Nogtans sal ek jou liefhê – Magdaleen Walters (Uittreksel)

by Romanza
Nogtans sal ek jou liefhê – Magdaleen Walters (Uittreksel)

Een

Waar die smal paadjie vanuit die berge by die pad na Keswick aansluit, word die poskoets in die modderige sneeu tot stilstand gebring.
“Mejuffrou Eloise Clark?” Die koetsdrywer roep ongeduldig voor van die bankie af, asof die dag met al sy teenspoed en frustrasie vir hom te lank geword het.
Eloise kom strammerig orent en vind haar weg oor skoene en verby knieë deur toe. Dis met moeite dat sy op die been bly toe sy met die sak met tannie Maxine se materiaal in haar arms uit die koets steier en enkeldiep in die vars sneeu trap.
Ná die bedompigheid van die beknopte koetsruim is die buitelug ’n ysige skok op haar sisteem. Die storm wat die afgelope twee dae in Carlisle gewoed het, het ook hier sy merk gelaat. Die ganse wêreld om haar is met ’n glinsterende kombers toegemaak. Die enigste versteuring in die ongerepte wit is die modderige merke wat die dag se wiele en perdepote in die pad gemaak het. Voor die koets staan die stoom op die span perde se warm lywe, en sy sien hoe die koetsier hom dieper in sy kombers inwoel.
“Waar’s die mense wat jou hier moet kom haal, Juffrou?” Die man klink omgekrap, asof dit haar fout is dat die kruispad geen wagtende perdekar oplewer nie.
“Hulle sal seker nou-nou hier wees.” Die woorde klink selfs vir haar onoortuigend. Die poskoets is met meer as twee uur vertraag. Higgens, oom Henry se butler, sou beslis nie so lank vir haar gesit en wag het nie. So ’n vermorsing van tyd sal oom Henry eenvoudig nie duld nie.
“Dis nie verstandig vir jou om alleen hier te wees nie.” Die koetsier sê dit soos ’n teregwysing.
Sy trek haar asem in om hom gerus te stel, maar die posbeampte roep ongeduldig van sy plek agterop die koets. “Ons is reeds ure oor ons tyd, koetsier!”
Meer hoef die man in sy intimiderende swart- en-maroen drag nie te sê nie. Die twee stukkende wiele wat hulle langs die pad opgedoen het, is die een deur ’n klip en die ander deur ’n gat onder die sneeu veroorsaak. Dit was onvoorsiene omstandighede. As die vertraging egter deur ’n persoon veroorsaak word, kan ’n boete gehef word.
Die sweep klap en die perde kom in beweging.
Met die sak teen haar lyf vasgedruk, staan Eloise die koets en agternakyk tot die rammeling daarvan net ’n eggo in die verte is. Die stilte is ysig. Geen wind wat deur blare roer nie. Geen voël wat roep nie.
Dis vir haar duidelik dat niemand haar hier gaan kom haal nie.
Oom Henry is waarskynlik erg omgekrap omdat die koets nie op die gegewe tyd opgedaag het nie. Sy kan hom eintlik hoor en sy ontevrede gesig voor haar geestesoog sien.
“Dan moet sy maar stap!” het hy waarskynlik uitgeroep toe Higgens sonder haar teruggekeer het Chisendale Place toe. “Sy kan tog nie van ons verwag om heeldag te sit en wag vir iemand wat ons uit die goedheid van ons hart ingeneem het om haar die werkhuis te spaar nie . . .”
Onrus roer in haar. Die sonstrale skitter in ’n illusie van goud op die sneeu oor die berge, maar dis nou net ’n kwessie van minute, dan gaan die son onder wees. Nog ’n hand vol minute later, en dit gaan donker wees. Dank die genade sy het Higgens se koetsspore wat sy deur die wit landskap kan volg en dat dit vannag volmaan is. Sy weet dit, want sy het Higgens so hoor sê.
“Woensdagaand is dit volmaan, dan roep die wolwe weer hier in die Sca Fell,” was sy presiese woorde. Waarop oom Henry hom daarop gewys het dat hier nie meer wolwe in Engeland is nie. In Skotland is daar dalk nog ’n verdwaalde paar, maar hier is dié ongediertes lankal uitgeroei.

“Die jaartal is 1808, Higgens,” het hy uit die hoogte laat hoor. “Ons is nie meer in die sestienhonderds nie.”
Die blote gedagte aan wolwe is egter genoeg om haar onrustig om haar te laat rondkyk. Reguit aan, soos wat die koets gery het, lei die pad na Keswick. Agtertoe lê Penrith, waar hulle vroeër stilgehou het om perde te ruil. Die pad wat die berge in kronkel, sal haar na haar oom en tannie se huis neem. Chisendale Place, ’n verbeeldinglose, platgesig- dubbelverdiepinggebou langs die pad met die bome naaste aan die huis alles weggekap, asof hulle nie welkom is so na aan Henry Grubbs en sy gesin nie. Of dalk het die bome sommer een nag besluit om weg te loop, teen die steiltes op, of af met die vallei, net om buite hoorafstand te kom van tannie Maxine se skerp stem.


Met ’n gevoel van gelatenheid haak sy die sak se band oor haar skouer en begin sy al met die wielspore langs stap. Dis nie die eerste keer dat haar oom haar die drie myl van die kruising af huis toe laat loop nie. Sy het egter nog nooit nodig gehad om dit ná donker te doen en dit boonop in die sneeu nie.
Eloise sug. Dis iets wat sy nogal gereeld doen die laaste ruk, hoewel nie met opset nie. Dalk raak haar lyf op dié manier van haar moedeloosheid ontslae. Sy is soos ’n kastrol wat op die vuur staan en prut. Van tyd tot tyd moet die deksel lig en ’n asemstoot stoom uitsug, anders gaan die spulletjie oorkook.
Die beeld van ’n kastrol wat warm en gesellig op ’n vuur staan en prut, laat haar oë waterig voel van honger en koue. Sy het gisteraand in Carlisle laas iets te ete gehad, en dit was ook maar slegs ’n skeppie van die roerpap wat haar ma berei het. Sy kon niks te ete langs die pad koop nie, want sy het elke pennie in haar besit vir haar ma gegee. Nou is haar maag een groot, hol kol.
Die nag daal geluidloos. Die een oomblik is daar nog ’n rooskleurige skynsel bokant die westerkim, die volgende oomblik is alles grys. Dis asof die sneeulandskap asem ophou vir iets om die stilte te verbreek. Gelukkig kom die maan vanaand vroeg op. Teen die tyd dat sy die skeur in die berg bereik waar die stroompie deurvloei, hang die maan vol en rond in die lugruim. Hier lei die pad haar egter in die skadu’s tussen die steil hellings in.
Sy stap reguit aan, maar haar rug trek hol. Dis asof daar oë is wat haar uit die donker bosse volg, ’n ander asem as hare is wat in wolkies in die aandlug wegraak. Sy ril en trek die sjaal hoër op dat dit haar nek ook kan toemaak. Genade, maar dis koud. Saggies nou. Maar haar voetstappe knars in die sneeu en vertel enigiets met ore dat sy hier stap. Dit voel haar haar hartklop moet ook hoorbaar wees.

Dalk moet sy aan iets lekkers probeer dink. Iets soos . . . warm sop. Warm water in die waskom op die tafeltjie in haar kamer. Warm, droë kouse aan haar voete.
Toe ’n lang, uitgerekte tjankgeluid die stilte versplinter, laat val sy amper die sak. Daardie geluid is veel nader as wat dit netnou was. Sy gaan staan en staar grootoog om haar, hou haar asem op om beter te luister, maar die gekerm kaats in eggo’s van die berghange na haar terug sodat sy geen idee het van waar die geluid kom nie.