Eerste liefdesverhale van 2019!

Want die hart weet – Elsa Winckler

Simoné glo sy is ’n doodgemiddelde kunstenaar wat nooit êrens sal kom nie, maar aanvaar nietemin ’n opdrag van Wessel om nuwe botteletikette vir sy wyne te ontwerp.

Sy en Wessel weet Jody, Simoné se peetma, smee allerhande plannetjies om hulle aan mekaar af te smeer en maak ’n onfeilbare plan om die familie te flous. Tog raak Wessel verslaaf – nét verslaaf – aan Simoné, terwyl sy hom liefkry. Maar die reëls van hulle ooreenkoms sal sy nakom en hom laat gaan, al breek haar hart.

Toe Wessel uiteindelik besef sy hart het die oorhand oor sy verstand gekry, is hy bevrees dit is dalk te laat om weer Simoné se guns te wen …

 

Perfek vir my – Marilé Cloete

Cassandra gaan toer teen haar beterwete saam met Essie en Henk en die onuitstaanbare Francois deur die Karoo. Toe sy hoor haar sus en swaer wil haar en die onmoontlik aantreklike Francois afpaar, sien sy rooi. Sy soek immers nie ’n man nie.

Maar Francois, wat haar rustige ekwilibrium kort voor lank opfoeter, gee buitengewoon baie om vir sy ou hond, Lea, en begin so om die ys rondom Cassie se hart te smelt.

Van ’n verhouding en verdere kontak is daar hoegenaamd geen sprake nie. Maar Lea se opvolgbesoek lê voor … Die ding is net, sal Cassie kans sien om ietwat oneties in haar eie spreekkamer op te tree?

In sy arms – Felicia Snyman

Delia keer terug plaas toe ná ’n onsmaaklike insident in die buiteland, en ontmoet die aantreklike Adriaan. Hy kuier gereeld op die plaas en haar hart begin gou soos ’n akrobaat s’n klop as hy in die omgewing is.

Maar Adriaan het bagasie uit die verlede waarmee hy nie wil vrede maak nie en dit kortwiek alle kanse op ’n verhouding tussen hulle. Boonop sien hy rooi oor haar vriendskap met sy stiefbroer.

Toe hy uitvind sy help sy stiefma om die erfplaas te behou, onttrek hy heeltemal van haar. Al breek haar hart, sien sy in elk geval nie vir so ’n stiksienige mansmens kans nie.

Of sal die bordjies verhang kan word?

Toe vind ek jou – Ilze Beukes

Olivia se pa het sy rug jare gelede op haar en haar ma gekeer, en sy gaan werk by Maraisville om hom te konfronteer. Sy ontmoet die hartebreker Jean-Luc en onmiddellik is daar ’n vonk tussen hulle. ’n Deel van sy hart behoort egter nog aan die beeldskone Luchrisha, en Olivia besluit om hom liewer te vermy.

Alles verander toe haar pa toevallig uitvind wat sy verwantskap met haar is, en Luchrisha haar troefkaart speel.

Olivia se hart smag na Jean-Luc maar dit is duidelik hy voel nie dieselfde oor haar nie. Maar hoekom weier hy dan om hulle byna te intieme vriendskap te verbreek? Is daar dan dalk tog hoop vir hulle?

In die sterre geskryf – Frenette van Wyk

Chantilly Dubois bevind haar teen haar sin as Papillon op ’n seerowerskip. Hulle word egter deur ’n ander seerowerskip oorrompel en sy moet aanskou hoe haar liefdesdrome in bloed voor haar wegsypel. Maar Papillon neem ’n eed dat sy op El Capitàn sal wraak neem, hoe lank dit ook al duur, haar dag sal kom.

Maande lank, oor oseane en selfs aan die Kaap de Goede Hoop, te midde van groot gevare en ontbering, volg sy hierdie man wat haar geluk gesteel het. Sy verontagsaam selfs die Kaapse goewerneur se besluite oor wat verder in haar lewe moet gebeur.

El Capitàn, daarenteen, sit sy soektog voort na die Peregrina, ’n gesogte pêrel wat die toekomstige Spaanse koningin toekom as deel van haar bruidskat.

Toe hulle paaie weer kruis, moet Papillon teenoor haarself erken dat die wraak wat sy gekoester het stadig maar seker gemengde gevoelens geword het. Hoe anders, in die aangesig van ’n man wat so sterk en dapper sy posisie handhaaf te midde van ’n ruwe klomp seerowers? Is dit daaroor of bloot omdat sy nie langer teen sy manlike aantrekkingskrag kan veg nie? Haat sy hom of het sy hom liefgekry? Dit is die vraag wat Papillon nie beantwoord kry nie.

Splinters van liefde – Alma Carstens

 Splinters van liefde is ’n samestelling van drie van Alma Carstens se vorige Romanzas, Kaapse draai, Tyd sal leer en Luca se obsessie. Dit is Alma op haar beste: fyn uitgewerkte storielyne, diepgaande karakterisering en interessante plekke waar die verhale afspeel.

Kaapse draai:

Lani gaan Kaap toe om vir ’n maand lank saam met ’n wildvreemde boer op sy plaas te bly. Maar waarom sou ’n man wat so aantreklik is, dit nodig vind om vir ’n vrou te adverteer?

Tyd sal leer:

Siënna gaan soek ’n uitkoms vir haar probleem in Malawi. Gou is haar besoek veel meer ’n avontuur as ’n vakansie. Is Marco die oplossing vir haar probleem en die sleutel tot haar vryheid?

Luca se obsessie:

Miranda weier om net nog ’n merkie te word op die kerfstok van ’n lenige Italianer wat op ’n dag haar bloemistewinkel binnestap. Liefde is nie vir haar onderhandelbaar nie. Vir hom blykbaar ook nie.

Alma Carstens en haar man woon die afgelope drie jaar in Bangkok, Thailand waar Jacques as regsadviseur vir ’n Britse maatskappy werk. Stories skryf en lees was nog altyd vir haar meer as net ’n stokperdjie, maar deesdae is dit ook ’n noodsaaklikheid wat help met die verlange na hul kinders in die Kaap

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>