Perfekte pasmaat – Joléne de Jager (Uittreksel)

Saterdag staan Madelie rustig op. Die kantoorklere wat sy gister uitgehang het, hang sy terug in haar kas. Sy is lus vir iets ligters. Sy besluit op ’n bont broekpakkie met plat skoene daarby. Die skoene is al redelik lank gedra, maar dit is baie gemaklik. Toe sy na haar beeld in die lang spieël kyk, is sy tevrede. Sy is sommer lus om te dans en te trippel.

Toe sy by die kantoor inkom, is Marius natuur­lik voor sy rekenaar en blykbaar baie besig. Hy kyk vinnig op.

“Goeiemôre, Madelie, dit lyk asof dit goed gaan?”

“Dit gaan goed, dankie.” Sy pak die goed wat sy gebring het in die kas en haar handsak in die ander kas.

“O ja, Madelie. Toe ek gisteraand by die huis kom, onthou ek eers dat ons twee nog nie die werk op Saterdae bespreek het nie. Dit is nie ’n gewone werksdag nie, hoewel sommige van die vennote tog inkom. Ek werk maar Saterdae omdat daar nog so baie werk is wat ingehaal moet word en dit is buitendien baie stil. Jy kan self kies of jy wil werk of nie. Ek moet byvoeg, ek is baie bly om jou te sien.”

“Ek het om dieselfde redes as joune ingekom. Ek het gewonder of julle Saterdae werk, maar ek het in elk geval maar gekom, ek het mos sleutels om in te kom.”

“Jy bly net duskant ’n wonderwerk. Baie min mense wat ek ken, sal werk as dit eintlik ’n afdag is. Baie dankie, ek waardeer dit.”

“Dis ’n plesier.” Sy trek haar rekenaar nader en begin werk. Sy wil die lofliedere liewer vermy.

Na ’n uur of wat staan hy op. “Ek gaan vir so ’n uur die gebou verlaat. My volgende kliënt wil ek sommer in ’n koffiekroeg ontmoet. Ons is ou ken­nisse en dit werk net beter as ons ontspanne is. Antwoord maar die telefoon terwyl ek weg is, jy sal weet wat om te sê.”

“Geen probleem nie, ek sal so maak.” Sy kyk hom agterna toe hy uitloop, ’n lang skraal man, netjies in sy donker snyerspak. Sy sal ook graag eendag ’n man wil hê met ’n wegstap soos Marius s’n. Sy kon­sentreer maar dadelik weer op haar werk.

Toe daar ’n harde klop aan sy deur is, skrik Madelie. Die deur gaan oop en ’n mooi vrou met lang donker hare kom in. Sy doen haar bes om te kalmeer.

“Goeiemôre, kan ek help?”

“Waar is Marius du Plooy?”

“Hy is nie nou beskikbaar nie, het u ’n afspraak?”

Die vrou sug en ’n frons sit soos ’n spinnekop tussen haar oë. “Nee, ek het nie, ek kom gewoonlik sommer in.”

Madelie staan met sy dagboek in haar hand, pen gereed. “In verband waarmee wou u hom sien?”

“Dit is privaat.”

“Kan ek u naam kry?”

“Nee, jy kan nie, ek sê mos vir jou dit is privaat.”

Madelie byt haar wang raak maar hou haar stem egalig. “Ek sien. Kan ek dan vir u ’n afspraak maak, dan is u seker dat hy hier sal wees.”

“Nee, ek wil nie ’n afspraak maak nie, ek sal hier wag. Hoe lank sal hy weg wees?”

“Ek het geen idee nie.”

“Watter soort sekretaresse is jy? Jy moet mos vra hoe lank hy weg sal wees.”

Teen hierdie tyd kook Madelie se bloed. “Ek is nie ’n sekretaresse nie, ek is sy hofklerk.” Sy sit Marius se dagboek saggies op haar lessenaar neer. Sy moet versigtig wees, anders het sy die vrou met die ding gegooi. Sy gaan sit ook by haar lessenaar en gaan aan met haar werk. Sy doen haar bes om die ongeskikte vrou te ignoreer. Intussen bid sy aanmekaar dat Marius so gou moontlik sal terug­kom. Hy is nog net ’n halfuur weg.

Sy pak solank haar goed in haar handsak en sit dit langs haar neer. Die oomblik wat Marius by daardie deur inkom, is sy uit. Dan kan hulle die pri­vate sake op hul gemak bespreek. Sy vorder nie juis met haar werk nie; baiemaal moet sy iets tot drie keer herlees voor sy seker is wat daar aangaan.

’n Uur en ’n half lank sit die vrou en rondskuif op haar stoel voor die deur oopgaan en Marius haastig inkom. Hy steek vas.

Madelie keer dadelik. “Meneer Du Plooy, ek loop nou. Die dame wou nie vir my enige inligting gee nie.”

Sy loop vinnig deur toe en loer oor haar skouer toe sy dit agter haar toemaak. Toe sy verder loop, lag sy saggies. Die uitdrukking op Marius se ge­sig toe hy die vrou in sy kantoor sien, was iets om oor te lag. Dit het nie juis gelyk asof haar teen­woordigheid in sy kantoor ’n heerlike verrassing is nie. Toe sy met hom gepraat het, het hy vinnig en vraend na haar gekyk, asof hy Madelie se hulp dringend nodig het. Se voet! Hy moet maar die vroue in sy lewe self hanteer. Op pad huis toe koop sy ’n heerlike groot koek net vir haarself. Nie te veel kalorieë nie, jy gaan vet word en dan sal niemand van jou hou nie. Sy snuif deur haar neus – pure ydelheid. 

Toe sy die voordeur oopmaak, is Zakkie by en hulle loop gesels-gesels kombuis toe. “Ja, ou Zak­kie, jy het baie te sê vandag. Met jou in die huis sal ek nooit alleen voel nie.”

Zakkie staan voor die yskas en kerm asof sy hart wil breek. Madelie lag. “Haai, ekskuus my kat, is jou kos op?”

Dit tref haar mooi tussen die oë. Sy ruk die ys­kasdeur oop en daar staan die kat se bakkie kos steeds propvol in die yskas. Sy moes dit sowaar vanoggend met haar deurmekaar kop daarin gesit het in plaas van op sy bekende plek op die vloer. Sy haal dit uit en sit dit net daar op die vloer neer – en die kat eet. Sommer sulke groot happe gaan maag toe en tussenin miaau hy, seker net om te wys hy is nie hiermee tevrede nie.

Sy gaan sit kruisbeen op die vloer en streel Zakkie sag oor sy rug. “Ek is baie jammer, my skat, baie jammer. Dit sal nie maklik weer gebeur nie.” Later, toe dit lyk asof hy nou versadig is, staan sy op en gaan haal ’n koekie waaraan hy kan kou uit die boksie. Die koekies is net vir nou en dan, en die kat is regtig lief daarvoor. Hy los dadelik sy gewone kos, drink ’n paar slukkies water en met die koekie in die bek draf hy die trappe op na haar slaapka­mer toe.

Madelie maak vir haar ook ’n toebroodjie, ’n reg­te stapelbroodjie met tamatie, kaas en fyngesnyde biltong. Saam met lekker koffie sluk sy dit gou weg. Sy onthou dat die koek wat sy gekoop het, nog op die rak staan en skuif die ander goed in die yskas rond, sodat die koek ’n staanplek het.

Met die kat se gedoente het sy skoon vergeet van die vrou in Marius se kantoor. Hy het sleg ongemaklik gelyk; miskien moet sy hom maar die voordeel van die twyfel gee.

Die luiheid oorval haar en sy loop stadig die trappe op. In haar kamerdeur steek sy vas. Zakkie lê in die middel van haar bed, omring van koekiekrummels en met sy oë groot die ene onskuld. Sy sug en tel die kat op en sit hom op haar stoel neer.

“Ek kan jou seker nie kwalik neem dat jy op my bed gemors het nie; ek moet op die een of ander manier gestraf word.”

Sy kry die duvet beet en skud die krummels met mening af. Toe vee sy die laken ook skoon en toe sy die duvet weer wil oorgooi, het kat se kind hom weer daarop tuisgemaak. Sy kan die lag nie keer nie.

“Jy toets darem vandag my geduld, waarde heer.” Sy skuif hom weg en gooi die duvet weer netjies op haar bed en toe dit klaar is, klop sy op die bed. “Jy kan maar opklim.”

Toe sy uiteindelik onder die duvet met die kat teen haar maag opgekrul lê, moet sy erken – die ge­sukkel met die kat het haar heeltemal van Marius en die ongeskikte vrou in sy kantoor laat vergeet. Oor die situasie kan sy nou maar net glimlag.

Die storieboek word nader getrek en heerlik ontspanne lê sy en lees. Sy is nie juis lus vir slaap nie. Sy het skaars weer die draad van die storie op­getel of haar selfoon lui. Dit is die hekwag.

“Hier is ’n meneer wat u wil spreek, juffrou Madelie. Hy sê hy werk saam met jou en sy naam is Marius.”

Liewe genade tog, sy sal nie hier kan uitkom nie. “Dankie, Paulus, jy kan maar vir hom oop­maak.” Sy loer vinnig in die spieël en die prentjie wat sy daar sien, is nie strelend op die oog nie. Sy besluit om haar hare net so te los, hy moet weet hy het haar gepla. Sy loop stadig na haar voordeur toe en voor sy kan oopmaak, lui die klokkie. Sy frons en besluit om net ’n minuut te wag voor sy oop­maak, en toe sy dit uiteindelik doen, het hy die styl om skaam te lyk.

“Ek is baie jammer, Madelie, maar ek moes net my hart kom skoonmaak. As jy die ysterdeur ook oopmaak, kan ons dalk gemaklik sit terwyl ek my boete kom doen.”

Sy kan die glimlag nie keer nie; so het sy hom nog nooit gesien nie. Sy maak oop en sluit weer alles agter hom toe. “Kom sit gerus.” Sy wys na die gemaklike stoel en gaan sit self op die bank. “Waar­oor wil jy praat?” Vriendelik.

“Ek kom namens die ongeskikte vrou om ver­skoning vra. Ek het regtig gedink ek is teen hierdie tyd al ontslae van haar, maar sy sit soos klitsgras.”

“Jy is darem seker nie verantwoordelik vir ander mense se slegte maniere nie.”

“Seker nie, maar dit is jammer dat sy haarself daar ingelieg het terwyl jy alleen in die kantoor was. Ek verstaan van haar dat jy jou perfek gedra het, net soos jy aangesê was, en dat dit haar tot in haar wortels geïrriteer het.”

“Wie op aarde is dit, Marius? Ek sou nie nor­maalweg gevra het nie, maar aangesien sy jou blykbaar net soveel as vir my geïrriteer het, kan ek seker maar vra.”

“Natuurlik, dit is waarom ek hier is. Margaret was met my neef getroud. Ek en my neef was baie lief vir mekaar en ek was strooijonker op hulle troue. Sy is ongelukkig een van die soort vroue wat haarself nie kan help nie – waar sy kom, moet al wat man is, dit ontgeld. Sy is daarvan oortuig dat sy vir mans onweerstaanbaar is. Dit het al op die huweliksonthaal begin en sy het vir ’n paar jaar haar bes gedoen om my te vang. Ek en my neef het daaroor gepraat en hy het gesê ek is nie haar enig­ste slagoffer nie. Hulle is geskei en my neef het hom in Australië gevestig, maar dit was nie lank nie, of sy sit hom agterna. Hy moes later ’n restraining or­der teen haar kry en het haar nie weer gesien nie. Ek is jammer dat ek al die detail vir jou gee, maar op dié manier kan ek my eie woede ontlont.” Hy bly stil en sy kom agter dat sy oopmond sit en luister.

“Nee, dis reg. Gaan gerus aan.”

“Nee, dit is nie reg nie. Dit was ongelukkig dat ou Margaret juis daar aangekom het terwyl ek ’n hewige onderonsie met Maas gehad het. Hy word nou net soos doktor De Vries, en noudat hy hier die grootbaas is, doen hy alles in sy vermoë om die wêreld vir die vennote en veral my onleefbaar te maak. Die ergste is dat ek maar die knie moet buig en maak soos hulle sê. Ek was dus woedend toe ek in die kantoor inkom en met die eerste oogopslag jou gesigsuitdrukking en die tweede vir Margaret oor die stoel gedrapeer gesien het. Jy kan jou daar­die gevoel nie eens voorstel nie.”

“Ek dink ek kan. Ek het jou nog nooit so woedend gesien nie. Ek het self geskrik en gemaak dat ek wegkom. Wat het toe gebeur?”

“Ek het net eenvoudig die telefoon opgetel en dadelik die polisie gebel; gevra vir ’n restraining or­der. Sy wou nog hier en daar, maar ek het net die deur oopgemaak. Toe het ek gesê ek moet ’n kliënt gaan spreek en as sy nie die res van die naweek in die kantoor agter geslote deure wil deurbring nie, moet sy maar liewer loop.”

“Wat sy toe gedoen het?”

“Sy het onmiddellik geloop.”

Madelie skater van die dag. “Ek sou dit graag wou sien, maar toe ek daar weg is, was ek self woedend. Dit was net die kat daar by jou voete wat my laat afkoel het.”

Hy buk en tel hom op. Zakkie sien ’n kans as hy hom kan kry. Hy spin dat hoor en sien vergaan. “Wat is die dierbare kat se naam?”

“Zakkie. Hy is ’n Royal Rex, pikswart met kort, golwende hare ’n wit pensie. Ek wou juis geselskap in die woonstel gehad het toe ’n vriendin van hom ontslae wou raak. Hy is dierbaar en baie slim.”

“Ek het jou nog iets kom vra, en hierdie keer vat ek nie nee vir ’n antwoord nie. Kom ons gaan drink en eet iewers iets en na die duiwel met Maas en De Vries se reëls. Ek het vir die res van die dag goeie geselskap nodig. Hoe lyk dit?”

“Ek het geen probleem daarmee nie en ek het ook goeie geselskap nodig. Neem die volgende in aanmerking. Nommer een – ek is deurmekaar, gekreukel en lui. Nommer twee – ek het ’n yslike koek in die yskas wat ek nie in die volgende maand sal kan opeet nie en ek is baie lus vir daardie koek. Jy kan my gerus help om dit kleiner te maak. As ons later nog lus is om te eet en jy het die tyd, maak ek vir ons ’n lekker en vinnige pastagereg. Ek belowe ook dat ek in die loop van die kuier nie een keer sal probeer om jou na my kamer toe te lok nie.”

Hy lag. “Dit klink goed. Hier kan ons lekker ontspan; ek kan seker selfs my skoene uitskop.”

Madelie steek ’n kaal voet na hom toe uit. “Wees my gas – die swak vertaling van die Engelse spreekwoord.”

Die bloed galop deur haar are, maar sy voel ook effens ongemaklik. Sy het dit die afgelope tyd reggekry om net in vriendskap saam met hom te werk. Dit het net mooi begin werk en nou kom hy by haar huis aan om verskoning te vra vir die vrou­mens en sy slegte bui. Sy kan hom mos nie die deur wys nie, sy moet hopelik nog lank saam met hom werk, of in elk geval vir dieselfde firma. Sy maak die koffie met lekker skuim en sny die koek, en die snye is nie onnodig klein nie. Toe dek sy die klein tafeltjie in die sitkamer met bekers en bordjies en dra die koek vorentoe.

Sy oë rek. “Is jy seker dat dié koek nie vir iemand anders gebêre moes word nie?”

Madelie kan die lag nie keer nie. “Ek weet nie presies wat my planne met hierdie koek was nie, maar dit het so lekker gelyk dat ek dit sommer voor die voet gekoop het. Nou het ek gelukkig iemand om my te help eet.”

“Ek belowe ek sal my bes doen.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>