Waag en wen – Renda de Waal-Fourie (Uittreksel)

by Romanza
Waag en wen – Renda de Waal-Fourie (Uittreksel)

Een

Die deurklokkie lui vir die tweede keer.
“Katryn, maak asseblief die deur oop en nooi die man in,” roep Katryn se pa. “Ek maak net klaar met ’n telefoonoproep.”
Haar konsentrasie reeds verbreek met die deurklokkie se gelui, staan sy op. “Oukei, Pappa,” roep sy effe ongeduldig terug.
Sy hardloop met die trappe af voordeur toe, haar gedagtes nog besig met die groepstate-oefening waarmee sy besig was, en maak die deur oop. Sy kyk vas in ’n ou blou T-hemp oor breë skouers, ’n jean met ’n vuil kol op oor smal heupe. Lang, sterk bene. Sy moet haar kop ’n hele paar sentimeter lig om die man se gesig te sien.
Warm goudbruin oë is op hul beurt besig om haar deur te kyk. Sy keer haarself toe sy haar stokou T-hemp wil aftrek oor haar kortbroek. Albei gekoop terwyl sy nog op skool was en sy nog na ’n dogtertjie gelyk het. Intussen het sy rondings bygekry.
Die man voor haar lyk asof hy in sy laat twintigs is. Sy blik huiwer op haar bene en voete. Sy verstyf.
Hy kyk op met ’n glimlag en steek sy hand uit: “Goeiemiddag. Daniël Roux van ESS Sekuriteitsdienste.”
Haar mond trek af. Kyk maar, meneer Roux. Been there, done that. Sy ken sy soort.
Haar hand raak baie vlugtig aan syne. Sy stel haarself nie voor nie. “Kom binne. My pa is net besig met ’n telefoonoproep. Hy sal nou by jou wees.”
Sy stap vooruit na die sitkamer, baie bewus van sy blik op haar. “Sit, asseblief. Ek gaan net vir my pa sê jy is hier.” Sy kyk tersluiks na sy jean. Sy hoop die agterkant is skoner as die voorkant.
“Ek sal staan en wag vir jou pa. Ek is nie van die skoonste nie.” Daar is ’n fyn glimlaggie om sy mond en sy oë lag.
Sy kry ’n kleurtjie. Het hy haar blik op sy jean gesien? Ja, sy dink hy het.
“Verskoon my,” sê sy en stap haastig uit.
In sy studeerkamer is haar pa net besig om sy oproep af te sluit. Hy staan op.
“Iemand van een of ander sekuriteitsplek wag in die sitkamer, Pappa.”
“Dankie. Hy kom na die alarmstelsel kyk.” Hy sit ’n arm om haar skouer en gee haar ’n vinnige drukkie voordat hy uitstap.
Sy stap met die trappe op terug na haar kamer. Die man het ’n besonderse kleur oë. Sy donkerbruin hare is darem blink en skoon. Hy is nie mooi nie – sy gesig is te sterk om mooi te wees, maar hy is baie aantreklik. En hy het ’n pragtige glimlag. Spierwit tande.
Nou hoe weet sy dit? Sy het hoogstens vyf sekondes na hom gekyk. Hoe kon sy in daardie paar sekondes so baie waarneem?
Sy weet nog iets, dink sy vererg. Sy weet dat sy nie van die man hou nie. Sy hou nie van mans wat so oorloop van selfvertroue nie. Jeandré was ook so. Hy behoort verleë te wees dat sy jean vuil is. Hoekom lag hy haar uit?
En hoekom ontstel die man haar? Hy gaan die alarmstelsel regmaak, en sy gaan hom nooit weer sien nie. Wat sy nou gaan doen, is om op die groepstate-oefening te konsentreer. Môre skryf sy haar laaste semestertoets in Rekeningkunde en dan lê die eksamen voor.
Sy kry uiteindelik gekonsentreer. Iets is fout: Die balansstaat balanseer nie. Sy frons. Wáár het sy ’n fout gemaak?
“Katryn!” roep haar pa.
Net nie nou nie, Pappa, asseblief nie, dink sy geïrriteerd, maar sy antwoord: “Ja, Pappa?”
“Sal jy asseblief vir ons kom koffie maak? Sit sommer van Mamma se beskuit by.”
Sy wil nie, en sy wil daardie man nie weer sien nie, maar sy het nie ’n keuse nie. “Ek kom!” roep sy.
Sy draf weer met die trappe af kombuis toe. Sy hoor haar pa en die sekuriteitsman se stemme in haar pa se studeerkamer. Die alarmstelsel se hoofpaneel is daar.
Sy skakel die ketel aan. Haar pa hou nie van kitskoffie nie, maar sy gaan nie nou met die koffiemasjien sukkel nie. Sy meet moerkoffie in ’n perkoleerkan af en pak bekers, melk, suiker en die begeerde beskuit op ’n skinkbord. Toe die water kook, vul sy die perkoleerkan en dra dit studeerkamer toe.
Die man staan op om die skinkbord by haar te neem. “Het jy my dogter ontmoet, Daniël?” vra haar pa.
“H’m . . . Nie heeltemal nie, oom Ernst. Ek het darem netnou gehoor haar naam is Katryn.” Weer daardie fyn glimlaggie om die mond en lag in sy oë.
Oom Ernst? Hy en haar pa is al op voornaamterme.
Haar pa frons. “Het jy nie jouself voorgestel nie, Katryn?”
Nou is sy in die moeilikheid by haar pa, en dit deur hom. Haar pa voel baie sterk oor goeie maniere. “Ek het seker vergeet, Pappa.” Om sy aandag af te trek, vra sy: “Is daar nog iets, Pappa? Ek is besig om voor te berei vir môre se Rekeningkundetoets.”
“Ja, asseblief. Mamma het gebel en gevra dat jy solank die hoenderpastei in die oond sit en ’n slaai maak. Sy sal eers ná ses by die huis wees. Eet sommer saam met ons, Daniël. Daar sal oorgenoeg wees – my vrou het ’n groot pastei gemaak en sy maak in elk geval altyd te veel kos. Sy glo daar moet iets oorbly. Ek sal baie graag verder met jou oor al die tegnologiese foefies wil praat. Jy het nou my belangstelling geprikkel.”
Katryn verstyf. Sy wag om te hoor wat sy antwoord gaan wees.
“Dankie vir die uitnodiging, Oom, maar dit was ’n besige dag en ek wil baie graag gaan stort en skoon aantrek.” Sy kyk verlig op. Sy oë rus vir ’n oomblik op haar gesig; sy oë baie koel. “Ek sal graag op ’n ander dag van so ’n uitnodiging gebruik maak; dan sal ek Oom vertel van al die jongste ontwikkelings.”
“Ons maak so, Daniël. Ek sal jou kontak. Ek wil graag hê jy moet my seun ook ontmoet. Sit, dan drink ons ons koffie. Gaan jy nie saamdrink nie, Katryn?”
“Nee dankie, Pappa. Ek het nog ’n klomp werk om te doen. En ek wil gou gaan doen wat Mamma gevra het. Verskoon my, asseblief.” Sy kyk op haar beurt koel na die man. “Tot siens, meneer Roux.”
Sy moet noodgedwonge weer die hand neem wat hy uitsteek. “Tot siens, juffrou Van Wyk.” Hierdie keer is dit hy wat net baie vlugtig aan haar hand raak voordat hy weer na haar pa draai.
Sy kry die gevoel sy is verskoon. En dit in haar eie huis. Sy hou niks van Daniël Roux nie. Wie dink hy is hy?