Rykie Roux het nog altyd geskryf. Eers opstelle op skool, toe artikels vir die tydskrifte waarvoor sy gewerk het en — na die geboorte van haar twee kinders — kortverhale en uiteindelik romanses. Sy het al meer as twintig romanses op haar kerfstok. Sy doen baie navorsing met haar stories, want sy sê as sy die wêreld van haar karakters beter ken, sy makliker skryf. Romanses, sê Rykie, gaan oor mense se diepste behoefte om ten minste een ander mens in die wêreld te hê wat hulle regtig verstaan.
Twee van Rykie se beste boeke is onlangs heruitgegee. Dit is Die Flerrie en die advokaat en Lieflike leuenaar.
Haar nuutste boek, Trofeevrou, is nou beskikbaar. Dit gaan oor ‘n ietwat bedorwe rykmansdogter en kampioen perderuiter, Inez, wat die aantreklike kelner by haar verjaardagpartytjie vir ‘n gas aansien en met hom dans. En hom dan afjak. Maar haar paadjie kruis weer met Wim Meintjies. En dan is die bordjies verhang, want sy is nou die een wat kerkmuisarm is en hy hou haar toekoms in die holte van sy hande.
Naweekbruid, Rykie se boek oor die begaafde en baie sexy argitekstudent, Andreas Steyn, en sy vinnige, geheime troue met sy professor se dogter, Marguerite, is ook nog te koop. Andreas het ‘n verlede en dinge loop lelik skeef as Marguerite al die skinderstories oor haar nuwe bruidegom glo.
Kommentaar (30)