van vele armbande buk om ’n tuisgemaakte pizza uit die oond te haal vir aandete.
“Bernadette!” Ag, dit sal tog nie help nie; die uitgesproke Bernadette sal nooit verander nie. “H’m … die pizza ruik hemels. Kan ek vir ons wyn skink?”
“Asseblief tog, dalk laat die wyn jou so ’n bietjie ontdooi.” Bernadette sit die pizza op ’n houtbord, sny dit met ’n pizzasnyer en haal vir hulle borde en servette uit.
Berna lag rinkelend. “Fat chance.” Sy is gewoond aan haar tante se gekarring dat sy uit haar dop moet kruip en die lewe meer geniet.
“Ek het gedink . . .” begin Bernadette toe hulle elkeen met ’n glas wyn aan tafel sit.
“O nee, dit kan gevaarlik wees,” terg haar niggie.
Die ouer vrou ignoreer haar tussenwerpsel. “Die instituut skuld my ’n hoop verlof en die universiteit is buitendien nou toe vir die Kersvakansie. Kom ons gaan ’n bietjie see toe. Die strandhuis staan al vir meer as ’n jaar toe met die grendeltyd en alles. Die huis kan doen met vars lug en weer lewe. Ek en jy het dit verdien. Wat dink jy?”
Berna snuif kastig fyntjies die aroma van haar wyn in om haarself kans te gee om die voorstel te oorweeg. “H’m . . . kraakvars en vrugtig.” Moedswillig neem sy eers ’n slukkie en rol dit op haar tong terwyl Bernadette haar oë na bowe wend.
Haar tannie klik haar tong. “Wat dink jy van ’n vakansie by die see – nie van die wyn nie?”
Berna sit haar glas neer en sny ’n happie pizza af. “Dit kan werk as ek heeldag daar op die dek in die son mag lê en lees.” Dit is wat sy in elk geval beplan het vir die hele Desember hier by die huis.
Bernadette gooi haar hande in die lug. “Ag nee! Ek weet nie vir wat ek jou ooit leer lees het nog voor jy skool toe is nie, want jy het sedertdien nog nooit opgehou nie.”
“Lees maak jou nie dronk of vet nie en dit kan jou ook nie swanger maak nie. Books are a girl’s best friends. Skadeloos sou ek sê,” meen Berna, steeds in ’n moedswillige bui.
“Jy kan doen met een of sommer al drie daarvan vir al wat ek omgee. Live a little, girl. Have some romance in your life!” lamenteer Bernadette.
“Sê die vrou wat in dertig jaar nie een date gehad het nie.”
“Ek het my beurt gehad; dis nou jou beurt vir ’n romanse,” sê Bernadette ongeërg.
“Tel die lees van ’n hele sak vol Romanzas as ‘romance’? H’m, die pizza is amazing.” Sy help haarself aan nog ’n stukkie. “Wanneer wil jy see toe ry?” vermy Berna die holruggeryde onderwerp van haar afwesige liefdeslewe. Sy hap ’n stukkie pizza en kou dit smaaklik.
“Sodra ek my dringendste dinge by die instituut môre vroeg afgehandel kan kry. Van mariene biologie het ek nou heeltemal genoeg gehad vir hierdie jaar. Pak sommer jou tasse vanaand nog. Neem genoeg klere saam vir ’n hele ses weke, want ons kom nie huis toe voor ná Nuwejaar nie. En los tog die prim en proper juffroupakkies by die huis. Ons gaan om te ontspan. Bikini’s en sjoebroekies en so aan is al wat nodig is. Sit ’n aandrok of twee ook in; ons gaan die Meeubaaiers wys hoe ’n mens vakansie hou. Daar is glo ’n nuwe seekosrestaurant op Houtbaai waar ons kan dans ook.”
Berna lag. Wanneer Bernadette soos vanaand optree, is sy onkeerbaar. “Oukei, ek sal ná ete gaan pak. Solank ek my sak boeke mag saamneem.” ’n Hele maand by die see klink na net die ding wat sy nodig het ná hierdie rowwe jaar.
“Dis heeltemal hunky-dory, my skattebol, dié sal ek heel eerste inlaai,” sê Bernadette met ’n onheilige glinstering in haar oog wat Berna nie heeltemal vertrou nie.
Wat voer haar dierbare tante in die mou? Sy sal saam met haar see toe gaan, want dit sal lekker wees, maar dit is dit.