Omdat alles sin maak by jou – Elsa Winckler (Uittreksel)

by Romanza
Omdat alles sin maak by jou – Elsa Winckler (Uittreksel)

Een

Christie steek haar arms uit en vat klein Xander by Karina. “Kom sit, jy verdien ’n ruskans.”
Met ’n sug sak Karina langs Christie op die bank neer. “Wat ’n vreemde Nuwejaarsdag. Ons land is terug op vlak drie as gevolg van ’n tweede vlaag van Covid en daar is gerugte die inperking gaan nog strenger word. Vreemde tye, nè?” Met ’n grinnik leun sy nader aan Christie en fluister: “Nou is dit nog net jy en Reinier wat nie getroud is nie.”
“Ug!” kreun Christie en gee Xander terug vir sy ma. “Jy ook nog. Dis al wat almal vandag vir my sê. Seriously, julle hele lot is verlief en verlore en kyk na die res van die wêreld deur ’n pienk brilletjie. Ek kan jou verseker daar is nie sprake van enigiets tussen my en Reinier Visser nie. Daar is nou maar net eenvoudig geen spark tussen ons nie. Soos in zero. Nie almal is so gelukkig soos jy en Debbie en Steyn om julle soul mates raak te loop nie.” Sy vat sommer ’n groot sluk van haar vonkelwyn. “Ek wonder wanneer ons weer kan begin werk, maar ten minste is die strande om die Kaap op die oomblik nog oop.” Karina skud haar kop laggend. “M’m, jy verander al weer die onderwerp soos elke keer wanneer iemand oor Reinier praat, maar oukei, ek speel saam. Ja, die Covid-ding is baie sleg, maar Januarie is gewoonlik ’n stil maand vir troues.” Sy grinnik. “En gelukkig is Debbie en Alec op honeymoon en steur hulle hulle nie aan die strande langs die Tuinroete wat nou toe is nie. Maar hoe voel dit om alleen saam met Mamma in die huis te bly?”
“Ek mis julle. Die boonste vloer is baie stil sonder jou en Debbie, maar ek en Mamma bly heerlik saam.”
Karina leun vorentoe. “Ek wil net hê jy moet weet wanneer jy ook wil trou . . .”
Christie skud haar kop beslis. “Dis definitief nie iets wat gou gaan gebeur nie.”
Karina steur haar nie aan die onderbreking nie. “Wanneer jy ook wil trou, onthou, Mamma is nie net jou probleem nie. Nie een van ons sal wil hê sy moet alleen in die groot huis agterbly nie, maar ons kinders sal saam na ’n oplossing soek.”
“Wel, gelukkig het ek geen plan om te trou nie, so ons het nie ’n probleem nie.” Christie spring op.
Karina gryp haar hand. “Nie so haastig nie. Onthou jy daai trourok wat jy aangepas het toe ons Debbie se trourok gaan soek het?”
“By die driehonderdste winkel waar ons in is?”
Karina lag. “Dit was darem net twaalf, maar ja, by die laaste winkel.”
Christie druk haar hand teen haar hart. “Oe, ek droom nog oor daai rok, natuurlik onthou ek dit. Die kant, die lae rug, die klokmoue – dis net só presies die soort rok wat ek eendag sal wil hê.”
“Wel, ons het dit vir jou gekoop.”
Christie hap in die lug. “Wat bedoel jy?”
Karina wieg vir Xander heen en weer in haar arms. “Net wat ek sê. Ek, Mamma en Debbie het die rok vir jou gekoop. Dit hang in die kas hier in my spaarkamer.”
“Julle is heeltemal troubetotteld, julle weet dit, nè? Ek is nie eens saam met iemand op die oomblik nie.”
“Wel, ’n mens weet nooit. As ek iets oor die afgelope paar maande geleer het, is dit dat dinge baie vinnig in dié familie gebeur.”
Christie kreun hardop. “Ek gaan nog vonkelwyn soek.”
Terwyl Karina heerlik lag, stap Christie vinnig na die tafel waar die wyn en vonkelwyn staan. Vandat Karina en Debbie, haar twee susters, met twee van die Visser-broers getroud is, is dit ’n tergery of en wanneer sy en Reinier, die enigste ongetroude Visser-broer, by mekaar gaan uitkom.
Sy en Karina en Debbie het tussen trourokke grootgeword. Terwyl Steyn met die bure se kinders in die strate gespeel het, het hulle drie sussies tussen blomme en trourokke en hulle ma en haar kliënte kammatroues gehou en feëverhale opgevoer. Haar gunstelingstorie was Aspoestertjie. Die prins het haar so gesoen, sy het daarvan wakker geword. Dís die soort soen waarop sy nog haar hele lewe wag – die een wat sterre laat ontplof en jou wakker skud.
Maar hier teen dertig besef sy al hoe meer die feëverhaal is nie noodwendig vir almal bedoel nie en sy gaan beslis nie trou net omdat almal om haar getroud is nie. En daai soen wat jou laat sterre sien, is ook dalk maar net iets wat in ’n feëverhaal gebeur.
Die hele troumanie het begin toe hulle broer, Steyn, sy vrou, Leen, op Greyton ontmoet het. Van die oomblik dat hulle getroud is, is dit asof almal skielik troukoors het en al onderwerp waaroor gepraat word, is wie volgende gaan afhaak. Die enigste mense wat nog nie getroud is nie, is sy en Reinier – skynbaar ’n eindelose besprekingspunt onder hulle onderskeie families.
Christie kyk vinnig deur die groot leefvertrek terwyl sy vir haar nog vonkelwyn ingooi. Leen se susters, Livie en Bella, en hulle mans is ook vandag hier op die Vrydag by Karina en Conrad om die nuwe jaar te vier. Kathleen se pa, oom Willie, kuier sedert Kersfees by haar en Steyn en hy het ook saamgekom vir die dag. Hy en haar ma sit en gesels land en sand op die bank.
Met die glas in haar hand, loer Christie so onopsigtelik moontlik grondlangs. Dankie tog, sover is daar nog geen teken van Skim nie.
Dié hond het sy verskyning gemaak toe Leen in haar tant Peet se huis op Greyton gaan bly het op dieselfde tyd wat Steyn die kothuis agter die huis gehuur het om te herstel van ’n skouerbesering. Volgens Leen en Steyn was Skim die rede hoekom hulle in mekaar se arms beland het – dieselfde storie wat Livie en Bart, asook Wian, die oudste van die Visser-broers en sy Bella vertel.
Ná Wian en Bella se troue het almal gewonder of hulle weer vir Skim sal sien en sowaar, die hond het al die pad Kaap toe saam met die twee gery om seker te maak Conrad en Karina kom bymekaar uit. Sy is dus maar versigtig vir Skim. Sy was by toe hy einste hier op Karina en Conrad se stoep seker gemaak het Debbie beland in Alec se arms.
Sy is egter nié van plan om ’n hond toe te laat om haar lewe se koers te verander nie en sy wens regtig almal wil ophou wonder oor haar en Reinier.
Sy geniet haar lewe en is mal oor haar werk. Sy en haar susters is al drie betrokke by Perfekte Troues, die besigheid wat haar ma lank gelede reeds begin het. Karina is die fotograaf, Debbie leef haar passie as fyngebaksjef uit en sy wat Christie is, doen die blomme.
Soos haar susters, het sy ook verder gaan swot. Sy het uiteindelik as geoktrooieerde rekenmeester gekwalifiseer, maar sy het vinnig besef dis nie haar passie nie. Reeds van skooldae af help sy haar ma met die funksies se blomme, en toe haar ma vra of sy nie daarmee wil voortgaan en die besigheid se finansies oorneem nie, was dit ’n baie maklike besluit om ja te sê. Behalwe dat sy elke dag doen wat vir haar groot vreugde verskaf, werk sy ook saam met haar susters en haar ma – haar hartsmense.
Vandat sy met blomme begin werk het, het sy begin lees daaroor. Sy wou alles weet: Waar kom die blom vandaan, watter blomme behoort aan dieselfde families, watter grond is vir watter blomme die beste, ensovoorts, ensovoorts.
Sy het op agtien Venessa Diffenbaugh se The Language of Flowers gelees en het toe al met ’n joernaal begin waarin sy die betekenis van die verskillende soorte blomme neerskryf. Dis lankal nie meer vir haar nodig om ’n blom se betekenis na te slaan nie, sy ken dit uit haar kop, maar haar joernaal is een van haar kosbaarste besittings. Sy maak ook sketse by die inligting oor elke blom, heerlike terapie saans ná ’n lang dag.
So ja, sy is single, maar sy is baie gelukkig en sy het allerhande planne. Sodra Covid verdwyn en ’n mens weer kan reis, wil sy graag haar ma Toskane toe neem. Dit was nog iets waaroor sy en haar susters gepraat het, maar voor hulle hulle planne kon deurvoer, is Karina getroud en net daarna het Covid reis onmoontlik gemaak.
Iewers vorentoe sal sy dalk iemand ontmoet en trou, maar die enigste persoon wat haar op die oomblik hinder, is Reinier Visser, en hy is nie die soort hinder met wie ’n mens trou nie.
Die vae fladderings wat die man op haar maag veroorsaak, kon sy tot dusver ignoreer. Soos sy broers, is hy ook belaglik aantreklik. Dis al wat die fladderings beteken. Soos enige volbloedvrou waardeer sy ’n mooi man, maar fladderings is nie dieselfde as die vonke wat gespat het van die begin af tussen haar twee susters en die mans met wie hulle uiteindelik getroud is nie. Dis net fladderings. Nie sparks nie. Glad nie sparks nie.
Met donker hare en stukkies blou hemel vir oë, laat knak Reinier heel waarskynlik die meeste vrouens se knieë; die ligte bewegings op die krop van haar maag is dus heeltemal te verstane. Skynbaar neem hy gereeld girls uit, vertel sy broers. Nie dat sy hom al ooit saam met ’n vrou gesien het nie. Hy bring nooit ’n date saam na ’n familiekuier nie en sy het ook nog nooit ’n foto van ’n girl op enige van sy sosialemediablaaie gesien nie.
Sy frons. Kan dit beteken hy’s gay?
“Kan ons praat?” vra ’n stem agter haar. “Ek wil iets met jou bespreek.”
Dis einste Reinier wat agter haar staan. Christie maak seker sy glimlag breed voor sy omdraai. Daar is beslis geen vonk nie, maar vandat sy hom die eerste keer gesien het, maak hy haar . . . kriewelrig. Tot dusver het sy hom probeer ignoreer en sy sorg ook dat sy so min moontlik met hom praat.
Maar twee van haar susters is met twee van sy broers getroud, wat beteken hulle gaan mekaar noodwendig dikwels sien. Sy kan hom nie die hele tyd vermy of ignoreer nie; sy moet ’n manier vind om die vent ten minste te verdra.
“Hallo, swaer!” Vrolik klink sy haar glas teen Reinier s’n. “Op die nuwe jaar!”
Hy lig sy wenkbroue terwyl hulle glasies klink. “Jy glimlag vir my – wat is fout?”
“Hoekom sal iets fout wees?”
“Wel, jy glimlag en jy praat met my – dit het nog nooit gebeur nie. Vandaar my vraag.”
“Ag, toe nou. Dis nie so erg nie. My Nuwejaarsvoorneme is om met almal vriendelik te wees.”
Hy knik. “Interessant. Maar oukei, dit maak dit makliker om met jou te gesels.”
Sy neem ’n groot sluk van haar vonkelwyn. Miskien moet sy gaan water soek, haar kop voel nou baie vreemd en netnou sê sy iets waaroor sy môre spyt is. “Solank jy net nie ook voorstel ons moet ’n fling hê nie. Dis al wat ek nog vandag gehoor het, maar ek stel regtig nie belang nie. En dis niks persoonlik teen jou nie. Behalwe dat daar hoegenaamd geen spark tussen ons is nie, is ek glad nie in die mark vir ’n fling nie. Op die oomblik is ek single en baie happy, dankie. Trou wil ek beslis eendag, maar nie nou al nie. So geen flings vir my nie.”
O flip, sy praat heeltemal te veel en sy het die woord fling seker nou ’n honderd maal gebruik, maar hy sê nie ’n woord nie en sy ploeter voort. “En ek weet nie, miskien is jy gay en stel jy glad nie eens in vrouens belang nie. En dis ook orraait, hoor? Ek het baie gay pelle en . . .”
Daar is ’n lig in sy oë wat sy glad nie vertrou nie en haar woorde raak weg. Sy gee ’n tree agteruit.
Maar hy kom nader. “So jy het al oor ons en ’n fling gedink? Interessant.”
“Dis nie wat ek sê nie!” roep sy heeltemal te hard uit en word bewus van almal se koppe wat in haar en Reinier se rigting draai. Sy sit haar vonkelwyn neer en gryp sy hand. “Kom ons praat die ding nou eens en vir altyd uit.”
Sy stap in die rigting van die stoep. Warm vingers vleg styf met hare. Wat het haar besiel om die man se hand te gryp?