Weer begin – Marilé Cloete (Uittreksel)

by Romanza
Weer begin – Marilé Cloete (Uittreksel)

Een

“Agge nee, Sus, tog net nie weer ’n Engelsman nie.” Anet is onmiddellik spyt sy het die woorde laat uitglip. Sy het self nie besef destyds se debakel met James Stewart lê nog so vlak in haar geheue nie.
Reinet gebruik natuurlik die kans om vir haar te preek. Sy mag met ’n paar minute die oudste van die drie susters wees, maar sy gebruik alte graag haar status as ousus om vir Anet en kleinsus Maret oor die kole te haal of rigting te wys. Natuurlik bedoel sy net goed, maar soms kan dit effens irriterend wees. Soos nou. “Antjie, is jy dan regtig nog nie oor daai simpel Engelsman nie? Hoe lank is dit nou? Tog al ’n hele paar jaar? Wanneer gaan jy aanbeweeg?”
“Ek is lankal oor hom en natuurlik het ek aanbeweeg, Nettie.” Sy kom orent van die bed waar sy kruisbeen oorkant Reinet gesit het, gaan streel weer oor die trourok wat teen die kas hang. “Dis môre jou troudag, Nettie, ek sal dit nie bederf omdat ek nie lus is vir Reinier se Engelse vriend nie. Ek sal my soet en sedig gedra.”
Reinet lag sommer kliphard. “Soet en sedig? Agge nee, dan gaan ek ’n baie vervelige troue hê. Jy was nog altyd die een van ons drie wat die lekkerste kan jol. Moet nou nie môre met stywe lippies sit nie, hoor.”
“Solank ek nie my lippies vir die Engelsman hoef te tuit nie, is ek reg vir ’n jol.” Reg vir ’n jol is sy inderdaad. Sy kan skaars onthou wanneer sy laas die siel van ’n partytjie was. Die afgelope paar jaar was helaas nie een lang partytjie nie. Eers was dit James wat nie was wat hy voorgegee het om te wees nie, toe die skuif uit die stad terug na die Swartlandse dorp waar sy grootgeword het, en toe die pandemie. Die pandemie wat soveel mense van hul drome beroof het, maar tog ook aan sommiges nuwe drome gegee het. Soos vir Reinet en Reinier wat môre trou aan mekaar gaan beloof. Twee mense wat deur hul swaarkry by mekaar uitgekom en saam vorentoe beweeg het. Dit voel vir haar ekstra spesiaal dat die troue skuins voor Kersfees plaasvind. Sy kan nie aan ’n beter Kersgeskenk dink as haar suster se geluk nie.
Reinet kom ook orent, hou die lieflike rok vir die hoeveelste keer voor haar en draai ’n paar keer in die rondte. “Dit is darem net die mooiste rok wat ek nog in my lewe gesien het. Om te dink tannie Babs het dit gratis en verniet vir my gemaak. Dat ons drie saam vir oulaas hier in haar huis kan slaap, maak dit nog meer spesiaal.”
“Is jy nog nie spyt jy het hier in die Karoo kom trou nie, Sus?” Reinet het die afgelope jaar deel geword van die plattelandse gemeenskap, vriende gemaak, haar koffiewinkel gevestig. Dit voel eenvoudig rég dat sy hier trou.
Reinet staan droomverlore met die rok teen haar vasgedruk. “Nee, dis presies soos dit moet wees. Ek hoort nou hier.”
Anet vat die rok saggies uit haar sussie se hande, hang dit weer versigtig teen die kas. “Jy gaan môre verkreukeld voor die preekstoel staan as jy nie nou jou hande van die rok afhou nie, Sus.”
“Ek kan nog steeds nie glo hoe gelukkig ek was om vir Reinier raak te loop nie. Ek het werkloos en geldloos en moedeloos op ons grootworddorp by jou kom plak – en daar vind ek die liefde van my lewe.”
Dit bly maar ’n snaakse prentjie waaroor daar nog lank in die familie gelag gaan word: Reinet wat van verveling insluimer op haar eerste dag met die koffiewaentjie in die koringland, Reinier wat stilhou vir versterking voor hy sy lewe weg van die plaas af aanpak – en ’n skewe antwoord kry op sy onskuldige vraag of daar koffie is. Twee dapper mense in die greep van omstandighede, vasbeslote om nie onder te gaan nie. “Ek sal die tyd van die Vier Musketiers nie lig vergeet nie – ek dink steeds dit was ’n blink plan van my dat ons drie en Reinier kragte saamsnoer en ons dienste onder een sambreel bemark.”
Reinet kom sit weer langs haar op die bed, vat haar hande vas. “Ek is nog steeds jammer ek en Reinier moes die Vier Musketiers opbreek, maar dit was net logies dat ek saamkom toe hy kon terugkom plaas toe. Ek het eenvoudig nie kans gesien om daar te bly en wanneer ons trou sonder enige voorbereiding ’n boervrou te word nie.”
Anet was ietwat verstom oor haar sussie se versigtige benadering. Self sou sy waarskynlik sommer ingespring en getrou het. Maar nee, Reinet het vir ’n jaar hier by Reinier se tannie Babs op die dorp gewoon, haar koffiewinkel aan die gang gekry, die dorp en die omgewing se mense leer ken, vir Reinier beter leer ken, die boerdery leer ken. Môre kan sy met ’n geruste hart langs haar geliefde voor die kansel staan en haar belofte aflê. “Ek hoop julle gaan vreeslik gelukkig wees, Sus. En ek hoop die goeie reën van die afgelope jaar hou aan en aan en aan.”
“Ek hoop saam met jou so, Antjie.” Reinet se oë word sommer vol trane. “Hier is dit mos met elke bui reën so goed soos Krismis. Die besadigste boere raak skoon uit hulle nate as dit lekker reën.”
“Wel, ek hoop hulle kry vanjaar die een Krismisboks na die ander.”
“Reinier het soveel drome vir die plaas, Anet, maar die herstel van die veld is ’n stadige proses. Nog ’n hele paar goeie jare sal nodig wees voor die plaas werklik weer tot sy reg sal kom. Dis juis daarmee wat Steve vir Reinier help en hoe ek hom ook leer ken het.”
“Steve?”
“Die Engelsman waarteen jy dit so het. As jy dan nou werklik nog met die Boereoorlog besig is, sal jy maar op die ander strooijonker moet konsentreer. Hy’s ook nie sleg nie; knap dokter, baie lewens tydens die pandemie gered. Ek het egter ’n sagte plekkie vir daai Engelsman.”
“Ek gaan op geen man konsentreer nie. Jy weet mos my besigheid is op hierdie stadium my eerste en enigste liefde.” Anet staan op, gaan hamer met opset aan die badkamerdeur. Dis nie nodig dat Reinet weet hoe swaar dit soms is om alleen te wees nie, hoe eensaam daardie pragrok teen die kas haar op ’n manier laat voel nie. “Maret,” roep sy, “gaan jy heelaand in die bad lê? Ek wil nog tande borsel. Ons moet tot slaap kom, anders staan die bruid môre leepoog aan haar bruidegom se sy.”
Maret maak die deur onverwags oop, kom laggend te voorskyn. “Sy het klaar die man gevang, dit maak nie saak as sy verlep lyk nie. Ons twee moet droëbek staan en kyk – die minste wat ons kan doen, is om te sorg dat ons manjifiek lyk.”
“Voel jy ook so ’n klein bietjie jaloers, Maret?” Anet fluister die vraag vinnig, skaam om dit te erken, maar tog met die lekker gevoel dat sy nie alleen is nie.
Maret voel definitief geen skaamte nie. “Natuurlik is ek lekker jaloers,” blaker sy dit laggend uit sodat die aanstaande bruid verbaas opkyk. “Ek is darem flippen bly ek hoef nie op daai eensame plaas te gaan bly nie. Ek gaan my maar môre op die doktertjie toespits. Jy sal die Engelsman moet vat, Antjie. Ek hoor hy’s meer in die veld as by die huis. Ek bly maar ’n dorpsmeisie; vir ’n kampeerdery het ek nie trek nie.”
“O, asseblief tog, ek ook nie. Julle weet mos hoe erg is ek oor my naels. Vir ’n gekarring tussen karoobossies het ek regtig nie krag nie.” Anet hou haar perfekte naels omhoog, verkneukel haar in die herinneringe. “Onthou julle hoe het ek gekerm oor my naels toe ek destyds begin huise skoonmaak het?”
“Jy moes google wat ’n mens alles moet doen om ’n huis agtermekaar te kry,” lag Maret saam.
“En jy het jou dae gehad met ou tannies se bedorwe skoothondjies en ooms se waghonde wat jou wild en wakker gesleep het met die stappery,” kry sy haar kleinsus terug.
Reinet kom orent, trek hulle albei weerskante van haar op die bed neer. “Ons het saam swaargekry, julle, maar dit was so kosbaar om weer saam te wees. Ek sal daai tyd nooit vergeet nie.”
“Ons ook nie. Gelukkig het ek nog vir Maret om my siel te versondig.” Dit gaan nie altyd so maklik met Ousus en Kleinsus alleen in die woonstel wat hulle drie gedeel het nie. Soms wens Anet Maret wil ook haar eie koers kry, maar aan die ander kant weet sy nie hoe sy weer alleen sal regkom nie.
“Jy gaan my mis as ek daai doktertjie vat en terug Kaap toe trek, hoor.” Maret gee haar ’n skewe drukkie. “Nou moet ons regtig inkruip. Môre gaan ’n besige dag wees en die strooimeisies moet die manne se voete onder hulle uitslaan.”
“Julle mag nie die bruid in die skadu stel nie, hoor,” keer Reinet laggend.
Hulle arms gaan outomaties om mekaar se skouers. “Niks en niemand sal jou glans kan steel met daardie rok en blink oë van jou nie, Nettie. Jy het die jackpot geslaan en ons gun jou dit.”
Anet luister nog lank na haar susters se rustige asemhaling, veg teen die gevoel van eensaamheid wat aan haar bly knaag. Vir die eerste keer in ’n lang, lang tyd wonder sy weer hoe dit sal wees om iemand aan jou sy te hê, iemand wat altyd aan jou kant is, iemand agter wie se rug jy saans kan inkruip. Daardie iemand gaan in elk geval nie ’n Engelse bossiekenner wees nie, daarvan is sy baie seker.