Potlode en pinotage – Louise van der Merwe (Uittreksel)

by Romanza
Potlode en pinotage – Louise van der Merwe (Uittreksel)

Een

“’n Strawberry daiquiri, asseblief,” sug Sonja ’n bestelling uit voor sy kreunend by die kroegtoonbank gaan sit en haar moeë voete deur die bandjies van die hoëhaksandale probeer vryf. Dit is nou wraggies nie speletjies om die hoofstrooimeisie se hoofstrooimeisie te wees nie, mor sy in haar enigheid terwyl sy vlugtig wonder hoeveel strooimeisierokke al in haar kas hang.
Hierdie troukoors onder haar vriendekring, kollegas en familie het alles begin toe Christelle en Joshua afgehaak het. Almal was heel gelukkig en tevrede met hul status tot dié tweetjies vyf jaar gelede die knoop deurgehaak het. Nou het omtrent almal al so op ’n streep getrou behalwe sy, natuurlik. Haar sprokiestroue gaan duidelik net dit bly: ’n sprokie.
Daar is darem een voordeel wat sy hieruit trek, veral vir iemand wat soos sy ’n baie voorspelbare bestaan voer – sy het nou al groot dele van Suid-Afrika gesien as gevolg van die trouvenues wat oor die hele land versprei was. Finansieel tap dit tog ’n mens se spaargeld; hopelik eindig dit sommer ook nou hier by Nicola se troue. Die hele malligheid het by die Steyns begin – dit maak dus net sin dat dit by hulle moet eindig ook!
“Bride or groom?” word die gewone aanknopingsvraag gevra deur ’n baie aantreklike blonde kroegman.
“Bruid,” antwoord sy en voel sleg dat sy so kortaf klink en brei dan sommer onnodig ’n rapsie verder uit om op te maak vir haar onvriendelikheid: “Eintlik is ek hier vir die hoofstrooimeisie. Die tweelingdogtertjies is skaars drie maande oud. So, ek moet vir haar instaan by die bruid as sy hulle moet versorg. Dankie,” glimlag sy dankbaar toe haar pienk drankie voor haar neergesit word en vat ’n lang, dorstige teug. “H’m, perfek!”
“Die plesier is myne,” skok ’n swaar aksent haar oë oop wat sy met genoegdoening toegemaak het terwyl die soet vloeistof koud in haar keel afgly. “Ethan Brooks,” stel die man homself bekend, en sy sluk amper haar tong saam met ’n sug in toe sy glimlag twee perfekte kuiltjies vertoon.
“Sonja Fourie,” erken sy die groet en skud sy hand.
“I get that a lot,” grinnik hy en verduidelik toe sy nie reageer nie: “Die surprise oor ek Afrikaans praat.”
“Dit moet jou aksent wees,” spot sy met ’n glimlag.
“H’m, ek het gewonder wat my weggee,” terg hy terug met mosgroen oë wat ondeund vonkel.
“Jy is nie ’n gebore Suid-Afrikaner nie, is jy?” vra sy belangstellend en hy beloon haar weer met ’n glimlag vol kuiltjies wat haar uitasem na haar strawberry daiquiri laat gryp vir versterking.
“Wat laat jou so dink?” vra hy met pretduiweltjies wat nou openlik in sy oë dans.
“Jou manier van praat: Dit klink voller en meer geaksentueerd as die gewone Suid-Afrikaanse Engelssprekendes,” probeer sy hom opsom.
“British,” erken hy met ’n breë glimlag terwyl hy terugstaan en ’n paar glase begin droogvryf.
“British soos in Brittanje?” vis sy nuuskierig verder uit.
“Soos in King and Queen of England British, ja,” bevestig hy met ’n uitspattige buiging wat ’n giggel by haar keel laat uitborrel.
“En wat het jou Suid-Afrika toe gelok? Moet net nie vir my sê die groot vyf of die weer nie,” lag sy openlik geïnteresseerd vir die man voor haar.
“Beslis die leeus wat in die strate rondloop,” spot hy gemaklik met die wanindruk wat sommige buitelanders nou nog van Suid-Afrika het.
“Sonja!” roep iemand haar en sy wens vir ’n oomblik sy kan maak of sy dit nie gehoor het nie, so lekker gesels sy met hierdie aantreklike vreemdeling.
“Haai, Joshua,” groet sy outomaties toe hy by hulle aansluit.
“Christelle wil net weet of jy asseblief my suster oor so tien minute kan gaan help uittrek; sy is op pad om die tweeling te voed en Stephan wil aanstaltes maak om lughawe toe te ry.”
“Geen probleem nie,” antwoord sy meer opgewek as wat sy voel en begin vinniger aan haar drankie teug om klaar te kry.
“Dankie,” sê hy voor hy na die kroegman toe draai. “Het jy ’n droë wit per glas beskikbaar en dan ook ’n still water, asseblief?”
“Ouerskap doen jou goed,” glimlag sy vir Joshua terwyl sy nog so onopsigtelik moontlik die kroegman in die oog probeer hou. “Ek kan amper nie glo dit het alles begin by ’n baie buitengewone projek waarby ek nog betrokke was nie.”
“Ek vat elke dag maar nog soos dit kom; Christelle is die eintlike Superhero – sonder haar weet ek nie wat ek sou gemaak het nie. En dan het Walter en Bella ons seker ook so ietwat voorberei,” erken hy met ’n grinnik en verander die onderwerp: “Chris vertel my jy is op soek na ’n nuwe pos?”
“H’m,” begin sy en maak eers haar drankie klaar voor sy antwoord: “My beheerliggaampos se kontrak het reeds einde verlede jaar geëindig. Ongelukkig kon hulle my nie heraanstel vir nog ’n jaar nie, maar ek kon intussen vir ’n vriendin instaan wat met kraamverlof was. So, ja, ek is soos ek hier sit werkloos.”
“Hier is ’n pos oop by die plaasskool as jy belang stel,” tree Ethan weer tot die gesprek toe, en net sy glimlag wil haar sommer reeds vir die pos laat aansoek doen.
“Dis dalk ’n idee!” klink Joshua opgewonde. “Veral oor jy nou so onseker is oor wat jy wil doen. ’n Hele nuwe uitdaging in ’n heeltemal ander provinsie.”
“Natuurlik weet jy van my identiteitskrisis ook. Ek vergeet soms my beste vriendin is getroud met die liefde van haar lewe en deel alles met hom,” sug sy gemaak beswaard, wat Joshua laat lag. “Maar dis nie so eenvoudig nie. Ek sal tog graag meer wil hoor oor die plaasskool, maar die bruid het my nou nodig,” wend sy haar tot Ethan.
“Gaan,” verseker hy haar met ’n verlammende glimlag. “Ek maak solank nog ’n daiquiri; ek het nêrens anders om te wees nie.”
“Gaaf, dankie.”
“Sien jou dan later!” groet hy met ’n knipoog wat haar hart ’n opgewonde skop laat gee.
Sonja, wat makeer jou dat jy so begaan oor ’n vreemdeling se aandag raak? Dalk druk die fyn San Brett die toevoer van genoegsame suurstof af wat na haar brein toe moet gaan waar haar gesonde verstand sit.
Sy was nou al by meer as genoeg troues om te weet enige sogenaamde konneksie met ’n man gaan nooit rêrig verder as die trounaweek nie. Met al die romanse en liefde in die lug word hulle maklike teikens vir ’n vinnige blitsromanse want mansmense weet vroue is op hul weerloosste by ’n troue en vat deeglik hul kans daarmee. Wel, sy het nuus vir meneer ek-is-vrek-sexy-in-’n-pak-en-met-dimpels; sy val nie meer vir daardie set nie!
“Ek is hier om te help,” antwoord sy outomaties op Nicola se vraag aan Christelle of iemand haar sal kan help met haar rok se magdom knopies nes sy ingestap kom.
“Sons, jy weet nie hoe baie waardeer ek al jou hulp vandag nie,” glimlag Christelle stralend terwyl sy die fyn haartjies van die baba se koppie afvee wat op haar bors rus.
“Sonja tot die redding,” grinnik Nicola en wikkel haar skouers soos die knopies een vir een begin losspring onder haar vingers.
“Hierdie rok is seker die heel mooiste ontwerp ooit, Nicola. Dis presies hoe ek nog altyd gedroom het my rok eendag moet lyk. Jy is geniaal, weet jy?” prys Sonja eerbiedig.
“Hou jy regtig so baie van my trourok?” vra Nicola eerlik verbaas.
“Ek sal my voortande saam met my linker- en regterkleintoontjie gee vir so ’n rok,” adem sy steeds in vervoering. “Dalk nog my pinkie ook, maar dan weet ek nie hoe ek my klas tot tien gaan leer optel en aftrek sonder ’n konsternasie nie.”
“Nou maar goed,” lag Nicola. “Dan is die rok joune.”
“Wag. Wat? Ek bedoel: ekskuus?” skok sy tot stilstand.
“Die rok is joune,” glimlag Nicola stralend terwyl sy uit die lae voue klim.
“Jy is nie ernstig nie,” verloor sy amper haar stem.
“Ek is doodernstig. Ek het twee identiese rokke laat maak. Seker maar ’n gewoonte wat ek in die industrie geleer het om altyd ’n backup te hê. So, die een,” wys Nicola na die rok wat nou soos ’n meringue op die vloer pof, “gaan opgepak en droogskoongemaak word om vir my gebêre te word, en daai een agter die deur is nou joune. Gratis en verniet.”
“Sjoe, Nicola, dis ’n uiterste groot voorreg, maar genugtig: Dis ’n astronomiese geskenk om net so uit te deel!”
“Jy verdien dit; jy het hard gewerk om alles perfek uit te voer. Alles het foutloos verloop as gevolg van jou,” verseker Nicola haar.
“Ek kan jou belowe ek het regtig geen betaling nodig nie; ek het dit uit die liefde van my hart gedoen vir jou en Christelle.’
“Sons, sê net dankie, man!” raas Christelle bewoë met haar.
“Verskriklik baie dankie,” fluister sy ook nou met trane in haar oë.
“Daar is net een voorwaarde,” sê Nicola gemaak ernstig. “Ek is die enigste een wat verstellings aan die rok kan en mag maak.”
“Natuurlik,” stem sy nog in ’n dwaal in.
“Ek is langer as jy en natuurlik platter,” grinnik Nicola terwyl sy oor haar borsmaat streel. “Maar ek kan sommer sien hoe jou rondings die rok juis tot sy volle reg sal laat kom. Wag, laat ek ophou klets. My man wag vir my. Kan julle glo? My man!”
“Wat het so pas hier gebeur?” vra sy vir Christelle toe Nicola soos ’n warrelwind by die kamer uitstorm.
“Jy het so pas ’n one-of-a-kind ontwerperstrourok verniet gekry,” antwoord haar vriendin reëlmatig terwyl sy die baba in haar arms verskuif om die volgende enetjie te begin voed.
“So, ek het my nie verbeel nie,” mymer sy droomverlore terwyl sy na die rok agter die deur stap en die ritssluiter ooptrek. “Hierdie rok kos seker so drie maande se salaris, weet jy? Nee, seker ses, as ’n mens in ag neem hoe gewild haar ontwerpe begin raak!”
“Jip, nou moet jy nog net ’n man kry,” spot Christelle openlik met haar.
“Ag wat wou, ek en Marcelle het besluit as ons nog nie teen veertig ons eie lewensmaats het nie, dan trou ons sommer met mekaar.”
“Dit sal die dag wees. Hierdie trourok is die begin van groot dinge vir jou, juffrou Sonja Fourie. Noem dit jou lucky charm. Jy gaan die liefde van jou lewe ontmoet, en hy gaan jou voete so finaal onder jou uitslaan, jy gaan nie eers omgee as hy sy taal mix nie.”
“Ag, jy is nou sommer laf,” probeer sy Christelle se entoesiasme so ’n bietjie stuit.
“Ek sê jou vandag, my liewe Sons, voor hierdie tweeling begin loop, beplan ons jou troue in daai skepping van ’n droomrok!”