Sterlig en soene – Thea Holland

by Romanza 0 Kommentaar

“Hier’s ’n nuwe een,” sê Tom. “Antjie.”

Praat hy met haar? Nee, dit moet die naam van die volgende liedjie wees want hy draai na sy broers, druk drie akkoorde wat hulle herhaal, en slaan ’n opruiende, dwingende dansritme wat oombliklik in almal se skouers en voete gaan sit.

“Ek besef terdeë, dat ons twee, se weë hier moet skei,” sing Tom.

Markus lag so hard dat hy ophou kitaar speel. Hy dans op een plek en wys met twee geligte vingers dat Tom heeltyd net twee note sing.

“Want ons toekoms, met elke hoe en hoekom, is klaar verby.”

Drie note! wys Markus met drie vingers.

“Hoekom het ek jou ontmoet? Hoekom het ek jou ontmoet?”

Toe Tom die woorde ’n derde keer herhaal, moet Antjie liplees, want almal in die saal skreeu hulle goedkeuring uit.

Tom los die kitaar sodat dit teen sy heup val en aan die skouerband bly hang. Hy steek al twee hande by sy kraag in en ruk; die knope gee pad en hy bly staan met sy kaal, beswete borskas onder die moordend helder verhoogligte. Langs Antjie hyg ’n meisie haar asem met ’n fluitgeluid in.

“Jy het my hart, uit my bors geskeur. Ek was by, toe dit gebeur . . .”

Pandemonium. ’n Skril, histeriese gegil styg uit die gehoor. “Antjie!” raas Peet. Werktuiglik lig sy haar kamera. Die sluiter zoem, zoem en zoem soos sy die een foto na die ander neem, minder as ’n sekonde ná mekaar, van sy gesig wat draai, fraksie vir perfekte fraksie, met die natgeswete blonde toutjies hare wat oor sy voorkop hang tot amper in sy woedende blou oë. En toe verdwyn sy beeld agter ’n muur van agterkoppe soos die gehoor op hulle voete kom. Die meisie langs Antjie buk vooroor, en toe sy regop kom, gooi sy iets oor die koppe van die ry mense voor haar. ’n Stukkie onderklere.

Magteloos moet Antjie hoor hoe die man wat sy liefhet vir haar sing sy kan haar koue voete hou, en as hy haar ooit weer sien, is dit te gou. Hy sing dat al haar beletsels en besware van al die harde jare nou verby is. “So tussen jou en my,” brul hy vir honderde mense om te hoor, “jy’t jou vryheid gekry.”

En toe het sy genoeg gehad. Sy dwing die nooduitgang oop en stap uit.

“Haai!” praat Peet agter haar.

“Ek wag in jou motor,” sê sy kortaf.

“Antjie!” roep hy, raak aan die lag en volg haar. “Onse aarde, maar jy’s onmoontlik! Die vroueonderklere reën op daardie verhoog en hier mis ek alles. En dit vir wat?”

“Ek het hoofpyn.”

“O. Jou eksverloofde trek sy hemp uit en daar raak jou hoof aan die pyn. Los daai nonsens en kom doen die werk waarvoor jy betaal word.”

Sy byt op haar tande en swyg. Die lawaai in die saal vererger.

“Ag, in hemelsnaam,” sê Peet. “Hier is die sleutel, maar jy gaan lank voor hierdie plek sit. As die manne van die verhoog afkom, gaan ek ’n onderhoud met hulle voer.”

“Daarvoor het jy my nie nodig nie.”

Met ’n misnoegde snork draf Peet terug saal toe.

Sy is só kwaad dat sy nie die kamera se lensdop teruggesit kry nie. Hiervoor vergewe sy Tom nooit.

“Nooit!” belowe sy die baba en klim in die motor. “Wanneer jy eendag veertig word, sal ek jou van hom vertel en ’n foto wys.”

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>