’n Tyd om te dans – Lizelle von Wielligh (Uittreksel)

’n Tyd om te dans – Lizelle von Wielligh (Uittreksel)

Een

Die houtdeur klik toe agter die laaste groep ballerinas. Christelle Streuders asem luid uit. Wat ’n besige jaar! Maar dit was goed. Haar dansskool se getalle het nog eens gegroei, hulle het hard gewerk en sy twyfel nie eens daaraan dat hulle volgende jaar ’n balletkonsert op die planke sal kan bring nie. Hoe lank droom sy al daaroor?
Sy soek na haar beeld in een van die enorme spieëls teen die muur. Met perfekte balans bring sy haar hakke na mekaar toe en sprei haar voete uit. Nou net ’n geringe aanpassing aan haar postuur sodat dit fier en regop, dog sag en vloeiend vertoon. Haar arms kom laastens by om die eerste posisie te voltooi.

Sy het al op sewe begin ballet. Dit het ure en ure se toewyding geverg om die onnatuurlikste passies sprokiesagtig te laat lyk. Geen inspanning of konsentrasie mag gewys word nie. ’n Mens versteek dit agter ’n glimlag, maak nie saak of bloed deur jou puntskoene week nie. Sy was nog nie ’n dag spyt daaroor nie. Vandag kan sy haar passie aan ander ballerinas oordra terwyl sy haarself nog steeds daarin verlustig.
Daar is ballerinas wat tot in hul veertigs dans. Dit is ook haar voorneme.
Haar selfoon lui. Ligvoets dartel sy oor die vloer na haar handsak in die hoek.
“Haai, my engel. Ek het vergeet ons het vanmiddag ’n vergadering en my pa wil niks daarvan weet dat ek dit misloop nie. Ek sal seker eers vyfuur hier kan loskom en sesuur by jou kan wees. Hoe laat verwag jou ma-hulle ons vanaand?”
“Jy behoort dit darem nog te maak. My ma het gesê sy wil eers seweuur eet.” Sy sug heimlik. Dit is te verstane dat Carl Ferreira se ouers al hoe meer van hom verwag. Hulle besit immers die vooruitstrewende Kranskop Motors. Tog het sy so uitgesien om weer ’n middag op Streuders Landgoed te kom. “Maar wag, miskien moet ek dan vooruit saam met my pa en oom Bertie ry. Hulle is juis nou op Kranskop om onderdele te koop.”
“Oukei, dan kry ek jou maar later daar.”

Hy klink afgehaal maar sy maak of sy dit nie hoor nie. Die plaaslewe staan hom glad nie aan nie en dit is nie reg dat hy van haar verwag om haar liefde daarvoor af te sterf nie.
Ná hulle afgelui het, bel sy haar pa. Hulle spreek af dat hy en sy voorman haar oor ’n uur by haar woonstel sal kry.
Haar hart verwarm toe sy haar selfoon in haar handsak bêre. Vandag vier hulle haar pa se nege- en-vyftigste verjaarsdag. ’n Mens sal nooit sê hy kan al amper aftree nie. Nie dat hy enige sulke planne koester nie. Daarvoor is hy te aktief betrokke by sy boerdery. Sy kry hom net jammer omdat Carl nie die toekomstige skoonseun is waarop hy gehoop het nie. Dit is sy hartsbegeerte dat een van sy skoonseuns saam met hom sal boer. Nou is Elanie en Konrad, haar ousus en swaer, egter tandartse in Kanada en Carl ’n verkoopsbestuurder.

Haar ma, aan die ander kant, is weer baie in haar skik met haar dogters se keuses van lewensmaats – hare uiteraard voorlopig. Die plaas lê haar ma nie so na aan die hart nie. Sy sou veel eerder op die dorp wou bly. Op vyf en vyftig lyk sy ook nog goed. Dit raak net al hoe moeiliker vir haar om haar veroudering teë te werk. Natuurlik kla Health and Beauty op Kranskop nie daaroor nie. Dis net jammer al hul behandelings en peperduur rome is nie ’n wonderkuur nie. Plooie en die liggaam se agteruitgang is onafwendbaar.
Onvermydelik gly haar oë oor haar figuur. Hoe gaan sy dit eendag hanteer wanneer sy haar soepelheid verloor? Wat nog wanneer sy nie meer kan dans nie? Dié vrae ontstem haar so baie dat sy die musiekspeler summier weer aansit. Haar pa sal nie omgee om tien minute vir haar te wag nie.
“Almost Lover” klink op. Soos altyd pluk dit genadeloos aan haar hartsnare. Sy wil weer afbuk en die liedjie oorslaan. As ’n reël vermy sy dit soos pes. Maar die woorde het reeds soos ’n fratsgolf oor haar geslaan: “You took my hand and danced with me. Images.”

Beelde van einde graad elf spring voor haar geestesoog op. Oujaarsaand. Die grootmense het hul eie spoggerige partytjie op Streuders Landgoed gehou terwyl die hoërskoolkinders weer op Holkrans, die buurplaas, om ’n kampvuur in die holkrans gedans het.
Wynand Fouche het haar vir die laaste liedjie voor middernag vir ’n dans kom vra.
“And when you left you kissed my lips. You told me you would never, never forget these images.”

Sy kry skoon hoendervleis en rol haar hand voor haar uit. Haar voete volg die beweging. Dramaties tree sy vorentoe en draai en pointe, haar arms hoog bo haar uitgestrek. Hul maats het die laaste sekondes van die oujaar begin aftel. Sy en Wynand het oogkontak gemaak en dit behou. Die spanning was voelbaar tussen hulle.
Dit het egter al vroeër die vakansie begin toe hulle alleen in die bergpoel gaan swem het en sy sussie nie soos gewoonlik kon saamgaan nie. Hy wou haar seker van haar voete af duik, maar toe sy hande om haar sye vou, het hy gevries en stadig opgekom. Vinnig het hy sy hande teruggetrek. Hulle was nog nooit so ongemaklik in mekaar se teenwoordigheid nie.
Op drie, twee, een het sy kop oor hare gebuig. Sy lippe het ’n uitgerekte oomblik aan hare geraak. Dit was haar eerste soen.

Haar een hand gly met ’n boog terug na haar lyf, die ander een val sommer slap terug. “Goodbye, my almost lover. Goodbye, my hopeless dream. I’m trying not to think about you. Can’t you just let me be?”
Haar nek knak vorentoe. Sy sluit haar brandende oë en asem diep in. Sekere drome kan nie met harde werk verwesenlik word nie. Hulle moet vergeet word, veral jeugliefdes van vyf jaar gelede.
Toe ruk haar ken omhoog en kyk sy haar blou oë met die grys spikkels reguit aan. Watse verspottigheid is dit nou met haar? Sy is lankal oor hom. Buitendien gaan sy en Carl die naweek ’n verloofring in die stad uitsoek. Hy het net op die regte tyd in haar lewe gekom. Uit die staanspoor was hy mal oor haar. Dit het haar gekneusde ego gestreel. Daarby is hul ouers huisvriende. Alles het goed uitgewerk.

Sy kyk op na die muurhorlosie. Aarde, sy beter wikkel.
Net voordat sy wegtrek, vang haar oog die naambord hoog teen die gebou: Christelle Streuders Dansskool. Wat meer kan sy van die lewe vra? Haar binneste krimp pynlik. Oorhaastig gee sy vet en byt op haar tande. Ten minste kon sy hierdie een droom verwesenlik. Laat sy eerder daarop fokus, en haar en Wynand s’n vergeet.