Soeter as fudge – Lizelle von Wielligh (Uittreksel)

by Romanza
Soeter as fudge – Lizelle von Wielligh (Uittreksel)

Een

Jonette Malan kyk op haar polshorlosie. Die silwer wysers wys tien oor agt. Gewoonlik is dokter Jansen al agtuur hier – nie dat hy laat is nie.
Sy loop tot voor die venster en kyk teen die berg op tot by die groot bloekomboom wat op die kruin uittoring. Soos altyd gaan ’n ligte siddering deur haar. Vandag kom daar net ’n suggie by. Kiepersolkop gaan net nie dieselfde wees sonder dokter Jansen en sy vrou nie. Maar miskien neem dit nog ’n rukkie voordat hy iemand kry wat sy praktyk kan oorneem. Dalk gebeur dit nooit nie.
Dit is nou pure wensdenkery. Hy kan immers nie vir ewig aanhou werk nie. Daarby wag hul huisie by die see reeds vir hulle, en sy gun hulle dit van harte om daar te gaan aftree. Ook bly sy darem nie heeltemal alleen agter nie. Pa Peet en ouboet Dawie is nog hier. En haar ma. Nie dat sy graag die pad na die dubbelverdiepinghuis bo teen die bult neem nie.
“Goeiemôre, Jonette. Jammer ek is laat. Ons het ’n gas en ek kon net nie vanmôre my ry kry nie.”
Jonette draai voor die venster om. Te oordeel na dokter Jansen se opgewonde stemtoon was dit ’n aangename kuier. Wie kan die kuiergas wees? Seker nie een van hul kinders nie. Anders sou tannie Lettie so gesê het toe sy vanoggend laat weet het sy kan nie saam met haar gaan stap nie. “Nee wat, Dokter, daar is nog baie tyd. Die eerste afspraak is eers halfnege, en alles is gereed.”
Hy kyk op na die muurhorlosie. “Ja, maar ek wil gou die goeie nuus met jou deel. My praktyk is uiteindelik verkoop. Nogal aan iemand wat ook van Kiepersolkop af kom. Miskien ken jy hom van skool af, hoewel hy ’n paar jaar ouer as jy moet wees. Hy sê hy is nou sewe en twintig. En jy is nou weer . . . drie en twintig?”
“Twee en twintig,” help sy hom reg.
Hy knik. “Dan was hy in matriek toe jy in graad agt was. Lui Brink van Heerden dalk ’n klokkie?”
Jonette vat die kas langs haar krampagtig vas. Dit lui nie net ’n klokkie nie; dit ontplof soos ’n bom. Nooit ooit het sy gedink sy sal iemand haat nie, maar Brink van Heerden haat sy soos sy haarself gehaat het. Sy sluk en knik slegs voordat dokter Jansen die ontsteltenis in haar stem kan hoor.
“Ongelukkig kan hy jou nie onthou nie, maar ek sal jou nog aan hom voorstel. Ek is seker julle twee gaan net so lekker saamwerk. Hy is die ordentlikste man wat ek in ’n lang tyd ontmoet het, en hy het ’n hartlike persoonlikheid.”
Tarina Labuschagne, die ontvangsdame, loer by die deur in. “Meneer Calitz is hier. Kan ek hom maar deurstuur?”


Jonette gryp die pakkie versiersuiker in die kruidenierswarekas. Is die kondensmelk dan op? Gejaag skuif sy die jellie en ingemaakte blikkieskos weg. A, hier is darem nog een blikkie oor. Die vanieljegeursel gaan dit net-net maak. Sy moet onthou om dit op haar inkopielys te skryf, maar eers later. As sy nie nou fudge in haar lyf kry nie . . .
Met ’n geoefende oog sny sy ’n stuk margarien af en gooi dit in die plastiekbak. Die versiersuiker mors oor die rand toe sy dit sif, maar vandag kan dit haar min skeel. Dit is in elk geval sy wat die kombuis moet skoonmaak.
Sy stel die mikrogolf op twee minute, vat die kombuiskas voor haar vas en knyp haar oë toe. Brink van Heerden kan nie haar nuwe baas wees nie.
Die mikrogolf piep-piep. Sy haal die bak uit en klits die fudge met ’n draadklitser. Sy sit dit toe vir ’n verdere tien minute in. Net mooi môre gaan sy vir haar ’n ander werk soek. Kiepersolkop het egter net twee tandartse: dokter Jansen en dokter Bouwer. En laasgenoemde se assistent is blakend gesond. Ook is sy en haar man gevestig op die platteland.
Wel, dan moet sy na ’n ander dorp toe gaan. Selfs stad toe as dit moet. Maar wat van haar pa? Hy en Dawie sal net weer van brood en mieliepap begin lewe. Wie sal ook na die huishouding omsien en hul klere herstel? ’n Gat in ’n hemp kan hulle min pla. Die kombuisdeur gaan agter haar oop.
“Wat maak jy, Nettie?”
’n Lastige hitte stoot in haar nek op toe sy omdraai. Sy was as kind laas so uitgevang. Sy kan haar pa se vraag gerus vir haarself beantwoord. Waar is immers haar swaar verworwe selfbeheer van die afgelope vier jaar?
“O, hallo, Pappa. Ek . . . e. . . maak sommer fudge. Ons het lank laas nagereg gehad. Dan gaan ek draf. Ek sal netnou kom kos maak.”
Die mikrogolf piep-piep weer agter haar. Dit is net wat sy nodig het om haar pa se ondersoekende blik te ontglip. Sy voetstappe kom egter nader. Daarmee saam die reuk van ghries wat uit sy oorpak opslaan. Haar ma sou nou geraas het omdat hy nie eers sy hande silwerskoon geskrop het nie. Gelukkig het hy die ergste met ’n lap afgevee.
“Wat is fout, my kind?”
“Dokter Jansen het sy praktyk verkoop.” Hopelik vind haar pa dié rede bevredigend genoeg.
“Het jy dan jou werk verloor?” vra hy ontsteld.
Sy glimlag gerusstellend. “Nee, Pappa, of dit lyk altans nie so nie. Ek is maar net hartseer omdat dokter Jansen-hulle weggaan.” Dit is darem die waarheid, hoewel nie die volle een nie. Niemand behalwe tannie Lettie weet van Brink van Heerden nie. Eintlik is sy naam aan haar onbekend. Wat ’n genade! Sy dra net kennis van ’n matriekseun wat haar selfbeeld die finale knou in graad agt gegee het. Pa Peet knik begrypend. “Toe maar, jy kan altyd vir hulle gaan kuier. Julle kan ook steeds lekker oor whatsapp gesels.”
Dit is waar. Tog kan dit nie opmaak vir tannie Lettie se teenwoordigheid met hul stappies nie.


Jonette moet haarself inhou teen die afdraand. Netnou slaat sy gat oor kop en rol die laaste entjie tot by die dorpsdam. Sy het skoon vergeet om tydens middagete vleis uit te haal. Miskien moet sy maar die uitsondering maak en vis en tjips by die kafee gaan koop. Haar pa en Dawie sal die afwisseling geniet. Al wat sy soek, is ’n bak fudge en die privaatheid van haar kamer.
By die oop hek na die dam steek sy vas en hou met een hand aan die ysterpaal vas. Nee, Jonette Malan, daardie dae is verby. Om ’n mens aan soetgoed te vergryp vererger net jou ellende. Daarby is nommer agt klere reeds in sig.
Sy asem diep in en draf verder. Met aandete uitgesorteer, kan sy vanmiddag ’n bietjie langer onder haar geliefkoosde wilgerboom vertoef. Die lang takke versteek haar van nuuskierige oë. Ongelukkig versper dit ook haar uitsig oor die dam, maar dit pla haar nie rêrig nie. Solank sy net kan ontspan en ’n rukkie op haar eie wees.
Sy druk die takke weg en trek haar asem skerp in. Wie is die vent wat op haar plek sit? Eintlik is die dam oop vir almal; vandag het sy egter haar skuiling ekstra nodig.
Onverwags kyk die man om.
Brink!
Sy allerblouste oë vuur adrenalien in haar af sodat sy soos blits omdraai en spore maak. Tog is haar bene lam. Dit moet net nie heeltemal ingee nie. Sy het nog ’n steil bult om uit te hardloop en haar asem kom hortend.
Eers toe sy Jasmynstraat bereik, kyk sy om. Hy het haar gelukkig nie gevolg nie. Nou nog net vyf huise, dan is sy by hul rooibaksteenhuis. Sy sal net haar kar se sleutel in die kombuis kry en kafee toe ry. Dié keer gaan haar pa beslis nie glo haar ontsteltenis is slegs te wyte aan dokter Jansen-hulle se weggaan nie.

Soeter as fudge
Koop hier