Strandwolf – René van Zyl (Uittreksel)

Strandwolf – René van Zyl (Uittreksel)

Een

“Tala Roberts?” Die blonde vlindervroutjie met skelrooi lippe, pienkraam leesbril op haar neus, pers kantoorpakkie en ewe pers lêertjie in die hand wag haar oordadig vrolik in. Sy staan in felle kontras met die afgewitte strandhuisie, eerder gehuggie, agter haar. “Namens Albatros-eiendomme, welkom by Strandloper, die mooiste dorpie aan die Kaapse Weskus. En bes bewaarde geheim.”
“Dankie. Jy is Lisa, met wie ek oor die foon gepraat het?” Tala se droë lippe vorm ’n powere glimlag al wil sy net in vrede in haar nuwe huisie intrek. Eerder wegkruip. ’n Dag op die pad met ’n woelige vyfjarige en oorgrote wolfhond doen dit aan ’n mens. Elke spier in haar lyf en elke breinsel is gekneus.
“Liza. Met ’n zzz.” Haar oë skarrel oor Tala se leersandale, kort denimbroek en donkerbruin vlegsels op die los wit bloes. “Sulke mooi, dik hare.”

Dan huiwer haar blik op die tatoes van ’n wolf en ’n droomvanger op Tala se boarms.
Dit gly dan nuuskierig na die langhaarkind wat vallend uit die Suzuki Jimny met sy hooggestapelde dakrak te voorskyn kom. Erg deur die slaap. En die wolfhond wat uitbundig om hom ronddraai.
“Jou dogter is pragtig. En die hond? Sjoe, hy is nogal . . . massief.”
“Dis my seun, Fillan. En Akeela is ons beskermer.” Hoekom kan seuns nie lang hare hê nie? Fillan se skouerlengte donker hare lyk wel ’n bietjie woes ná die lang rit, maar wie besluit nou in vandag se lewe wat is vir verskillende geslagte reg en verkeerd?
“O, wel. Ek dog . . . Oukei, dan. Julle lyk lekker moeg. Ek sal gou maak.” Liza glimlag ’n bietjie strammer. Sy sluit die vaalblou afgedopte houtvoordeur oop en stap die kothuis met die grasdak binne. “Jy is die eerste mens wat by my ’n huis koop sonder om eers te kom kyk hoe dit lyk. En gelukkig staan dit al drie maande lank leeg en kan julle dadelik intrek.”

As jy vir jou lewe vlug, doen ’n mens sulke goed. Jy koop ’n kothuis in ’n onbekende kusdorp weg van alles en almal af. Dis byna direk op die strand en deur die glasdeure kan sy die oseaan sien. Ruik. Hoor. Proe. ’n Salige sug breek tsoenami’s deur haar lyf. Die toekoms lyk vir die eerste keer in haar ses en twintig lewensjare vry en vreesloos.
“Soos jy kan sien, is die skamele ou rottangmeubels van tant Lettie nog net soos sy dit gelaat het. Die kinders het haar persoonlike goed kom haal. Ná haar dood, jy weet.” Liza fluister sodat Fillan wat nou deur die huis hardloop en die glasdeur na die stoep oopstoot haar nie hoor nie. “Ná die ou tante stoksielalleen ’n hartaanval gehad het en vir ’n week hier gelê en ontbind het.” Sy maak groot oë vir Tala. “Dis geen wonder niemand wou hier koop nie. Maar ek belowe jou alles is mooi gespringclean. Ek het self toegesien. En jy het mos gesê jy het geen probleem daarmee nie.”
“Nee, glad nie.” Sy het ander soort probleme. Niks daarvan het met dooies te doen nie. Dis die lewendes wat sy vrees.

Liza kyk haar vreemd aan. “Wel, hier is alles. Die leefvertrek met ’n oopplankombuisie. Twee klein kamers en ’n aparte badkamer. En ’n lieflike stoep wat op die see uitkyk. Jy het ’n groot bargain gekoop. Behalwe nou vir die storie met die dooie tant Lettie bedoel ek, maar dit pla jou mos nie.”
Fillan en Akeela storm soos die wilde westewind oor die strand, reg in die vlak branders in en kom weer teruggehardloop. Haar hart klop warm vir hierdie kind van die wind wat sy grootmaak. Hy is haar alles. As iemand hom van haar wil wegneem, sal sy moord pleeg. Haar vuiste bol outomaties langs haar sye.
Liza maak die pers lêer op die eenvoudige houttafeltjie in die kombuis oop en praat land en sand oor al die papierwerk.
Terwyl Fillan op die kliptrappie gaan sit en sand van sy voete afvee, vang Tala se oog ’n figuur op die rotse so ’n honderd meter van haar huisie af. Dis ’n man wat gehurk sit, met sy hande om sy bene geklem. Hy wieg heen en weer, amper asof die golwe hom eb en vloed. Sy lang vaalbruin hare en baard sliert in die wind rond. Dit lyk of hy al vir ure so sit en vir nog ’n paar uur so gaan maak. Vasgemossel aan die rotse. Wag vir die branders om hom van die klip af te stroop en diepsee toe te sleep.
“Ons eie strandwolf.” Liza se stem hier langs haar laat haar skrik. “Hy het net eendag hier opgedaag. So ’n jaar gelede. ’n Bergie. Of boemelaar. Noem dit wat jy wil. Praat met niemand. Net homself. Stap dag en nag op die strand op en af. Duik soms vir ure lank in die see rond, op soek na seekos. Hy is nie gevaarlik nie. Ek dink nie so nie. Net vuil. Wie weet watse siektes hy ronddra? Hy is hoeka so maer en verweer deur die wind en son. Tant Lettie het haar so nou en dan oor hom ontferm.” Sy stamp met haar elmboog aan Tala en knipoog. “Hou maar jou deure gesluit.”