Oorbegin – Marilé Cloete (Uittreksel)

by Romanza
Oorbegin – Marilé Cloete (Uittreksel)

Een

“Ag nee, dis mos nou pure onsin.” Reinet plak die potlood met ’n sug op die mat langs haar neer. “Susters, waar is julle as ’n mens julle nodig het?”
“Ek is presies twee tree van jou af op die bank met my boek,” kom dit droogweg van Anet, die middelste suster van die driestuks. “Presies waar jy my elke Vrydagaand sal kry.”
“Ek is twee tree verder op my gewone stoel met my gewone hekelwerk,” laat kleinsus Maret ook van haar hoor. “Watter vreemde woord het jou blokkiesraaisel nou weer opgelewer?”
Reinet skuif regop teen die stapel kussings waar sy gesit-lê het met die blokraaiselboek teen haar bobene gebalanseer. “Pier. Het julle al ooit so ’n woord in Afrikaans gehoor?”
“’n Pier is mos so ’n houtdek wat in die see inloop, is dit nie? Hoewel dit darem baie direk uit Engels is.” Anet is ’n bietjie van ’n taalpuris. ’n Mens moet dapper wees om ’n Engelse woord in haar geselskap in jou sinne te gooi. Oor anglisismes is sy nog kwaaier, en deesdae is sy regtig effens manies oor die goed. Natuurlik die ellendige Engelsman se skuld wat haar so lekker befoeter het, maar dit waag niemand om vir haar te sê nie.
“Dis hoe ek dit ook ken.” Reinet tel maar weer die potlood op, vul die woord teensinnig in. “Hier word dit gegee vir ’n antwoord op die leidraad ‘wurm’. Waar op aarde het jy dit al gehoor?”
“Wel, ons het ons so van die buitewêreld afgesny dat daar maklik ’n nuwe woord sonder ons medewete kon ontstaan het.” Anet sit haar voosgeleesde slapband neer en staan op. “Het ons nog koffie, julle? Ek is darem nou baie lus vir iets lekker.”
Maret laat haar veelkleurige skepping op haar skoot sak. “Ons het nie meer koffie nie, Anet. Ook nie meer wyn nie.”
Reinet weet al weke lank hierdie oomblik moet een of ander tyd aanbreek. Sy is die oudste – al is dit net met ’n paar minute – en sy sal die leiding moet neem. “Julle, ons sal tot aksie moet oorgaan. Ons kan nie vir ewig hier in Anet se woonstel sit en die werklikheid ignoreer nie.”
Maret se oë is onmiddellik vol trane. Sy het nog altyd ’n klein hartjie gehad, maar ná sy ook haar werk in die toerismebedryf weens die pandemie verloor het, is die kraantjies permanent oopgedraai. “Ek sien nie kans vir die werklikheid nie. Ek voel so verneder. Werkloos en manloos en hopeloos.”
Anet draai kombuis toe sonder om kommentaar te lewer. Sy het nie altyd geduld met hul kleinsus nie, al is sy maar ’n paar minute ouer as Maret. “Wel, ons het nog rooibos. Ek gaan maak gou.”
“Ek is siek en sat vir rooibos. Veral as ’n mens drie bekers met een sakkie moet maak.” Daar is heelwat dinge waarvoor sy op die oomblik siek en sat is. Die heel satste is sy vir werkloos en uitsigloos wees. Hul drietjies het egter nou genoeg gewroeg en hulleself bejammer. Hier sal aksie moet kom. “Ons het darem nog ’n suurlemoen. Dit werk goed met flouerige rooibos.”
“Oukei, suurlemoentee sal dit wees.” Anet verdwyn die kombuis in.
“Maretjie, jy sal moet ophou huil.” Reinet staan van die mat af op en gee haar kleinsus ’n drukkie. “Ons sal aan die gang moet kom. As ons ons tee het, gaan ek ’n lysie begin maak. ’n Plan van aksie.” Maret vee haar trane met haar hand weg. Selfs snesies is nou al skaars in hierdie huis. “Ek het nie planne nie. Julle sal moet help.”
Reinet gaan sit in die oorkantste stoel. Hulle het darem nog al hul meubels wat hulle bymekaargegooi het toe sy en later Maret hier by Anet ingetrek het al pas alles nie so lekker saam nie. Dit was maande gelede toe hulle nog hoop gehad het.
Intussen was ’n wye verskeidenheid werksaansoeke almal onsuksesvol en nou is hulle op die punt waar hul spaarvarkies se toestand kritiek geraak het. Daar sal vinnig planne gemaak moet word. In die formele sektor kon nie een van hulle nog weer werk kry nie. Hulle sal wyer moet dink. Entrepreneurs word of skuld maak – of dalk is dit ’n kwessie van entrepreneurs word én skuld maak.
Dit is betreklik moeilik om ’n besigheid te begin sonder om groot geld te moet instoot. Geld wat sy nie het nie. Alles wat sy gehad het, het in die koffiewinkeltjie gegaan wat sy in Januarie begin het – haar lewensdroom wat waar geword het. Maar toe kom Covid-19, en die res is geskiedenis. Saam met derduisende ander klein besighede is Afsaal deur die pandemie ingesluk en minagtend uitgespoeg.
“Kry vir julle.” Anet sit die skinkbord met drie bekers op die koffietafeltjie neer. “Die suiker is ongelukkig ook gedaan.”
Reinet neem ’n slukkie van haar tee en blaai na die agterkant van haar blokraaiselboek; tel haar potlood op. “Sustertjies, ek soek voorstelle. Ons sal oorspronklik moet dink, so ver moontlik uit die boks.”
“Wel, ons kan vir Pa en Ma laat weet ons is in die verknorsing.” Maret kan enige oomblik weer begin huil. “Hulle gaan ons morsdood maak.”
“Ek is bevrees hulle gaan ons eerstens morsdood maak omdat ons hulle nie laat weet het toe ons so een ná die ander ons poste verloor het nie.” Anet proe-proe aan haar tee. “Dis nogal nie sleg so bitter nie. Suiker is mos in elk geval nie goed vir ’n mens nie.”
Reinet se potlood bly in die lug hang. “Ek sien nie kans om hulle te laat weet nie. As hulle klaar histeries geraak het, gaan hulle ons summier toegooi met hul geld, waarskynlik nog vir ons almal ook werk in die besigheid kry.”
Anet trek haar bene onder haar in; slaan haar arms om haar knieë. “Is dit nie maar wat moet gebeur nie? Ek dink jy moet maar opskryf, Reinet. Ons gooi mos net idees rond. Dis net voorstelle; dis nie noodwendig dat ons dit gaan doen nie.”
Reinet skryf neer, hoewel teensinnig: Vertel ouers. Sy kry nie reg om Vra ouers vir hulp by te voeg nie. “Oukei, volgende plan: Ons soek vir ons mans. Mans met beroepe en geld en hul eie blyplekke. Ek is bitter dankbaar ons kan hier by jou plak, Antjie, maar dit gaan nie vir altyd werk nie.”
“Mans met geld is op die oomblik so skaars soos hoendertande. Dis net harde besigheidsmense wat nou goed vaar. Dié wat bereid is om bo-oor almal te loop wat deur die pandemie platgeslaan is.” Reinet skryf neer, hoewel uiters teensinnig: Soek mans met geld.
“Mans soos Pa?” Anet bots die meeste met hul pa. “Ek wil nie ’n man soos Pa hê nie.”
“Pa is nie so sleg nie,” keer Reinet uit pure lojaliteit. “Hy’s lief vir ons.”
“Ja, hy is.” Maret begin weer verbete hekel. Geen mens weet wat sy aan die maak is nie. Dit is net ’n bont ding wat groei en groei. Sy het lankal haar eie oorskietwol uitgeput en dié wat hekelvriendinne aangestuur het, is ook feitlik gedaan. “Maar hy is nog liewer vir sy geld, en hy is nog steeds vies omdat ons nie ’n dokter, ’n prokureur en ’n ingenieur wou word nie.”
Ja, hy is so teleurgesteld dat hy nie eens haar onderneming wou ondersteun nie. In die lig daarvan voel sy nie so erg skuldig dat sy hom nog nie eens laat weet het Afsaal het intussen gevou nie. Hoe benouder hul al drie se situasies geword het, hoe skaarser was hul kommunikasie met hul ouers in Gauteng.
Dit voel veiliger om hier in die Swartland saam te koek en mekaar liewer te ondersteun as om aan Pa en Ma se kritiese benadering blootgestel te word. Nou is daar egter genoeg wonde gelek. Planne moet nou gemaak word en bitterlik vinnig ook. Noodplanne, verregaande planne, enige planne.
“Ek gaan vir Peter bel,” kondig sy aan nog voor die gedagte behoorlik in haar kop gevorm het. Haar impulsiewe idees was nog altyd haar bestes. Peter was lank haar werkgewer en hy ken die bedryf. Dalk weet hy van ’n moontlikheid.
“Bel tog net op WhatsApp, Reinet. Selfoonoproepe is veels te duur.” Anet is die flinkste bespaarder van hulle drie.
“Jip. Ek hoop net hy antwoord WhatsApp calls. Daar is mos moeilike siele wat nie daarvan hou nie.” Spandabelrig was sy nog nooit, maar op die oomblik moet elke sent omgedraai word tot hy behoorlik dronk in die kop is.
Sy is self effens dronk in die kop toe sy die gesprek afsluit. “Julle, Peter het vir my ’n moontlikheid. ’n Absoluut belaglike moontlikheid.”
Reinet staan terug, bekyk die toneel krities. Die tuk-tuk met al die benodigdhede staan mooi netjies in die middel van die oop ruimte tussen die koringlande vlak langs die grootpad noorde toe. Sy het alles wat ’n mens nodig het om so gou soos blits vir iemand ’n smaaklike kartonnetjie koffie gereed te kry. Die kennisgewingborde is op strategiese afstande van mekaar neergesit om motoriste vroegtydig te laat weet hier voor is ’n waentjie waar hulle ’n vroeë versterking in ’n mooi omgewing kan kry.
Die yskassie is vol melk gepak; houertjies met suiker, dekseltjies, servette en ekovriendelike stokkies om mee te roer, is uitgesit. Nou moet sy net kliënte kry. Peter het gewaarsku sy moenie wonderwerke verwag nie. Sy wou vir hom sê sy idee was in elk geval die wonderwerk wat sy nodig gehad het, maar toe besluit sy om liewer te swyg. ’n Mens het darem nog jou trots ook.
Die stilte suis behoorlik om haar. Het sy al ooit seweuur op ’n Saterdagoggend stoksielalleen tussen die koringlande van die streek waar sy grootgeword het, gestaan? In hul kinderjare het sy en haar sussies dikwels by maats op die koringplase van die Swartland gekuier, maar so alleen tussen die fluisterende goue are was sy nog nooit.
Dit is juis een van haar laerskoolmaats se pa wat so dierbaar was om haar toe te laat om gratis en verniet haar voertuig hier te kom trek. Dit was definitief die tweede wonderwerk. Meer kan sy seker nie verwag nie.