Hart van klip – Didi Potgieter (Uittreksel)

Hart van klip – Didi Potgieter (Uittreksel)

EEN

Christi word stadig wakker en geniet die wete dat sy weer in New York is. Al is dit hier in haar hotelkamer so stil dat sy netsowel op Steely Hills kon wees, weet sy dat daar buite ’n wêreldstad soos min vir die volgende drie weke op haar wag. Sy strek lui uit oor die luukse bed en dink aan die laaste keer wat sy hier in die Park Hotel oorgebly het. Dit was ’n jaar en ’n half terug met die Parkers se Kersbal en sy het amper nie daardie aand in een van hierdie luukse beddens geslaap nie.
Sy knyp haar oë toe om die herinnering uit te doof.
Hoekom dink sy nou daaraan? Sy is tog lankal oor die blaps wat sy amper met Richard Barret begaan het en dit is nie asof dit haar laaste keer in New York was nie. Glad nie. Hulle het tog hulle Hart van staal-toer in die stad afgesluit.

Sy maak haar oë toe en dink aan alles wat gebeur het in die ses maande vandat sy en die ander twee Steely Susters die toer hier afgesluit het. Haar pa en Lucy is getroud. Mel en George het verloof geraak en is ook getroud. As gevolg van die verwikkelinge in hulle verhouding, het Mel al haar besittings in Nashville opgepak en bly sy nou permanent in die pragtige huis op Steely Hills – ’n huis wat nou een van die luuksste ateljees het waarin sy nog ooit was. Emily het verloof geraak aan Louis, wat vir die eerste keer in sy lewe nie meer bo die kroeg bly nie, maar nou op sy eie stukkie grond. ’n Stukkie grond waarop Emily ook nou planne vir haar toekoms maak.
Dit is net haar liefdeslewe wat blykbaar nie op dreef wil kom nie, dink sy met ’n hart wat dadelik swaarder is. Die hemel alleen weet hoekom sy toe hulle haar pa en Lucy se troue gereël het, gedink het dit is ’n goeie idee om Charl Donovan nog ’n kans te gee. Sy het tog geweet hoe jaloers en besitlik hy is. Wat sy nie geweet het nie, is dat die media ’n romantiese verbintenis tussen haar en Grey Mclain sou sien omdat hulle saam ’n romantiese duet sing, en hoe Charl daarop sou reageer nie.
Sy blaas haar asem bewerig uit.

Gelukkig kon sy vlug en al wou sy nie haar suster belas met Charl se woedeuitbarsting voor haar huwelik nie, het die troue haar ’n verskoning gegee om weg te kom. Al het dit beteken dat sy ma daarna geweier het om die blomme te doen, kon sy weer vir ’n slag asemhaal.
Hemel, sy wil so graag die vryheid en spasie hê om op haar eie loopbaan te fokus sonder om ’n man en sy ego in ag te neem. Ongelukkig moet sy net eers finaal van Charl en die idee wat hy het dat sy die vrou van sy drome is, ontslae raak en daarom het sy vir Grey Mclain saamgenooi vir die Parkers se Lentebal.
Haar selfoon begin op haar bedkassie lui, en toe sy die naam op haar skerm sien, wonder sy of die man telepaties is.
“Goeiemôre, sexy.” Grey se soetsappige stem laat haar lus voel om die foon in sy oor neer te sit. “Is jy al wakker?”
“Ek is, dankie.”
“Ek kan jou dus nie eers kom wakker maak nie?”
Christi sug amper hardop; die man kry net nie die boodskap nie. Sy sou mos nie aan al wat ’n verskoning was, gedink het om hom nie kamer toe te nooi as sy wou gehad het hy moet haar vanoggend wakker maak nie.
Sy het hom egter nodig as skerm, daarom kan sy nie die woorde wat op die punt van haar tong brand, vir hom sê nie.
“Nee wat, ek is al klaar op en aan die gang,” jok sy. “Ek het so baie dinge om nog voor die bal vanaand te doen.”
“Ek hoop nie jy hoef dan weer vanaand alleen te slaap nie.”
“Ha, ha,” probeer sy die opmerking afmaak as ’n grap. “Ek sien jou halfsewe in die voorportaal?”
“Ek kan nie wag nie.”
Christi gooi haar foon op haar bed neer en besluit om haar nie te laat ontstel deur ’n ou soos Grey nie. Sy is in New York en al weet sy daar gaan vanaand ’n duisend kameras wees wat haar aan Grey Mclain se arm by die Parkers se bal afneem, bied die stad tans nog ’n mate van naamloosheid wat sy altyd geniet.

Sy vat ’n lang, luukse bad en trek ’n gemaklike denim en T-hemp aan. Voor sy haar handsak vat, haal sy die kleresak uit die hangkas en hang die rok wat daarin is teen die kas en sy glimlag tevrede.
Amanda het haar weer eens uitstekend van haar taak gekwyt. Hierdie rok is soveel anders as die een wat sy vir die Parkers se Kersbal meer as ’n jaar terug aangehad het. Hierdie rok is minder sexy, meer volwasse, dit is nie die tipe rok wat rocksterre se oog vang en maak dat hulle jou wil huis toe vat nie.
Onwillekeurig voel sy weer Richard Barret se hande oor haar kaal rug en sy snak na haar asem. Die gedagte wat uit die niet kom, laat haar hart dadelik vreemd klomp en sy is op die plek vies vir haarself. Hoekom haar gedagtes steeds met tye koers kies na die paar oomblikke in die hysbak van sy woonstelgebou en nie na een van die ander hoogtepunte van daardie aand, daardie week of die jaar nie, kan sy nie verstaan nie. Miskien is Charl reg, miskien is sy ’n goedkoop tert en smag sy net na die lyflike vervulling wat sy nie gekry het nie. Tog het hy ook gesê sy is ’n koue vis omdat sy nie saam met hom wou slaap nie. Dit is waarom hy homself daardie aand op haar wou afdwing.
Sy sidder as sy dink wat kon gebeur het as hy nie heeltemal so dronk was nie.