Om te vlieg – Jeanette Stals (Uittreksel)

Om te vlieg – Jeanette Stals (Uittreksel)

Een

“Ek dink jy sal die werk baasraak.” Die man oorkant die lessenaar moet al ouer as sestig wees. Hy praat Engels met ’n swaar Duitse aksent terwyl fletsblou oë na Meriet kyk. “Jy kan die einde van die maand hier begin.”
Meriet se mond is kurkdroog. Sy het nie verwag die onderhoud sou summier op ’n werksaanbod uitloop nie; gedink sy sou ’n dag of twee hê om te besluit. Maar sy móét wegkom uit Upington. Weg van die hartseer en onsekerhede wat die egskeiding in haar lewe gebring het. Sy wil nie só voortgaan nie, maar ’n nuwe werk en om ook nog te verhuis voel soos ’n groot sprong in die duister.
Sy trek haar asem in en blaas dit weer stadig uit. Sy het nou eenmaal besluit op verandering, en as sy gaan spring, lyk hierdie mooi wynplaas buite Paarl na ’n goeie plek om te land.

Muller druk sy hande op die lessenaar en kom op uit sy stoel. “Ek vlieg vanaand terug Duitsland toe en wil gou nog die wynkelder vir jou wys.”
Hy neem self die voortou met die gang af. Die groot, ultramoderne geboue staan teen die berghang en die proelokaal aan die voorkant is heeltemal van glas. Die uitsig oor die vallei is asemrowend. Maar voor hulle daar kom, draai Muller links en loop in die kort gang by vier deure aan weerskant verby. Twee is kleedkamers en die ander twee deure staan toe. Aan die einde van die gang is ’n trap, en Meriet moet uithaal om by te hou toe Muller voortstoom na onder.

Hoe laer hulle gaan, hoe kouer word dit.
Onder grondvlak ruik die lug anders – dit is die geur van gistende druiwe, besef sy. Buisligte hoog teen die dak voer ’n stryd teen die halfdonker. Groot tenks van vlekvrye staal glim teen die agterste muur en nader lê rye houtvate. Sommige is groot, ander kleiner. Dit herinner aan ’n grafkelder.
’n Man kom agter een van die staaltenks uit. Hy is lank en het iets wat lyk na ’n stortkeps op sy kop. ’n Wit oorjas, bloujeanbene en waterdigte boots is al wat sy verder in die swak lig kan uitmaak.
Die vreemdeling loop hulle tegemoet en toe hy naby is, sien Meriet die frons tussen sy wenkbroue. Hy kom hulle nie verwelkom nie, eerder keer dat hulle dieper die kelder ingaan. ’n Verkeersman met so ’n snaakse uitrusting? Sy onderdruk ’n laggie en toe die man se frons dieper keep, sluk sy haar lag heeltemal weg.

“Dis ons wynmaker, Le Roux,” galm Muller se stem deur die stilte. “En hierdie dame is Meriet Delport. Sy begin oor twee weke in die kantoor werk.”
Regtig? Sy het nog niks aanvaar nie en Muller beskou dit as ’n uitgemaakte saak dat sy kom. Kry hy altyd sy sin?
“Aangename kennis. Noem my sommer Meriet.” Sy lig haar hand, maar laat dit weer sak, want die man hou ’n glaspipet en ’n maatstok in sy hande.
Sy oë kyk nie regtig na haar nie, eerder dwarsdeur haar. In die swak lig verraai sy gesig – ’n sterk ken en effense haakneus – ook niks. Dalk opgekropte energie? En die uitrusting bly vir haar vreemd. Hy is vreemd; soos ’n wese uit die buitenste ruim. Sy sou hom in ’n kinderstorie kon inpas. Die held of die skurk? As sy die gesig net beter kan sien, veral die oë, sal sy weet.
“Dagsê.” Sy gedempte stem bring haar terug en vir ’n oomblik is dit asof die onbekende oë met ’n vraagteken direk in hare kyk. Voor sy kan reageer, draai hy om en gaan terug na waar hy besig was; gee hulle dus ’n koue skouer.
Muller is nie van stryk gebring nie. “Hierdie kelder is die hart van Adlerhof en een van die modernste in die land. Ons vervaardig wit- sowel as rooiwyn hier. Nie groot hoeveelhede nie, maar net die beste. Dit alles sal jy nog leer.”