Liefde vir ‘n feniks – Ciska Olivier (Uittreksel)

by Romanza
Liefde vir ‘n feniks – Ciska Olivier (Uittreksel)

Een

Anja skop haar pienk-en-pers tekkies uit terwyl sy die klam hemp oor haar kop trek en vies eenkant toe gooi. Sy draai die stort se kouewaterkraan oop en stroop die denim oor haar smal heupe af. Sy sou veel eerder gou in die swembad wou gaan spring en die hotel se ongelooflike uitsig oor Bangkok geniet, maar daar is nie tyd nie. Sy moet oor minder as ’n halfuur in die voorportaal wees. Haar lang, koperrooi hare plak in klam stringetjies teen haar vel en sy ril effens. Wat het haar besiel om haar hare in hierdie bedompige hitte los te dra vandag? Sy het mos geweet sy sal moet draf om alles klaar en versend te kry voor die ontmoeting vanmiddag.
Die koel water is lawing vir haar vuurwarm, natgeswete lyf en sy voel sommer hoe die lewe terug in haar are kruip toe sy ’n slag diep asemhaal. Hierdie weer is baie anders as Namibië se droë hitte, maar daar sal jy haar nie dood onder koue water vang nie. Dalk voel dit ook net so erg omdat sy oornag die koue Augustuswinde vir hierdie hitte verruil het.
Sy voel weer mens toe sy uit die stort klim. Met ’n handdoek om haar lyf en nog een om haar hare gevou, raap sy die grimeersakkie op. Sy huiwer ’n oomblik. Sy beplan tog nie om gedurende die volgende twee weke met grimering te bodder nie? Sy wikkel haar lippe, trek dan haar skouers op. Vir die ontmoeting kan sy darem haar beste voetjie voorsit.
Anja grimeer net liggies voor sy ’n wit kniebroek en donkerblou bloes met pienk blomme uit die kas haal. Sy trek vinnig aan en kyk op haar polshorlosie toe sy klaar is. Daar is nie genoeg tyd om haar hare droog te blaas nie. Sy vryf haar hare wat tot net onder haar skouerblaaie hang ’n bietjie droër voor sy dit lossies vleg en dan oprol en met nog ’n rekkie vasbind. Nou sal haar bloes ten minste nie nat word nie.
Op pad deur toe raap sy die bont skouersak van die bed af op en druk haar voete in die enigste paar wighakke wat sy saamgebring het. Sy kyk op haar horlosie terwyl sy by die deur uit haas en loop haar trompop in iemand vas.
“Oeps.” Sy ruk tot stilstand. “Ekskuus tog,” vervolg sy in Engels.
’n Paar vriendelike bruin oë ontmoet hare, maar so gewoond om net voort te gaan, gee sy nie veel aandag aan hom toe hy vir haar plek maak nie.
“Geen probleem nie,” stel hy haar gerus.
“Weer eens jammer,” roep sy oor haar skouer en draf om die hysbak te vang, maar die deure wat reeds toegekliek het, maak nie oop toe sy die knoppie druk nie.
“Waar is die vuur?” vra die man.
Sy hoor die lag in sy stem. ’n Mooi basstem, registreer sy.
“Ek is laat, dis al.” Sy kyk op haar horlosie, want sy het nie die tyd opgelet toe sy in hom vasgeloop het nie.
Sy is darem nie regtig laat nie. Hulle word ’n volle halfuur gegun voor hulle vergader, maar sy glo daaraan om stiptelik te wees. Sy kyk gangaf om die vreemdeling beter te bekyk, maar word deur sy agterkop en ’n groot rugsak begroet. Sy trek haar skouers op: Ag, wel.
Terwyl sy die hysbak na die grondvloer ry, besef sy die eerste keer dat haar vakansie nou werklik begin. Die aankope is afgehandel en versend. Sy moet net vanaand die besonderhede vir haar ma en ouma stuur sodat een van hulle dit in ontvangs kan neem indien dit voor haar in Windhoek aankom. Met die dekoritems wat sy hierdie week gekoop het, gaan sy nog mooier sprokiesagtige onthale kan skep.
’n Bekende sensasie prikkel deur haar, en sy glimlag terwyl sy haar asem diep intrek en weer uitblaas. Sy kan amper nie wag om tuis te kom om daarmee te begin werk nie. Volgende maand se Visagie-troue sal daarby baat kan vind. Dalk kan sy dit sommer as afsetpunt gebruik. Sy haal haar selfoon uit haar sak en maak vinnig notas.
Die hysbak se deure suis oop en sy gooi haar selfoon terug in die sak. Vir nou is dit egter tyd om ’n bietjie te ontspan. Sy skud haar skouers om haarself op dié manier in die vakansieluim te kry. Sy kan amper nie meer onthou hoe vakansie voel nie.
“Moenie jou kwel nie. Moet my ook om hemelsnaam nie elke dag bel nie,” was haar ouma se streng opdrag daar op die lughawe.
Anja het gelag. Sy weet ouma Gertruida het dit goed bedoel. Haar besigheid is in goeie hande. Sy het haar ook gerusgestel dat daar tye gedurende hierdie toer sal wees waar sy nie met hulle in kontak sal kan kom nie.
By Ontvangs wys die klerk vir haar die toerleier uit en sy stap hom glimlaggend tegemoet. “Hallo. Ek is Anja Lategan.”
“Welkom, Anja. Ek is Anchali,” groet die mannetjie met ’n breë glimlag wat drie kuiltjies in sy blas vel wys. Sy donker oë blink agter die bril en ’n warmer verwelkoming het sy nog min elders ontvang.
Hy merk haar op sy inligtingsbordjie af en bevestig die nodige inligting. “Sit gerus terwyl ons vir die res wag,” nooi hy.
’n Paartjie van Duitsland af kom stel hulleself voor en daarna groei die groepie vinnig. Nog twee paartjies, ’n pasgetroude egpaar uit Suid-Afrika en ’n verloofde paartjie van Amerika af, sluit by hulle aan.
’n Blonde vrou met dansende blou oë kom sit langs haar ná sy die ander gegroet het. “Haai. Ek is Clarice. Ek hoor ek en jy gaan kamermaats wees.”
“Aangename kennis. Ek is Anja.”
“Van waar af is jy?” wil Clarice belangstellend weet terwyl haar oë oor die groepie gaan.
“Namibië. En jy?”
“Waar is dit?” wil Clarice eers fronsend weet en haar aandag is onmiddellik op haar gefokus.
“In Suider-Afrika. Noord van Suid-Afrika en langs die Weskus.”
“O. Ek het nog nooit van die land gehoor nie. Ek is van Engeland af.”
Anja knik. Sy het al heelwat mense ontmoet wat nie haar vaderland ken nie. Sy let op toe ’n aantreklike jong man hul groepie nader. Hy het krullerige donkerbruin hare wat dig om sy kop staan, ruie wenkbroue en liggroen oë. Hy pyl ook reg op haar en Clarice af ná hy by Anchali aangemeld het.
“Hallo, dames,” groet hy met ’n breë glimlag, maar sy oë bly op haar vasgenael. “George is die naam.”
Clarice stel haarself eerste voor, en Anja mis nie die uitnodigende fladder van die vrou se wimpers nie. Sy hou haar glimlag kwalik onder beheer. Clarice is duidelik op soek na ’n vakansieromanse.
Sy stel haarself voor en sien hoe sy oë rek.
“Ek dog jy’s Nicole Kidman se dogter.”
“Ekskuus?” vra sy onkant betrap.
“Jy lyk net soos Nicole Kidman in Practical Magic.”
Clarice klap haar vingers. “Dis waar. Ek het self gedink jy lyk nogal bekend.”
Sy lag. “Jy het my amper gevang. Jy verbaas my ook. Ek het nog altyd gedink dis ’n te girly movie vir mans.”
“Ek het twee susters,” verduidelik George.
Sy knik. “Practical Magic is heel toevallig een van my ou gunstelinge. Ek is al ’n keer of wat met Nicole vergelyk, maar helaas, daar is geen verwantskap tussen ons nie.”
Hy knik laggend en groet die ander paartjies voor hy hom langs hulle tuis maak.
“So, van waar af is jy?” wil Clarice weet.
“New York, Amerika.”
Sy merk op toe ’n lang lenige man Anchali met ’n handdruk groet, en sit onmiddellik regopper. Die aankomeling troon bo hom uit en haar wenkbroue wip op, maar dan onthou sy dat sy self langer as Anchali is. Op 1,64 meter kan sy seker nie as vreeslik lank bestempel word nie, maar hierdie man kan sy onmiddellik sien is langer as die meeste van die mense in hul groep. Haar blik gly oor hom. Die wit T-hemp pas knap om sy lyf en verklap ’n plat maag. ’n Paar netjiese kuite steek tussen die donkerblou kniebroek en swart tekkies uit. As sy moet raai, is hy ’n man met ’n gereelde oefenprogram.
Sy kan nie plaas wat haar belangstelling prikkel nie. Daar is niks besonders aan hom nie. Hy is wel aantreklik, maar dit is meer as dit. Sy korterige hare met die regop kuif en sy wenkbroue is ’n doodgewone bruin. So ook sy oë, besef sy toe hy in haar rigting kyk. Dan tref dit haar. Dit is die man in die gang voor haar kamer! Anders as vroeër, is hy nou net skoongeskeer.
Sy glimlag verwelkomend toe hy na haar toe aangestap kom, maar dit is asof iets anders aan haar geheue karring. Hy lyk dan nou bekender as daardie oomblik in die gang. Is dit die hoekige gesig? Die breë voorkop dalk? Sy kan net nie haar vinger daarop lê nie.
“Hallo, Anja.”
Haar oë rek. Hy ken haar!
“Ek het nie verwag om jou hier raak te loop nie.”
Haar lippe gaan oop en dit neem haar ’n oomblik om te besef hy praat Afrikaans. “E. . . ekskuus?” stotter sy, ruk haarself dan met ’n keelskoonmaak reg. “Ek is nie seker ek ken jou nie.” Sy steek haar hand uit en glimlag doelbewus. “Anja Lategan.”
Sy sien hoe sy glimlag stram raak. “Werklik?”
Sy reaksie wek onverwags irritasie by haar, en sy kners op haar tande. Hy is seker ’n vriend of familielid van een van hul klante, maar hy moenie staan en dink sy onthou elke persoon wat sy ontmoet nie.
Sy kantel haar kop effens. “Wees dan so gaaf om my reg te help.” Hy beter ook nie draaie loop of haar hand langer in die lug laat hang nie. Hy wil nie ’n vyand van haar maak nie.
Hy grinnik en vat haar hand, maar sy oë lag nie saam nie. Hy soen haar kneukels, en dit is asof die lug uit haar longe verdamp.
Haar oë rek en sy stik byna aan die enkele woord terwyl sy haar hand uit syne ruk: “Jy.”