Sy twyfel nie meer nie – Louise Minnaar

“Jy het in my vasgery,” wys die man uit. Die geamuseerde glimlag sit steeds op sy gesig.

Marisna trek haar asem diep in. “Jy het voor mý ingery …”

“Kom nou, Mar, ons moet net vinnig al die besonderhede kry sodat ons by die universiteit kan uitkom,” kerm Lize en trek liggies aan haar arm.

“Skryf julle toets?” vra die man simpatiek.

Marisna antwoord hom nie en gee haar vriendin ’n vuil kyk. As Lize so graag persoonlike goed voor die man wil kwytraak, kan sy maar met hom praat.

“Jy bloei, Mar,” gebruik die man dieselfde naam wat Lize vir haar gebruik het.

“Ek weet, ek kan dit voel,” antwoord Marisna kwaai. “En moenie my Mar noem nie.”

“Ek het ’n noodhulpkissie in die kar,” antwoord hy en draai dadelik om na sy kar toe.

Marisna wil hom keer, maar trek dan haar skouers op. Laat die man doen wat hy wil. Eers toe hy doelgerig begin wegstap, besef sy dat sy nog nie na die skade aan haar pragtige rooi Mini gekyk het nie. Al twee die voorste ligte is stukkend en die hele voorste paneel sal vervang moet word. Marisna trek haar asem skerp in. Sy voel hoe haar oë vol trane skiet. Dis nou die laaste ding wat sy in haar lewe nodig het.

Sy het nie tyd hiervoor nie. En ’n kar is gewoonlik nie weer dieselfde nadat dit in ’n ongeluk was nie. Dis nie regverdig nie. Sy betaal hard af aan hierdie voertuig van haar en sy pas hom altyd onberispelik op. Dit voel skielik of al haar moeite om mooi na haar kar te kyk verniet was. Sy voel lus om te skree. Hardop te skree. Dis so onregverdig en daar is niks wat sy kon doen om dit te verhoed nie.

“Jy gaan ongelukkig die hele paneel moet vervang,” praat die man skielik langs haar en Marisna kyk verbaas op. Sy het nie besef hy staan langs haar nie. Sy het gehoor Lize sê iets vir hom en het aangeneem hulle is besig om besonderhede uit te ruil.

“Ek besef dit,” mompel Marisna vies. Behalwe as die man ’n paneelkloppery besit, gee sy nie vreeslik om oor sy mening oor wat aan haar kar vervang moet word nie.

“Kan ek asseblief jou sny ontsmet?”

Marisna gee hom ’n vuil kyk. Asof sy sal toelaat dat ’n vreemde man mediese behandeling uitdeel.

“Is jy ’n dokter?”

“Nee, maar . . .”

“Dan het ek nie jou hulp nodig nie, dankie.” Hy gaan nie aan haar raak nie.

Marisna sien met genoegdoening hoe die amusante kyk in sy oë plek maak vir frustrasie. “Vat dan maar dié en doen dit self.”

Sy oorweeg dit vir ’n oomblik om te weier, maar bedink haar. Dis darem nie nodig om kinderagtig te wees nie. Sy vat die ontsmetlappie wat steeds in plastiek geseël is.

“Dankie.”

“Riaan,” sê hy en hou ’n hand na haar toe uit. “Dis jammer ons ontmoet mekaar nie onder beter omstandighede nie.” Hy glimlag so wragtie weer en sy oë terg haar, asof hy wil sê dat sy tog nie alles so ernstig moet opneem nie.

Onwillig neem sy sy hand en mompel haar naam. Sy sou oorleef het om nooit die man se naam te weet nie. Wat hét hy gesê is sy naam? wonder sy vererg. Sy is gewoonlik goed met name. Lize is egter reg. Daar is nie tyd om met die man te redeneer nie. Hulle moet nou net die nodigste afhandel sodat hulle kan gaan toets skryf.

“Gee my asseblief jou nommer?” vra Marisna. Sy haal haar selfoon uit om die details te neem. Toe sy sien hoe haar hande bewe, oorhandig sy haar foon aan die vreemdeling sodat hy sy inligting kan intik. Hy lyk heeltemal te kalm, dink Marisna vies.

Dit was regtig onnodig. Kon hy nie maar net gewag het voordat hy voor haar ingedraai het nie? Nadat hy klaar getik het, bel hy sy eie nommer op haar foon en wag tot ’n vrolike deuntjie uit sy sak kom.

“So ja. Nou het ek jou nommer ook.”

Marisna knik net. Ten minste weet sy dat hy sy regte nommer vir haar gegee het.

“Baie dankie. Ek sal jou bel om reëlings te tref. Sterkte met julle toets,” voeg hy by terwyl hy begin wegloop. ’n Blik in sy kar se rigting laat Marisna se humeur sommer weer opvlam.

“Sy blou blik het omtrent nie ’n skraap nie maar kyk na myne. Waar gaan ek die geld kry om dit te laat regmaak?”

“Jy kan tog nie regtig van hier af sien hoe erg sy kar beskadig is nie,” probeer Lize troos, maar Marisna waai net ’n arm in die lug asof sy Lize wil stilmaak. Dis nie regtig die punt nie, wil sy skree. Hoe erg die man se kar beskadig is, het niks met haar te make nie. Sy wil net die tyd terugdraai na toe sy nog ’n heel kar gehad het.

“Kom ons ry. Om hier te bly staan, gaan geen verskil aan die saak maak nie.”

“Oe, hy is so aantreklik. Ek sal nie omgee om hom weer te sien nie,” sê Lize toe hulle weer in die pad draai.

Marisna frons en kyk na haar bewerige hande op die stuur. Haar hele lyf voel soos jellie van die skok, en al waaraan Lize kan dink, is hoe die man wat hulle gestamp het, gelyk het.

“Het jy nie gedink hy is aantreklik nie?” vra Lize toe Marisna nie antwoord nie.

“Ek dink nie ek sal hom tussen ’n skare kan uitken nie,” erken Marisna. Sy het regtig nie opgelet hoe die man lyk nie. Al wat sy die hele tyd raakgesien het, was hoe verskriklik haar kar lyk.

Lize kyk haar verbaas aan. “Is jy dan blind?”

“Nee, ek probeer net dink hoe ek vir my pa gaan sê dat my kar so ’n groot gat voor langs die nommerplaat het.” Sy moet diep asem intrek en weer uitblaas om nie katterig met Lize te wees nie. Sy moet eerder nie nou dinge sê wat eerder kon gebly het nie.

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>