Bernette Bergenthuin is ’n jong advokaat van Pretoria. As oud-Matie sal die Boland altyd herinneringe inhou wat sy koester, maar tans is die kriewelrige noorde haar tuiste. Ná prettige hoërskooljare by die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria studeer Bernette BRekLLB op Stellenbosch en leef haar totaal in al wat kampusaktiwiteit is. Ná voltooiing van ’n honneursgraad in Bestuursrekeningkunde voltooi sy haar prokureursklerkskap in Pretoria. Pupilskap by die Pretoria Balie volg. Bernette se eerste Romanza, Flenters vir Lint, word in 2011 gepubliseer by LAPA. Nog twee Romanzas volg waarna sy haar hand waag aan ’n romantiese komedie, Lam in Wolfsklere. Tussen 2014 en 2016 verskyn nog drie enkeltitels, Als oor kop, Stiletto’s van staal en Viva la Vida. Verskeie kortverhale vloei deurentyd uit die skrywer se pen en verskyn van tyd tot tyd in tydskrifte. Sy was twee keer ’n finalis in die ATKV-Woordveertjieprys, een maal vir die romanseprys met Glansheld en die koerantprinses en die tweede keer vir die liefdesromanprys met Stiletto’s van staal.
Kommentaar (10)