As jy my wil hê – Annarie Linde (Uittreksel)

by Romanza
As jy my wil hê – Annarie Linde (Uittreksel)

Een

Gabi draai links by die grondpaadjie in soos haar suster haar beduie het: uit die smallerige, besige pad waar lawaaierige voertuie ongemaklik naby haar verbyrammel. Die paadjie maak eers ’n kronkel voordat sy uiteindelik die reusehoutbalke sien van die ingang na die groot stuk veld en bos van die Robbers’ Common. ’n Paar voertuie staan op die gruis geparkeer en oral lê modderige poeletjies ná die oggend se reën. Mense ry seker tot hier en stap dan verder die bos in met hulle honde, of ry op hulle fietse vir ’n Sondag se uitkom in die natuur.
Bly om hier te wees, asem sy diep in en ruik die andersheid van die Engelse landskap. Klammerig, vrugbaar. Rustig en vredig. Altans so voel dit vir haar ná haar stormagtige vertrek uit Suid-Afrika.
Net, sy wens sy het ’n behoorlike kaart gehad van die stuk aarde en bos waarin sy haar nou begeef. ’n Skermgreep sal haar op koers moet hou, en hopelik help haar gewoonlik goeie sin vir rigting haar ook. Sy kon net nie langer vir hierdie stappie wag nie, vlugvoos soos sy is ná die baie ure in die lug. Van Johannesburg na Heathrow via Doebai. ’n Beproewing vir liggaam en gees, maar die goedkoper opsie vir ’n Suid-Afrikaner op ’n skielike sabbatskuier in Engeland.
Gabi probeer onthou hoe haar suster beduie het sy moet stap. Hou regs, het sy gesê. Hou net regs, dan sal jy die pad kry na die Common toe wat loop tot naby die huis in Fernley Down. ’n Kortpad, dan hoef jy nie heelpad op die smal sypaadjie langs die besige pad te loop met brullende voertuie wat aanhoudend vir jou toet en oorgroeide swartbessieheinings wat na jou gryp nie.
Susan moes vanoggend iemand gaan spreek oor een of ander projek. Op die Sondagoggend nogal. Het voorgestel sy gee Gabi ’n geleentheid tot by Brackenshott, dan kan sy net deur die stukkie bos terugstap tot by die Common.
“Onthou, hou net regs,” was haar laaste woorde voor haar motortjie weer die verkeer ingesnor het.
En sowaar, Gabi sien ’n paadjie na regs net anderkant die ingang. ’n Vrou met haar hond aan ’n leiband stap reguit aan, maar Gabi weet daardie koers gaan haar baie verder neem as wat sy beplan. Sy wil nie langer as ’n uur of so stap nie, en sy behoort dit te kan doen. Tussen die bome in skuif die besige wêreld verder en verder weg. Die paadjie kronkel tussen die groen deur, en toe is sy in die digte bos. Hier en daar staan ’n stokou boom met fungi wat soos dwergtafeltjies uit die verwonde bas groei, maar daar is ook baie regop jong boompies wat gulsig reik na die sonlig wat net die boonste toppe vang. Op die grond lê ’n geelbruin blaretapyt. Verder is dit doodstil en alleen onder die bome. Gabi asem aspris weer die koel lug in tot diep in haar longe. Iets roer in haar binneste. Betowering. Wat so uit haar lewe uit verdwyn het. Hier is dit. Sy strek haar arms bo haar uit en buig haar kop terug terwyl sy soek na ’n stukkie blou lug hoog tussen die blare. Die spanning in haar skouers kom los.
Maar dan, natuurlik, nadat sy reeds ’n entjie gestap het, begin haar vrugbare verbeelding dwaal en onthou sy van Hansie en Grietjie in die bos. Dit het seker ook so gelyk. Wat van Rooikappie? ’n Mens kan maklik jou koers verloor, dink sy en ril. Onthou dan dat sy ’n grootmens is in Engeland waar jy darem nie heeltyd oor jou skouer hoef te loer nie. Tog, ’n mens weet nooit. Sy skud haar skouers ongeduldig. Sy moet oppas vir haar ooraktiewe verbeelding. Dit was juis een van die baie goed wat Handré so geïrriteer het. Nie dat daar veel was wat hom die laaste tyd nie geïrriteer het nie, onthou sy suur, dalk selfs hartseer. Nee, besluit sy, suur.
Die dreuning van ’n voertuig roep haar terug na die hier en die nou. ’n Rooi paneelwaentjie verskyn om die draai. Royal Mail. Is hier voor dan huise wat moet pos kry? Moet sy die bestuurder stop en vra of sy op die regte koers is? Ag nee wat, ’n mens kan tog nie te ver verkeerd gaan nie. Sy wil nie nou al weer met iemand praat nie. Wat sy nodig het, is stilte. Sy moet dink. Onthou, ontrafel, tot helderheid kom. As dit moontlik is. Vyf vermorste jare verwerk. Die narratief van haar lewe verander. Leer om wolwe in skaapsklere op ’n afstand te hou.
Voor die paar huise draai sy links by die bordjie met die pyltjie wat sê “bridle path”. Net daarna sien sy ’n stuk veld aan haar regterkant wat omtrent heuphoogte staan met een of ander gewas wat sy nie ken nie. Duidelik iets anders as ’n lappie Karoolusern. Susan het niks gesê van plase nie en Gabi wonder weer of sy op die regte pad is toe ’n groepie ouer mense van regs af met ’n ander paadjie aangestap kom. Sy wil nie in hulle vasloop nie, en wag tot hulle haar paadjie gekruis het. Sy sal hulle op ’n afstand volg. Hulle moet seker weet waarheen hulle op pad is.
’n Entjie verder klim die mense oor ’n houthekkie. Toe Gabi daar kom, sien sy die bordjie noem dit ’n “kissing gate”, en vir die eerste keer in ’n hele paar weke voel sy lus om te lag. In haar verbeelding sien sy twee jongmense wat by die hekkie staan en mekaar soen. Arme, onnosele drommels. Romanse en kissing gates. Verspotte droomwêreld waarin ’n mens verdwaal. Sy sug. Totsiens. Vaarwel. Afgehandel. Gabi sit haar voet op die plankie wat jou help om oor te klim. Slim, dink sy. Slim is wat sy moet wees. Van nou af. By die hekkie verby, voel sy of sy soos Grietjie al dieper die bos in dwaal. Die paadjie vurk. Waarheen is die ander mense? Voor haar is ’n opdraande teen ’n heuweltjie uit en daar is g’n mens nie. ’n Ligte krieweltjie glip teen haar rug af. Sê nou Wolf spring hier uit? Sy roer haar skouers ongeduldig maar gaan staan tog doodstil en probeer luister. Veraf klink daar nog stemme maar sy kan nie mooi hoor uit watter rigting nie.
Hou regs, onthou sy. Op haar horlosie sien sy dat sy al maklik ’n halfuur aan die stap is en sy is nog glad nie naby die Common waarvoor sy gemik het nie. Sy staan wel in ’n oopte bo-op ’n heuweltjie en toe sy opkyk, sien sy die valk hoog bo in die lug sirkel. Hoog vlieg hy, sirkel steeds hoër. So, dink Gabi, wil ek wees. Vry en sterk. Vry van beklemmende verhoudings en emosies en negatiwiteit. Dit is waarvoor sy hier is: ’n nuwe begin. Om weer te leer om vry te vlieg. Vir die tweede keer vanoggend glimlag sy. ’n Sprankie hoop skiet êrens op. Sy sal hier by haar sus kuier, sy sal heel word in hierdie groen en betowerende paradys van die Engelse landskap, en dan sal sy teruggaan met nuwe lus en planne vir haar toekoms.