Opa! vir die Kersfees-boekfees

’n Man soos Lodewijk – Magdaleen Walters

Kon dit nie maar ’n ouer tannie gewees het wat langs Lucy intrek nie? Of ’n stil skrywer? Nou is dit Lodewijk met sy breë skouers, glimlag en lieflike lang lyf. Sy wil trou met ’n kultureel-verfynde man, maar sy kan nie vir Lodewijk uit haar gedagtes kry nie.

Opa vir die liefde – René van Zyl

Athina is uiteindelik gelukkig met haar lewe op die Griekse eiland, Antiparos. Sy het haar kat, winkel en haar geliefde ‘Baba’. Toe Jason Haven met sy kuiltjies en pragtige lyf opdaag, ervaar sy vergete emosies. En met een soen steel
hy haar vrede.

Haar hart se tuiskoms – Annetjie van Tonder

Ná Lana se egskeiding, fokus sy op haarself en haar kinders. Romanse is nie welkom in haar huis nie. Maar haar buurman, Daniël, maak met sy outydse sjarme en mooi blou oë haar hart weer fiks vir liefde.

Sy twyfel nie meer nie – Louise Minnaar

Marisna is smoorkwaad vir die man wat voor haar motor ingedraai het. In die beplanning vir die volgende paar maande het sy nie tyd ingewerk om haar motor te laat regmaak nie … ook nie om verlief te raak nie. Maar haar hart sal tyd maak vir Riaan.

Ter wille van liefde – Susan Olivier

Sy wens sy kon omdraai …

Anja kon haar geluk nie glo toe sy die vakature by die Hoë Prestasiesentrum in Pretoria in haar inboks sien nie. Dis so reg in haar kraal. Hulle soek ʼn fisioterapeut wat deel is van ʼn span medici en sportkundiges wat met belowende sportsterre werk. Nie alleen het sy die vereiste kwalifikasies nie, maar sy was in eie reg ʼn sportster. Vir jare was sy die junior nasionale vrouetenniskampioen in die land. Dis ook hoekom die Universiteit van Kalifornië haar ʼn sportbeurs aangebied het. Helaas het die opkikkerskandaal ʼn einde aan haar sportdrome gebring. Die saak is wel in haar guns geskik, maar teen ʼn duur prys. Haar dryfveer vir groot tennis is weg, en sy gaan lank aan die regskoste afbetaal. Hierdie is die geleentheid waarna sy soek, en sal haar in staat stel om weer in Suid-Afrika ’n nuwe begin te maak.

Maar toe gaan haar tannie Amelia dood, en sy moet terugkeer na haar geboortedorpie in KwaZulu-Natal, Glenville, om toe te sien dat die boedel afgehandel word. Sy ervaar baie konflik want haar eksverloofde, sy vrou en kind bly in die huis langs haar tannie. Anja het hom en die vrou in ’n vurige omhelsing betrap weke voor hulle sou trou, en is toe landuit. En nou gaan sy weer Henk se ouer broer, Riekert moet sien. Die man wat altyd met sy broeiende blik en donker oë regdeur haar kon sien …

Om jou te vind – Kristel Loots:

Kristel Loots is bekend vir haar fyn humorsin en besondere vermoë om haar karakters uit te beeld. Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Kristel se vorige liefdesverhale, Liefde op Vergeetbaai, Kiki se kroonprins en Sieraad uit as.

Liefde op Vergeetbaai:

Irmariana koop die kothuis langs Zak de Beer, wat sy privaatheid beskerm en ’n muur tussen hulle wil oprig. Vergeetbaai is afgesonder en hulle loop mekaar (noodwendig) raak. Irmariana het Vergeetbaai toe gekom om weer heel te word en om te werk aan haar jongste kinderboek. Sy durf nie toelaat dat ’n man haar aandag aftrek nie. Selfs al is hy uiters aantreklik en betowerend.

Kiki se kroonprins:

Kiki moet ’n onderhoud voer met ’n skatryk hubare sakeman wat die erfgenaam van Kroukamp Internasionaal is, Olaf Kroukamp. Hulle voer klere en skoonheidsmiddele uit. Hy het ook ’n boek geskryf wat mense aan die praat het en verkoop selfs die filmregte daarvoor. Kiki lê hom voor toe hy met sy honde gaan stap. Later pas sy sy herehuis en honde op. Olaf wen ’n literêre prys en vra Kiki om hom te vergesel. Haar ekskêrel, Roger sien die insetsel op televisie en spoor haar op. Hy doen alles in sy vermoë om Kiki en Olaf se verhouding te laat sneuwel.

Sieraad uit as:

Janette gaan woon ’n week lank in afsondering as proefkonyn vir navorsing oor die rookgewoonte. Kameras volg inwoners se verslawing. Sy sukkel om haar gevoelens vir die ghoeroe, Marnitz Marais te onderdruk. Janette is ook die troostante vir die tydskrif waarvoor sy as joernalis werk. ’n Super Girl sorg vir heelwat intrige en doen alles in haar vermoë om Marnitz en Janette se ontluikende verhouding te saboteer…

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>