Sy druk Marco teen haar vas. Sy sou self graag gang-af wou hardloop om naby Benno te wees, sy gerusstellende nabyheid te voel. Nog nooit het sy so ’n storm beleef nie. Reën en hael spat soos klippe teen die vensters.
“Wil julle by ons kom inkruip?” kom Benno se bedaarde stem van die deur af.
Die weerlig verlig hom waar hy met Frieke op sy arm in hul kamerdeur staan, ’n flits in sy ander hand. Marco spring dadelik uit die bed. “Hoekom het jy so lank gewag, Pappa-Ben,” verwyt hy. “Ons was bang.”
“Nou toe, kom,” Benno se kyk vat en hou Annanie s’n vas.
Annanie glimlag stram en trek haar skouers op. Hul klein optog trek agter die flits se ligkol aan gang-af. Na die hoofslaapkamer. Benno stoot die deur oop. In die lanternlig sien sy dadelik die yslike bed wat die vertrek oorheers.
Benno trek die beddegoed weg en die kinders klouter opgewonde in.
Benno hou sy arm uitnodigend uit. “Hier is plek vir jou.”
“Kom nou, Mamma-jong. Dis koud,” jaag Marco haar aan.
Annanie trek haar japon uit, oorbewus van die nagklere wat teen haar lyf vassit.
“Die goed is dan nat!” ontdek Benno en trek haar styf teen sy warm lyf vas. “Toemaar, jy sal gou droog word.”
Dis dan hoe dit voel om in Benno Kannemeyer se arms aan die slaap te raak, mymer sy toe sy teen hom opkrul. Al gaan haar hart wilder as die pasafgelope storm tekere, vat die vaak haar tog later vas en beroof haar van die kans om die onverwagte meevallertjie ten volle te geniet.
Annanie word stadig wakker. Besef byna dadelik waar sy is.
Sy lê knus in Benno se arms. Sy groot lyf vou nommerpas styf om die kromming van haar rug, sy knieë is in die waai van haar bene ingedruk. Haar kop rus op sy boarm, die ander is dwarsoor haar bolyf gedrapeer, sy hand onder haar heup ingewig. Hierdie warm band trek haar vas teen sy bors, hou haar teen hom gevange.
Sy lê doodstil. Is byna te bang om asem te haal. Benno se asem roer by haar oor. “Lekker geslaap?” dreun dit gedemp.
Haar hart bokspring bly. Sy knik, voel hoe hy haar op haar rug gedraai. Toe haar oë verras oopgaan, ontdek sy sy gesig reg bokant hare. Hy lê nog op sy sy, met sy kop op sy handpalm gestut. Daar is slaapmerke op sy wang, goue stoppelbaard oor sy ken. Klein weerkaatsings van ’n rooikopmeisie in sy groen oë.
“Ek is bly jy is hier.” Die spiertjie wat in die kromming van sy kaak spring, gee die eenvoudige woorde ekstra betekenis.
Sy glimlag terug. “Ek ook.”
Sy gesig ontspan in ’n glimlag. Toe buk hy nader en vou sy hand onder haar kop in. “Jy is ’n baie begeerlike vrou,” sê hy en begin haar mond met syne verken. “Onweerstaanbaar.”
Sy wonder nog of hy enige idee het hoe onweerstaanbaar hý op die oomblik is. Toe gee sy haar met ’n sug oor aan die saligheid van sy tydsame verkenningstog van haar mond, gesig. Lyf.
“Haai, Mamma-jong wanneer gaan julle dan opstaan dis lankal-al dag,” praat Marco op een asem deur die newels. Benno verstyf, laat haar stadig gaan en lê terug teen die kussings.
Kommentaar (15)