Tydloos – Madelie Human (Uittreksel)

Tydloos – Madelie Human (Uittreksel)

Een

Juli le Roux kreun en maak haar oë oop. Miljoene skoenlappers draai in ’n spierwit wolk bokant haar kop rond. Sy knyp haar oë vinnig weer toe en wag vir die wêreld om op te hou tol. Wat het so pas gebeur? Dit voel of haar kop wil bars. Versigtig maak sy haar een oog oop. Die skoenlappers is gelukkig nou weg. Hoe het hulle in die huis ingekom en waar is hulle nou?
“Mam’selle Juliette?” ’n Gesig verskyn bokant haar waar sy op die mat lê. Waarom lê sy op die vloer? Wie is die vreemde vrou met die outydse kappie oor haar hare en hoekom noem sy haar op haar doopnaam? Net haar ouma het haar altyd Juliette genoem, maar sy is lankal dood. Iets wil nie mooi sin maak nie. Hoekom noem die vrou haar so?
Die gesig bokant haar lyk bekommerd. “Mam’selle, jou tabberd. Waar is dit? Hoekom is jou hare los? Wat het gebeur?”
Juli kyk af. Tabberd? Sy het steeds die jeans en pienk tekkies aan wat sy vanoggend gegryp het om die wingerde te gaan inspekteer saam met haar aangenome broer, Luan Beukes. Sy kyk vinnig na die vrou wat langs haar op die vloer kniel. Sy het inderdaad iets wat ’n mens seker ’n tabberd kan noem met ’n spierwit voorskoot bo-oor aan. Wie sou sy wees en wat soek sy hier in La Rochelle se sitkamer?
“Jy het ’n besoeker, Mam’selle. M’sieur Rousseau is in die foyer. Maar met hierdie skandalige mondering sal jy nie voor hom kan verskyn nie. Waar is jou klere wat jy vanoggend aangetrek het?”
Juli frons. Sy weet haar uitrusting is informeel, maar skandalig? Iets baie snaaks is aan die gang. Die vrou met die plooi tussen haar groot ronde oë praat in ’n geradbraakte Frans deurspek met Hollandse en Afrikaanse woorde. As sy nie kennis van al drie tale gehad het nie, sou sy sowaar min daarvan kon verstaan. “Wat?” vra sy verward en probeer regop sit. Haar kop voel nog of dit kan bars, maar die wêreld draai darem nie meer so erg nie. Sy kyk rond. Die vertrek is oorbekend, dit is haar huis se sitkamer, maar die gordyne is ’n ander kleur en die meubels is . . . min of meer dieselfde, maar ook nie. Waar is haar twee donker pers leunstoele en die nuwe kunswerke wat sy onlangs aangeskaf het? “Wat het gebeur?” vra sy en probeer opstaan. Toe sy op die mat wil druk om orent te kom, voel sy iets in haar hand. Sy kyk af. In haar hand hou sy die antieke silwersakhorlosie met die Le Roux-familiewapen agterop. Dan onthou sy. Sy het probeer om die tyd reg te stel en toe begin haar ore suis en alles het skielik om haar in ’n maalkolk begin tol.
“W. . . wie is jy? Waar is Shaleen?” vra sy.
Die jong vrou lyk nou skoon uit die veld geslaan. “Shaleen? Ek is mos Fytjie, jou diensmeisie, Mam’selle. Hier is nie ’n Shaleen nie.” Sy help Juli om orent te kom.
Diensmeisie? Waar val die vrou uit en wat het van haar huishoudster geword? Juli kyk by die venster uit. Ja, die hoë bergpieke troon steeds oor die Le Rouxs se familieplaas soos dit vir vele geslagte reeds doen, maar die tuin lyk heel anders en waar is die nuwe motorhuise en geplaveide rylaan wat haar pa voor sy dood laat bou het? Dan kliek iets in haar brein. Sy skud haar kop. Is dit moontlik? “Wat is vandag se datum?” vra sy aan die meisie wat met haar donker oë gefassineerd na Juli se tekkies staan en staar.
“Vier Februarie,” antwoord sy en trek-trek aan Juli se toppie wat net-net nie haar midderif toegemaak kry nie.
“En watter jaar is dit?”
Fytjie frons steeds vir Juli se kleredrag, maar antwoord nietemin. “Dis mos die jaar sewentienhonderd en twintig, Mam’selle. Hoe vra jy dan nou so?”
Juli se kop draai weer, maar sy bly darem staande. Goeie genugtig, sy het altyd gedink Oupa se stories oor die sakhorlosie is sommer versinsels wat hy opgemaak het om haar te vermaak. Is dit moontlik, of droom sy net? “Is jy doodseker, Fytjie?”
“Natuurlik is ek, maar ek wonder nou oor die mannetjiesklere en hoekom praat Mam’selle so snaaks?” Sy skud haar kop en vat verwonderd aan Juli se jeans. “Dalk moet mam’selle Juliette liewer ’n bietjie gaan lê? Ek kan die m’sieur vra om later terug te kom.”
Juli probeer sin maak van alles. Juliette. Haar doopnaam. Oupa se vertellings wou dit hê dat as twee persone van verskillende geslagte met dieselfde naam op dieselfde datum presies om twaalfuur gelyktydig die silwersakhorlosie se tyd regstel, hulle plekke sal ruil. Sy lig die horlosie aan sy ketting op en kyk stip daarna. Dis ’n paar minute ná twaalf. Volgens Oupa is die horlosie met magiese kragte glo al honderde jare in die familie se besit. As Oupa se stories waar is, moet die mam’selle Juliette van wie Fytjie telkens praat, nou in haar plek in die een-en-twintigste eeu wees.
Juli snak na haar asem. Maar tydreise is mos net in stories moontlik, dan nie? Sy skud haar kop en knipper haar oë. Die vreemde binneversiering en die diensmeisie in outydse klere en vreemde manier van praat is egter steeds daar. Het sy sowaar driehonderd jaar terug in die verlede in gereis?
Sy moet iewers alleen kom waar sy helder kan dink. Miskien moet sy liewer Frans praat, die diensmeisie lyk nie of sy suiwer Afrikaans mooi verstaan nie. Die mademoiselle Juliette wie se plek sy blykbaar ingeneem het, is sekerlik Franssprekend. “Ja, ek dink ek sal iets anders gaan aantrek. Sê vir die man wat vir my wag dat ek nou-nou daar sal wees, dan kom help jy my om iets meer gepas aan te trek.”
Hopelik is haar slaapkamer op dieselfde plek. Sy het beslis Fytjie se hulp nodig, sy sal nie eens weet wat die korrekte kleredrag is nie. Sal haar naamgenoot se klere haar ooit pas? Indien nie, bevind sy haar nie net in die verkeerde eeu met mense wat ’n onbekende taal praat nie, maar in tamatiestraat. Niemand van die agtiende eeu sal haar oupa se storie oor tydreise glo nie. Genugtig, sy het dit self nie geglo totdat dit nou met haar gebeur het nie!
’n Geluid trek haar aandag. In die deur staan iemand – ’n beeld van ’n man wat inderdaad geklee is in ’n agtiende-eeuse broek en kniehoogte stewels. Haar oë skuif op oor sterk bobene en smal heupe na ’n wynrooi onderbaadjie en spierwit hemp onder ’n donkerblou baadjie met wye lapelle wat oor breë skouers span. Sy langerige donker hare is met ’n leerbandjie agter sy kop vasgevang. Mister Darcy, eat your heart out, dink sy en onderdruk ’n byna histeriese giggel wat dreig om uit haar keel te borrel.
Op die oomblik is sy wenkbroue hoog gelig. Dit lyk of hy sy helderblou oë nie kan glo nie. Hy retireer stadig in die gang in, maar sy blik bly waarderend op haar geronde heupe in die jeans en vee oor haar kaal midderif.
“Pardon, Juliette. Ek sal in die foyer wag terwyl jy gaan verklee,” sê hy in suiwer Frans.
Dis duidelik dat hy die uitsig waardeer, maar wat sou hy van so ’n skrapsgeklede vrou dink? Haar naamgenoot ontbloot sekerlik beswaarlik haar enkels voor enige man. Skielik wens sy uit die diepte van haar hart dat sy haar skootrekenaar byderhand kon hê om vinnig te google oor agtiende-eeuse kleredrag en gewoontes. Sy onthou darem ’n bietjie van die ou Kaapse geskiedenis wat sy op skool geleer het, maar dit sal haar nie veel help nie. Genade, wat gaan sy aanvang?

KOOP HIER | BUY HERE
Auth unexpected return: Unauthorized

Fytjie is inderdaad van groot hulp. Sonder dat sy haar hoef te vra haal sy onderklere en ’n rok uit die groot armoire en lê dit op die koperledekant uit. Dit lyk darem of dit haar sal pas. Toe Fytjie die toppie oor haar kop trek en haar in ’n stywe korset begin inryg, is sy ineens dankbaar vir al die ure wat sy weekliks in die gym deurbring. Die kledingstuk laat min ruimte vir asemhaling, laat staan nog vetrolletjies.

Fytjie bekyk haar van kop tot tone. “Kom, ons moet nog jou hare ook weer oordoen.” Sy tel ’n lok van Juli se lang, los hare op. “Wat het jy aangevang nadat ek jou vanoggend help aantrek het, Mam’selle? Jy kan mos nie so voor jou verloofde verskyn nie.”

Juli se asem stol in haar keel. “Verloofde?” kwaak sy benoud. Genade, sy erf nie net haar naamgenoot se klere nie, maar haar verloofde ook?