Chanette Paul is gebore in ʼn era toe vroue nog voorskote met frilletjies gedra het. Sy word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly.
Voor sy begin skryf het, was sy kortstondig ʼn onderwyseres en het ʼn paar jaar lank wearable art gemaak in ʼn klerefabriekie wat sy bedryf het. Sy het ook haar hand gewaag aan die verf van enigiets waarop sy haar hande kon lê en die resultate by ʼn kunsmark probeer verkoop.
Tans woon sy in ʼn skewerige huis in die Overberg op die oewer van die Kleine Rivier waar die man in haar lewe ʼn rivierboot bedryf. Hier is sy bedrywig met allerlei storiedinge, probeer sy haar kat vet kry en vlooiloos hou. Sy versamel graag “goeters” vir haar huis, is ʼn leesvraat en musiekliefhebber, ʼn onkundige tuinier en ʼn vrot kok. Sy hou graag walvisse dop in naburige kusdorpe, is mal oor snorkel en hoop sy sien eendag ʼn meermin.
As ek nie sou kon skryf nie, sou ek nie sin uit die lewe kon maak nie.
Besoek gerus my webwerf vir meer inligting oor my en my boeke by http://www.chanettepaul.co.za/
Kommentaar (33)