Weergalose liefde – Marie-Louise Cronjé (Uittreksel)

Weergalose liefde – Marie-Louise Cronjé (Uittreksel)

Een

Dis ’n bekende reuk wat Danielle Saunders begroet toe sy die trappies na die statige ou woonhuis een vir een betree. Die subtiele vermenging van ou boeke en meubelpolitoer laat ruk ’n diep nostalgie in haar op en voer haar gedagtes vinniger terug na die verlede as wat die rit hierheen kon doen. Vir ’n oomblik staan sy vasgenael in die deuropening, onmagtig om te beweeg voor sy instap.
Sy doen dit stadig, byna eerbiedig. Ná die skerp sonlig buite is die binnekant van die huis koel en skielik donker, en sy skreef haar oë na die vrou wat haar in die sitkamer staan en inwag. Penorent staan sy, haar skouers reguit en haar ken gelig.
Alles in haar houding spreek van antagonisme, maar haar stem toe sy stram groet, is ontdaan van enige emosie: “Middag, Danielle.”
Nie “goeiemiddag” nie. Want vir nie een van hulle is dit regtig ’n goeie middag nie. En Danielle weet dat dit weens dieselfde rede is. Maar onwetend aan die vrou wat haar steeds bewegingloos inwag, ook om heeltemal uiteenlopende redes. Net ’n kortaf “Middag, Danielle”. Alles wat sy egter nie sê nie is so lewendig in haar oë dat dit byna vir Danielle tasbaar voel.

“Hallo, Bets. Hoe gaan dit?” Haar groet word met ’n kil stilswye beantwoord en Danielle kyk vinnig weg, laat haar oë oor die binnekant van die huis speel. Dis of die jare wegval en sy terugstap in die verlede. Alles is nog net soos sy dit in haar gedagtes kan onthou. Die bonkige meubels blink in die skrefies son wat deur die dik gordyne val en die strale speel oor die houtvloere, verlig die stofspikkeltjies wat tussen hulle hang soos die stilte wat ongemaklik langer rek.
Sy skraap haar keel, kug liggies. “Jy lyk goed, Bets. Hoe lank is dit sedert ons mekaar laas gesien het? Sewe, agt jaar?”
“Tien jaar, agt maande en ’n paar dae.” Die antwoord kom so vinnig dat dit by Danielle geen twyfel laat Bets het dit vooraf noukeurig gaan tel nie.

Sy wil lag, maar blaas net haar asem uit, voel hoe dit rukkerig oor droë lippe kom en reik instinktief na haar lipstiffie in haar handsak. Indien dit enigsins moontlik is, word die oë wat op haar rus nog ’n paar grade kouer.
“So lank?” vra sy onnodig, magteloos om die skerp pyn in haar binneste af te weer. Tien jaar. Amper elf. Dis ’n lang tyd. Die lewe het draaie met haar geloop wat sy nie kon voorsien nie, maar in hierdie oomblik het sy nie verweer teen die verwyt wat daar in die ouer vrou se oë speel nie.

Sy gaan staan voor Bets, skielik spyt dat sy nie vanoggend haar hoëhakskoene verruil het vir iets gemakliker en met ’n laer hak nie. Sy troon kop en skouers bo haar pa se suster uit en dié gee ’n tree terug.
“Te lank. Hoe was die vlug?” vra Bets, maar Danielle kan in haar stem hoor dat dit haar nie ’n duit skeel of dit goed gegaan het of nie.

“Te lank,” kan Danielle nie help om te eggo nie, maar haar glimlag gaan verlore op die vrou voor haar. “Ek weet jy het my eergister al verwag, maar ek was eenvoudig te vlugvoos en moeg om dadelik hierheen te kom.” Dit het al haar energie en wilskrag geneem om vanoggend uit die bed op te staan, maar sy sê dit nie. Sy twyfel of Bets sal verstaan. Of omgee. “Ek is jammer as dit jou reëlings omvergewerp het.”
“Jou pa is reeds begrawe, Danielle,” laat Bets styf hoor. “Niks is nou meer dringend nie.”
Sy laat die ander vrou se gevoellose woorde oor haar spoel. Dis nie asof sy verwag het dat Bets haar om die hals gaan val en hulle moeiteloos weer die drade van die verlede gaan optel en aangaan waar hulle dit laas gelos het nie. Sy het haar voorberei op ’n koue skouer en ’n marmergesig. Dit laat haar nie beter voel nie, maar ten minste was sy dit te wagte.

“Jy kan maar deurstap.” Bets swaai met haar hand ’n uitnodiging en staan nog ’n tree terug. “Jou pa het nie veel aan die huis verander sedert jy laas hier was nie. Ek het die meubels en alles net so gelos. Toe ek niks van jou hoor nie, het ek maar aangeneem jy wil seker van sy boeke en joernale ook hê voor ons besluit wat om met alles te maak.”
Dis met moeite dat Danielle die warm antwoord terugbyt. Tussen die skoknuus van haar pa se afsterwe, die halsoorkop reëlings wat daarna gevolg het en ’n uitmergelende vliegrit terug Suid-Afrika toe, was daar eenvoudig nie tyd vir oproepe en lang, telefoniese gesprekke nie. Die onpersoonlike e-pos wat Charles namens haar gestuur het, moes maar doen.
Wat moes sy in elk geval sê? Vir soveel jaar was daar geen kontak tussen haar en Bets nie. Dis moeilik om te glo dat hulle op ’n tyd so goed oor die weg gekom het dat sy soms weggeloop het na haar jong tannie toe om daar te gaan oornag.
Sy wil omdraai na Bets en vra: Onthou jy nog? maar alles in die ander vrou se houding weerhou haar daarvan.
“Dit was moeilik om dadelik alles gereël te kry.”
Dis ook nie wat sy regtig wou sê nie en gemeet aan die trek op Bets se gesig, iets wat maar liewer kon gebly het.

“Só moeilik? Jy is drie weke te laat, Danielle. Hoe moeilik kan dit wees om reëlings te tref wanneer jy die hele wêreld aan jou voete het?”

Dié keer tref Bets se woorde die seer kol wat sy so naarstiglik probeer wegsteek, maar sy het ’n harde leerskool gehad en die glimlag wat sy na Bets flits, is so opreg as wat sy kan bemeester. “Moeiliker as wat jy dink.”
Dis met ’n tikkie genoegdoening dat Danielle die trekkie van verbasing in Bets se oë merk. Sy is nie hier om te baklei of nuttelose beskuldigings rond te slinger nie. Sy verstaan die diep seer in Bets se oë omdat sy dit ook in haar binneste ronddra. Haar pa se heengaan laat ’n groot leemte in beide van hulle se lewens, en sy mag nooit vergeet dat Bets daar was vir hom toe sy nie kon nie.

“Hoe dit ook al sy,” Bets trek haar skouers ongeërg op, wys in die gang af, “die studeerkamer was mos maar altyd sy domein.” Sy stap vooruit en stoot die houtdeur oop. “Hy wou niks daarvan weet om die pasiëntelêers na die kliniek te skuif nie. Nee, dit het hier gebly. Ek het hom meer as een aand betrap waar hy nog tot laat aantekeninge gesit en maak het en oor ’n diagnose gewonder het. Stap deur, Danielle.”

Byna eerbiedig gehoorsaam Danielle. Die vloer plank kraak toe sy oor die drumpel tree. Die lang vergete, dog bekende geluid laat haar vassteek. Sy verwag amper om haar pa te sien opkyk van agter die groot lessenaar, die verwelkomende glimlag te sien vorm om sy mondhoeke. Die swaar gevoel in haar binneste het afgesak tot in haar voete, hou haar vasgenael waar sy staan.
“Jy moes hier gewees het.” Dieselfde gedagte moes ook deur Bets gegaan het en die verwyt in haar stem is weer eens onmiskenbaar. “Hy was dankbaar vir almal wat kom inloer het toe hy so siek was, maar geeneen van hulle was jy nie. En sy oë het jou in almal gesoek.”
Danielle laat dit gelate oor haar spoel. Sy verdien dit. Sy het vir ’n wyle geweet haar pa is nie gesond nie. Toe die geleentheid hom voorgedoen het om te kom, het sy dit laat verbyglip. Daar is geen aanvaarbare verskoning nie, daarom bied sy nie een aan nie.

“Die huis is nou joune,” gaan Bets onverstoord voort. “Hier was in ’n baie kort tydjie al so baie eiendomsagente wat die plek in die mark wou sit, maar ek het vir jou gewag om te sê wat jy wil doen.”
Danielle voel die stramheid in die glimlag wat haar lippe plooi. Wat sy wil doen. Dis so lank sedert sy ’n gedagte geskenk het aan wat sy wil doen. Regtig wil doen. Met oorgawe en passie.

“Jy het ook lank hier gewoon, Bets. Jy was vir baie jare my pa se ontvangsdame en regterhand. Wat gaan jy doen as ek besluit om die huis te verkoop?”

“My broer het voorsiening gemaak vir my, Danielle. Ek het my eie plek en ek leef baie gemaklik. Dit was altyd sy wens dat jy hier sal bly, maar . . .” Bets se stem draal weg, maar in haar oë lê al die vrae en verwyte wat sy nie hardop uitspreek nie. “In elk geval, die agente se name en nommers is daar op die lessenaar. Jy kan ’n klein fortuin kry vir die huis. Ek dink nie jou pa het ooit besef dat hierdie nederige stukkie grond in Melkbosstrand nou vir miljoene kan verkoop nie.”
“Ek gaan nie verkoop nie, Bets.”
Die verbasing wat sy in Bets se oë sien, ewenaar die gevoel in haar binneste. Die woorde het net uitgeglip, maar dit eggo elke diep hoop en verwagting wat nou al so lank in haar binneste lê en sluimer.
“Nie? Maar ek het gedink jy gaan net wag tot die boedel afgehandel is voor jy terugkeer Amerika toe. Of dink jy daaraan om die huis te verhuur?”
Drie groot boekrakke beslaan die muur agter die lessenaar. Met haar oog volg sy die reguit lyne daarvan. Dolf Duvenhage het ’n groot hart en ’n oop hand gehad vir sy medemens. Die enigste passie wat dit oortref het, was sy liefde vir boeke.

“Nee. Ek sal dit haat om te dink hier moet mense woon wat nie dieselfde liefde en respek gaan hê vir wat my pa hier tot stand gebring het nie.”
’n Diep frons plooi Bets se voorkop. “Ek volg jou nie, Danielle. As jy nie wil verkoop of verhuur nie, wat is jou planne dan?”

’n Kortaf laggie ontsnap haar lippe. Sy is sat daarvoor om haar lewe vooruit te beplan. Keelvol vir mense wat besluite namens haar neem. Vir eens wil sy net iets op die ingewing van die oomblik doen. Sonder om te wonder oor die gevolge daarvan. “Ek gaan nie terug nie, Bets.” Selfs terwyl sy die woorde uiter, weet Danielle dat haar hart al lankal hierdie besluit namens haar verstand geneem het. Dis of die swaar kol op haar maag effens skiet gee. Of sy vir ’n kort oomblik weer makliker kan asemhaal.

Sy kyk na Bets en glimlag toe sy die verwarring op haar gesig sien.Haar pa se jong en enigste laatlamsuster het dieselfde diepblou oë en aantreklike gelaatstrekke waarmee haar pa ook gespog het. Ferm ken. Hoë wangbene. ’n Ou gedig van Jan Cilliers roer in haar gedagtes: ’n Oog wat nie wyk en ’n bars kan kyk. ’n Wil wat so vas soos ’n klipsteen staan. Vir ’n oomblik is dit of sy weer haar pa se oë op haar voel rus en sy swaai weg.

“Ek verstaan nie,” laat Bets weer hoor, haar stem ’n oktaaf hoër as ’n oomblik gelede.

Danielle loop tot voor die lessenaar, laat gly haar vingers oor die satyngladde oppervlak tot dit die duikie in die hout vind. Ingedagte streel sy daaroor. Sy kan nog onthou hoe bang sy was om haar pa te vertel dat sy die marmerstandbeeldjie omgestamp het en die duik wat dit in die hout gelaat het. Dit was kort ná haar twaalfde verjaarsdag. Hy het daardie middag eers laat by die huis gekom, maar sy het hom ingewag. Het penorent in sy stoel gesit en nie een maal haar oë van hom weggeneem nie.

Die herinnering aan daardie middag ruk in haar los met soveel helderheid dat Danielle die skielike opwelling van emosie met moeite beheer. Hy het aandagtig geluister na haar relaas. Nie ’n woord gesê of ’n oog geknip nie. En juis sy stilswye het die trane laat loop. Toe het hy haar op sy skoot getel, haar hand in syne geneem en oor die keep in die hout gevryf. Haar die versekering gegee dat hy nie kwaad is nie. Dat dit hom altyd aan haar sal herinner. Maak nie saak waar sy haar bevind nie.
Die kepie is baie dieper as wat sy kan onthou. Het hy dalk meer as een maal sy vingerpunte daaroor laat gly en gewonder waar presies sy dogter haar bevind? Wat sy besig is om met haar lewe te doen en of dit sy goedkeuring gaan wegdra?

“Ek gaan nie terug Amerika toe nie, Bets. Ek gaan hier bly. Vir goed.”