Uiteindelik verlief – Dina Botha (Uittreksel)

by Romanza
Uiteindelik verlief – Dina Botha (Uittreksel)

Een

Danika Lombaard druk die foon dood, en sug diep en effens gefrustreerd. Sy is so lief vir haar ma, maar sy wens sy wil dit nie elke jaar aan haar doen nie.
Corli Nel, haar assistent loop die vertrek binne en vra: “En daardie sug?”
“Dis weer sulke tyd. My ma hou haar jaarlikse familiefees en sy wou weet of ek dié Kersfees dalk vir haar ’n skoonseun huis toe kan bring.”
“Sjoe, sy draai nie juis doekies om nie.”
“Dis omdat ek die oudste dogter van vier is. Twee van my susters is getroud en die ander een verloof. Volgens my ma is dit ’n taboe situasie. Die oudste moet eerste trou, dan die tweede oudste en dan die res. Dis blykbaar die natuurlike verloop van die lewe.”
“En jy tart die noodlot blatant uit deur so te rebelleer.”
Danika gee voor sy is erg verras met Corli se droë insig: “Uiteindelik verstaan iemand my.”
“Wat gaan jy doen: Iemand saamvat huis toe?”
“Nee, ek gaan nie. Ek het nie ’n kêrel nie, en jy weet dit.”
“Ek kan altyd met my ongetroude neefs praat. Jy kan dalk een van hulle leen?”
“Ek gaan g’n so iets doen nie. Ek is nege en twintig jaar oud en tot dusver kon ek goed my man teenoor my familie staan. Nee, dié jaar gaan ek huis toe en ek gaan hulle weer goed laat verstaan dat ek nie ’n man gaan vat net om hulle gelukkig te maak nie. Ek is my eie mens en ek het nie een nodig om beter oor myself te voel nie. Of om my ’n beter weergawe van myself te maak nie. Ek is wie ek is.”
“Oukei, jy klink baie dapper. Onthou maar net van my voorstel. Wanneer vertrek jy plaas toe?”
“Die veertiende en ek kom die agt-en-twintigste terug. Die praktyk is egter tot die vyfde gesluit, en dis wanneer jy ook terugkom werk toe.”
“Ek is seker jy sal die twee weke op die plaas oorleef. Wat ek eintlik wou kom sê het: Jou volgende pasiënt is hier. Sy naam is Snoopdog.”
Danika glimlag geamuseerd. “Dankie, stuur maar vir Snoopdog en sy baas in.”
Die onderwerp van hul gesprek talm egter in haar gedagtes. Natuurlik weet sy haar ongetroude-status-probleem lê by haar. Sy is nie iemand wat op elke tweede ou wat sy raakloop verlief raak nie. Sy sien nie ’n potensiële trouman in elke ou wat sy ontmoet nie. Of hy na goeie troumateriaal lyk of nie, skeel haar min. Nie dat daar iets met haar vroulike aptyt skort nie. Sy kan ’n aantreklike man waardeer wanneer sy een sien. Daar is net nie elke keer verspotte hartkloppings betrokke nie. Dalk beskerm sy haar hart maar net goed – wat haarself betref ’n baie goeie ding is.


Twee

Danika hou by ’n uitkykpunt stil en klim uit. Elke keer wanneer sy huis toe gaan, vind sy dit onmoontlik om nie eers hier stil te hou nie. Buiten dat sy kilometers oor die vallei kan sien en die panorama asemrowend mooi is, is dit ook die poort na haar kinderlewe.
Een van die plase onder in die vallei behoort aan haar ouers, Johan en Gerda Lombaard. Lombardi, die familieplaas, het met verloop van jare nog altyd van seun na seun gegaan, maar haar pa blyk die laaste manlike nasaat te wees. Wat van die plaas gaan word en wie dit eendag gaan erf, is een van daardie verbode onderwerpe in die Lombaard-huishouding. Dit is eintlik hartseer, want nie een van haar susters se mans of die aanstaande een is boere nie – of het die begeerte om eendag die leisels by haar pa oor te neem nie.
Danika loop terug motor toe. Haar ma verwag haar ’n spesifieke tyd en as sy laat is, gaan haar ma haar net weer bekommer.
Voordat sy kan inklim, sien sy ’n bakkie aangery kom. Die bestuurder sit sy flikkerlig aan en trek ’n entjie van haar van die pad af. Klippies skiet in alle rigtings. ’n Stofwolkie begin onder die bakkie se wiele, warrel op en waai oor haar en haar motor. Sy vervies haar effens vir die persoon wat geen konsiderasie vir sy medemens toon nie.
Sy waai die stof uit haar gesig en wag dat dit ’n bietjie gaan lê voordat sy haar deur oopmaak. Sy oorweeg nie eens ’n gesprek met ’n wildvreemde persoon op so ’n afgeleë plek nie.
Die man klim uit sy bakkie en ten spyte daarvan dat sy beplan het om vinnig agter die stuur in te glip en weg te ry, vergeet sy skoon daarvan. Hy haal sy cowboyhoed af en gooi dit deur die oop ruit terug in die kajuit. Die vreemdeling is lank, nes sy van mans hou. En hy het ’n gemaklike stap aan hom. Hy stoot sy vingers deur sy donker krullerige hare en die ligte blou hemp se moue span oor sy boarms. ’n Hemp wat net so gebleik soos sy noupassende jean is. Aan sy voete dra hy stewels wat reeds iewers anders ’n goeie skoot stof gekry het.
“Hallo, daar,” groet hy in ’n sterk, helder stem.
Die vreemdeling prikkel dadelik haar belangstelling en sy stoot haar sonbril tot op haar kop. Die onverwagse windjie skep haar lang blonde hare en sy probeer eers om die stringetjies hare uit haar oë te skud. Dit werk nie en sy vee dit agter haar oor in en uit haar gesig weg.
Eers toe hy by haar is en sy opkyk, merk sy tussen digte donker wimpers die mooiste paar blou oë op: Oë wat vriendelik dog nuuskierig terugkyk.
“Haai,” groet sy terug.
“Is alles oukei?” Hy kyk na haar motor asof hy fout probeer vind.
“Dit is, dankie.”
“Ek was bang jy is dalk gestrand of staan hier met ’n pap band.”
Sy kyk na die inligtingsbordjie agter hom, en sê half snipperig: “Nie noodwendig nie. Dis tog ’n stilhouplek en ’n uitkykpunt.”
“Ook weer waar.”
Hy glimlag en aantreklike kepies verskyn langs sy mond. Sy tande is mooi en egalig, en sy glimlag uiters aantreklik.
“Waarheen is jy op pad?”
Sy draai haar kop in die rigting van die vallei. Die teerpad lê ver onder hulle. Dit loop lynreguit voordat dit soos ’n slang tussen die plase deur kronkel en oor die volgende berg verdwyn. Sy wys met haar vinger en hoop hy kan volg: “Sien jy die dam daar onder: die groot een?”
“Ja, ek sien dit.”
“Net verby dit draai ’n pad na links. Dis waarheen ek op pad is.”
Die vreemdeling draai sy kop terug, en vra verras: “Is jy op pad na Lombardi?”
Nou is sy die een wat verras is. “Dis reg; ek neem aan jy ken die mense van Lombardi? My ouers?”
“Jou ouers?
“Johan en Gerda Lombaard.”
“Ek ken hulle inderdaad.” Sy mooi oë vernou voordat hy ná ’n paar sekondes sê: “So, jy is die lelike een.”
“Ekskuus?” vra sy, en is glad nie seker dis wat sy gehoor het nie.
“Ek sê: Jy moet dus die lelike dogter wees. Die oujongnooi wat nie ’n man kan kry nie.”
Dié keer is sy nie so stadig van begrip nie en snak hardop na haar asem. Sy vind egter nie haar stem nie, want dis moeilik om tussen skok en woede iets sinvol te uiter.
“Aangename kennis, Danika. Ek is Bismarck.”
Sy kyk na sy uitgestrekte hand en weer na hom. Is die man klipdom? Verwag hy sowaar sy gaan ewe vriendelik bladskud nadat hy haar onomwonde en in haar gesig beledig het? Is hy so arrogant dat hy dink dis oukei om so met ’n vrou te praat? En hoekom is daar soveel lagliggies in sy oë? Dink hy dis ’n groot grap? Sy het nuus vir hom: Sy vat eerder aan ’n dodelike boomslang voordat sy aan hom raak.
Sy skud haar kop, en kry uiteindelik haar stem terug: “Druk jou aangename kennis in jou . . . jou . . . in daai plek waar die son nooit skyn nie.”
Sy moet drie keer na haar deurhandvatsel gryp voordat sy dit raakvat. Sy trek haar deur hard toe en druk terselfdertyd die sluitknoppie in. ’n Mens weet nooit of so ’n onopgevoede barbaar haar deur sal oopruk nie.Sy trek so vinnig weg dat haar bande vir ’n paar oomblikke op een plek bly draai. Haar motor wip toe sy van die grondpad oor na die teerpad beweeg. Sy kyk in haar truspieëltjie en haar tone krul van plesier. Meneer Ongeskik en sy bakkie is toe onder die stof. Dis sy verdiende loon, dink sy en trap die versneller net dieper in.