My groot liefde – Elsa Winckler

“Ek het gehoor jy’s terug,” sê ’n diep manstem êrens bokant haar kop.

Haar hart gee ’n paniekerige skop teen haar ribbes. Wian-flippen-Tredoux. Haar trane droog summier op. Sy is lus en gooi haarself op die grond en skop soos ’n klein dogtertjie. Was dit nou regtig te veel om te hoop die vent verskuif sy kantore na ’n ander plek in die tyd wat sy weg was?

“Wian,” groet sy en kyk na wat in haar hande gedruk is. Dis nie ’n snesie nie, maar ’n sakdoek. Sysag en spierwit. Watter man dra nog ’n sakdoek? Sy mik om dit vir hom terug te gee, maar besef sy het dit gebruik. Dit beteken sy sal dit moet was en vir hom teruggee, wat beteken sy moet hom weer sien.

“… bly jy?” dring sy stem uiteindelik tot haar deur.

“Dit het niks met jou …” begin sy, maar Mientjie val haar in die rede.

“Sy kry nie ’n blyplek nie. In die gaatjie waar ek bly, kan ’n mens nie eens ’n kat rondswaai nie, wat nog te sê ’n gas huisves. Weet jy wat vra hulle vir ’n gemeubileerde woonstel? Dis heeltemal belaglik.”

“Jy weet jy’s baie welkom om by my te kom bly,” sê Wian, sy oë op Katryn.

Katryn skud heftig haar kop. Oor haar dooie liggaam.

“Totdat jy ’n plek gekry het.”

“Dis ’n absoluut briljante plan!” roep Mientjie opgewonde uit. “Jitte, Katryn, jy’t mos gesê jy sal regkom. En kyk nou.”

“Ek is feitlik die hele volgende week in Johannesburg, so jy het die plek vir jouself,” sê Wian. “Gaan jy huur totdat jy weer bou?”

“Sy het die erf verkoop,” vertel Mientjie ewe gesellig.

Katryn maak vir haar groot oë.

“H’m … ek … kliënt,” beduie Mientjie wat uiteindelik die boodskap kry sy praat te veel en sy stap vinnig weg.

Wian frons. “Jy het die erf verkoop?”

Katryn knik styf. Dis erg genoeg dat sy kort-kort in trane wil uitbars, en die laaste mens voor wie sy so iets wil doen, is Wian-flippen-Tredoux. Vandat hy aan die begin van verlede jaar sy argitekskantore in dieselfde kompleks oopgemaak het as waar haar deli is, hinder die vent haar. Hy kan so oorvat. Soos nou. Dis duidelik hy dink sy moes nie die erf verkoop het nie.

“So wat is jou plan – waar gaan jy bly?”

Katryn sluk die katterige woorde op haar tong. Sy hou van mense. Sy help graag mense, sy is vriendelik met mense, maar om een of ander rede vryf die vent haar net verkeerd op. Die deli is egter weer besig om vol te raak, dis nie nou die plek om ongeskik te raak nie. “Ek wil ’n kleinerige plekkie hier naby koop. As jy my sal verskoon, ek moet bak vir môre.”

Sy draai weg, maar ’n warm hand gryp hare vas. “Katryn. Kom bly by my totdat jy ’n plek het? Ek kan moontlik ook vir jou met die koop van ’n plek help, ons is besig …”

“Nee, dankie, Wian. Ek sal regkom. Totsiens.”

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>