’n Tweedehandse lewe – Didi Potgieter (Uittreksel)

by Romanza
’n Tweedehandse lewe – Didi Potgieter (Uittreksel)

Een

Net ná die bordjie wat aankondig dat Soutstrand nog tien kilometer ver is, trek Carla van die pad af. Sy kan nie te lank stop nie, haar ouers wag seker al vir haar oproep om te sê sy is veilig by haar bestemming, maar sy het vars lug nodig. ’n Oomblik om asem te skep en ’n hernude houvas te kry op die moed wat haar tot hier gebring het. Sy klim uit en asem die skoon seelug in. Die wind ruk dadelik aan die blonde krulle wat uit haar poniestert losgekom het en sy druk dit vinnig agter haar oor in.
Sy hoor die stem asof die man wat dit so gereeld gesê het, agter haar staan: “Reguit hare pas jou baie beter. Dit is meer gesofistikeerd. Die krulle laat jou soos ’n kind lyk.”
Vir ’n oomblik knaag die onsekerheid weer aan haar binneste. Sy moes dalk weer gegaan het vir ’n Brasiliaanse uitblaas voor sy uit Pretoria weg is, maar daar was nie juis tyd nie.
Carla blaas die asem wat sy in haar longe gevange gehou het stadig uit. Sy moet Ernst se stem uitdoof as sy enigsins ’n sukses van die pad vorentoe wil maak. Sy is in elk geval nie meer ’n kind nie. Inteendeel, sy is vyf en dertig. Vyf en dertig, geskei, en stoksielalleen. Voeg heeltemal gek ook by daardie lys, want sy het ’n praktyk op Wie-weet-waar gekoop om kamtig oor te begin. Uitgeblaasde hare gaan niks daaraan verander nie.
Sy vou die truitjie wat sy aanhet stywer om haar.
Noudat sy hier staan en kyk hoe die vroeë oggendson diamantjies oor die water stoot, kan sy erken dat dit deels is om vir Ernst ’n punt te bewys dat sy hier is. Sy het die kans om vir hom te wys sy kan opstaan en aangaan sonder hom, met albei hande aangegryp. Hy was altyd so seker sy kan nie ’n sukses van haar eie praktyk maak nie en dat sy na haar ouers sou draai vir hulp die oomblik as dinge moeilik raak. En dit is daardie gedagte wat maak dat sy tien kilometer buite die dorp staan en veg teen die twyfel.
Sê nou hy is reg? Sê nou sy het nie wat dit verg om haar eie praktyk op die been te bring en dan nog ’n kind ook groot te maak nie?
Carla skud haar kop. Daar is net een manier om uit te vind of sy dit sal kan doen, en wie nie waag nie, wen nie. Ten minste het dokter Ernst Malan haar finansieel ruim vergoed vir die huwelikshel waardeur hy haar gesit het en kan sy bekostig om te probeer. Een troos is, as hierdie mal plan van haar nie werk nie, is dit Ernst se geld wat sy in die see gooi, nie haar eie nie, en dan kan sy terugval op haar plan B. Selfs plan C klink nie te sleg nie. Sy sal immers nie omgee om by haar ouers op die plaas te gaan bly en boervrou te speel nie. Die gedagte laat haar lag en sy konsentreer daarop om die glimlag in plek te hou toe sy terugklim in haar motor.
Voor sy wegtrek, trek sy eers haar trui uit en skakel dadelik die lugversorging aan. Alhoewel dit nou maar eers die begin van September is en nog taamlik vroeg in die oggend, brand die son klaar fel op die wit klippe langs die kuslyn. Sy hoop die son op hierdie plekkie sal finaal die koue in haar binneste ook kan verdryf.
By die eerste bordjie wat wys sy moet haar spoed verminder, haal Carla haar voet effens van die petrolpedaal af. Die omgewing verander in ’n oogwink. Die gras langs die pad is aansienlik groener as ’n paar meter terug en daar is bordjies wat alles adverteer – van die plaaslike kettingwinkel tot ’n restaurant wat glo die beste vis en skyfies in die Suidelike Halfrond verkoop.
“Hawehuis.” Lees sy die naam hardop.
Sy onthou die eerste keer so ses maande terug wat sy hier ingery het. Toe sy nog seer en stukkend was oor haar mislukte huwelik en sommer net kuslangs gery het in die hoop dat sy iewers langs die pad vrede of antwoorde sal kry. Sy moes hier afdraai vir brandstof, en toe die water haar wink, het sy ’n ewigheid op die strand gesit. Carla kan nie onthou hoe lank sy daardie middag net gesit en staar het na die diepblou see nie; wat sy wel kan onthou, is dat sy nie ’n ander siel op die strand gesien het in daardie tyd nie, en sy het stilletjies gehoop dat sy eendag op so ’n plekkie sal kan bly. Toe sy dus hoor van die praktyk op hierdie einste kusdorpie wat teen ’n appel en ’n ei te koop is, het sy vir die eerste keer in haar lewe ’n impulsiewe besluit geneem en die koopkontrak geteken sonder om die plek eers te sien. Sy blaas haar asem stadig uit toe sy verby nog ’n geroeste bordjie ry wat in helder kleure sê: “Welkom in Soutstrand”, en sy weet daar is nou nie meer omdraaikans nie.


Kobus skud sy kop ongelowig toe die antwoord uit die kamer langs syne is dat hy net nog vyf minute moet wag. Hy vryf sy hande deur sy hare en draai na sy pa. “Sy is nog nie eens ses nie. Hoe kan dit haar moontlik so lank vat om klaar te maak vir kerk?”
Sy pa skud die oggendkoerant reg, duidelik nie bekommerd daaroor dat hulle heel moontlik laat gaan wees vir die erediens nie. “Ses of sestig. ’n Vrou is ’n vrou. Daarom laat ek my nie weer in so ’n strik vang nie.”
Hy wil sy pa herinner dat die vrou waarvoor hulle nou wag, hulle albei om haar kleine pinkie draai, maar sy maak haar verskyning in ’n rok wat hy amper seker is hy nie gekoop het nie. Asof die blink lap nie genoeg is nie, het sy besluit om haar oë te grimeer met blou oogskadu wat hy ook nie weet waar sy dit gekry het nie.
“Gaan jy so kerk toe?”
Haar glimlag verbreed. “Ja. Lyk ek nie mooi nie?”
Sy pa staan op. “Jy lyk so mooi soos altyd, Elmi, my pop. Kom, anders kry ons nie ’n lekker sitplek nie.”
Kobus sluk elke negatiewe opmerking; hy twyfel of dit ’n verskil gaan maak en hulle is reeds laat. Toe hulle egter in die kerk sit en hy die mense se oë op sy rug voel brand, wens Kobus dat hy tog iets gesê het. Die hemel weet, dit is tye soos dié dat hy wens daar was ’n vrou in hulle lewe om inspraak te hê in Elmi se lewe, al is dit ook net om vir haar te sê dat rooi waterstewels nie by blink rokke pas nie – veral nie vir kerk nie. Hy weet wat is almal se opinie oor Elmi en die wyse waarop hy haar grootmaak. Die ouer dames, soos sy buurvrou, tannie Mavis, maak nie juis ’n geheim daarvan dat hulle voel dit is nie goed vir haar om so alleen tussen die twee mans groot te word nie. Hy weet ook alte goed dat hulle van mening is dat hy ’n vrou moet kry. ’n Sagte hand om te help om die wilde gees wat sy dogter het te tem.
As dit maar so maklik was, dink hy terwyl die dominee die afkondigings voorlees. Daar is nie baie vroue wat ’n tweedehandse lewe wil hê nie. Hulle wil nie ’n ander vrou se kind grootmaak nie, veral nie as daardie man duidelik nog nie oor sy vrou se dood is nie. Hy weet; hy het al probeer. Dit is in elk geval net te veel werk en hy het nie daarvoor ook tyd nie.
Daarom ignoreer hy die kyke en fokus eerder op die dominee se preek. ’n Sondagoggend in die kerk maak darem op vir die aande in die Hawehuis, en dit is tans die beste wat hy kan doen.


Carla stop voor die huis waar nog ’n bordjie wat nie die roes kon vryspring nie, aankondig dat dit dokter Frits Hattingh se praktyk is. Sy sal die bordjie moet vervang; dit is immers nou dokter Carla Nel se praktyk. Die gedagte roer ’n opgewondenheid in haar binneste. Ja, sy hardloop seker weg van die lewe wat sy in Pretoria gehad het. Sy ontken dit nie eens nie, maar sy het hierdie nuwe begin nodig hier waar niemand weet wie haar ma of haar pa is nie. Hier waar niemand weet dat sy vir agt jaar Ernst Malan, die talentvolle en uiters aantreklike, goedgemanierde, oneerlike, rondslaperige chirurg, se vrou was nie. Hier waar sy haar eie toekoms kan bou.
Sy haal haar foon uit om haar ma te bel, maar dit is Mieke se nommer waarop sy druk.
Mieke antwoord amper dadelik. “Carla! Haai, is jy al veilig op Soutstrand?”
“Jip, ek het so pas hier gestop.”
“Dit is baie goeie nuus. Hoe lyk dit daar?”
“Ek weet nog nie regtig nie. Ek sit nog in my kar en wag vir die nodige moed om in te gaan.”
“Wel, jy het die moed gehad om dit tot daar te maak. Al wat dit nou gaan vat, is nog een treetjie.”
Met toe oë sak Carla teen die rugleuning van haar motor terug.
“Sal jy op die lyn bly tot ek binne is, asseblief?”
“Jy weet ek sal.”
Carla haal die sleutel wat sy by die eiendomsagent op Somerset-Wes gekry het uit die paneelkissie. “Wat maak julle vandag?”
“Ons gaan later na Johan se ma-hulle toe vir middagete. Dan gaan ons die seuns vat om ’n entjie fiets te ry en hopelik maak dit dat hulle vanaand deurslaap.”
Haar vriendin se stem en die weergee van die alledaagse laat haar effens ontspan. “Ek mis julle.”
“En ons vir jou. Het ek al vir jou gesê hoe dankbaar ek is dat ek nie elke keer as ek met jou wil kuier, in Ernst Malan se gesig hoef vas te kyk nie?”
“Ek dink al so tien keer.”
“Wel, ek gaan dit nog tien keer sê.”
Carla lag en druk die sleutel in die slot. “Goed, nou is die oomblik wat jy jou asem moet ophou. Ek sluit oop.”
Sy kan hoor hoe doen haar vriendin presies dit. Carla stoot die krakende deur oop en die reuk van ’n huis by die see wat te lank toegestaan het, tref haar onmiddellik.
“Hou aan,” sê sy vir Mieke terwyl sy die foon steeds tussen haar wang en skouer knyp. “Ek wil gou die blinders oopmaak om ’n bietjie lig in te laat.”
Toe sy die tweede blinder oop het, wens Carla dit was nog donker. Elke moontlike oppervlak is bedek met ’n laag stof, en die oggendson wat deur die venster val, beklemtoon die enorme kraak bo een van die kosyne.
“Carla, is jy nog daar?”
“Haai, ja, ekskuus, ek moes net eers oor die skok kom.”
“Is dit so erg?”
Carla byt haar lip effens te hard voor sy ’n antwoord het. “Kom ek stel dit so, daar is nie ’n manier wat ek byvoorbeeld môre die praktyk sal kan oopmaak nie.” Sy gaan sit op een van die lendelam stoele in wat sy vermoed die wagkamer is en dink eerder nie aan hoe vuil dit is nie. “Op die oog af kan ek reeds vir jou sê dat behalwe vir die feit dat die plek eers behoorlik skoongemaak sal moet word, ek dit duidelik moet laat uitverf ook.”
Sy noem nie die los kroonlys wat sy nou raaksien nie.
“Wel, maat,” kom Mieke se stem gerusstellend. “Rome is nie in een dag gebou nie.”
“Jy is reg. Dankie vir die moed inpraat, maar ek sal nou moet gaan. Ek het nog nie my ouers laat weet ek is veilig nie.”
“Sterkte en dankie vir die bel. En Carla?”
“Ja?”
“Jy hoef nie sleg te voel as jy besluit om nie vir hulle te vertel hoe die plek lyk nie.”