Vergeet van reëls – Dina Botha (Uittreksel)

by Romanza
Vergeet van reëls – Dina Botha (Uittreksel)

Een

Amelie Voster is nie seker sy het reg gehoor nie en kyk haar prokureur en vriend, Pieter Vermeulen, vir ’n paar oomblikke verslae aan. “Dis onmoontlik. My ma het destyds die huwelik laat ontbind. Ek . . . sy het my ’n egskeidingsdokument laat teken. Daarna sou sy dit iewers ingedien het. Of dalk vir ’n prokureur gegee het om in te dien. Ek weet nie. Ek . . . ek kan nie onthou wat so lank gelede gebeur het nie.”
“Ek weet nie wat van die dokument geword het nie, maar daar is geen egskeiding by Binnelandse Sake aangeteken nie. Net jou huwelik met ene Daniël Retief is bevestig en op hulle rekords. Jy is in werklikheid nog mevrou Amelie Retief. Hoekom die twee identiteite nog nooit ’n probleem vir jou was nie, weet ek nie. Jy het sekerlik al aansoek om ’n nuwe identiteitsdokument en ’n rybewys gedoen? Iemand moes tog die ongerymdheid agtergekom het?”
Sy roer haar skouers. “Ek verstaan dit ook nie. Verlede jaar het ek my paspoort hernu en my UAE-visum is sonder enige drama toegestaan. Onder my nooiensvan.” Amelie staan op, maar is nouliks bewus daarvan. Die vertrek het skielik te klein geword en sy voel lus om te vlug. “Wat gaan ek doen? Ek trou oor ses weke. En die huwelikskontrak wat jy moet opstel . . . wat sê ek vir Frans? Watse rede voer ek aan as hy my daaroor uitvra?”
“Dis heel eenvoudig. Jy vertel hom van jou jeugfoutjie en stel die troue uit totdat die gemors uitgesorteer is.” Pieter slaan sy lêer toe en vou sy hande. Hy toon min simpatie en lyk veel eerder geamuseerd met haar huidige situasie.
“Watse tipe vriend is jy? Of ’n prokureur? Jy moes nou al met twintig moontlike oplossings vorendag gekom het, en nie net daar sit met ’n grin op jou gesig nie.”
“Wie sê ek het nie klaar die bal aan die rol gekry nie?” Hy trek ’n hopie dokumente op die hoek van sy lessenaar nader en stoot een oor na haar kant. “Jy moet Daniël Retief gaan opsoek, die situasie aan hom verduidelik en sy handtekening op dié dokument kry.”
Haar hart ruk. Die gedagte om Daniël ná al die jare weer te sien, is skielik skrikwekkend. “Hoekom moet ék dit doen? Is dit nie waarvoor ek jou betaal nie?”
“Ek kan dit doen ja, maar in dié geval dink ek dis iets wat jy self moet hanteer. Jou ma het drooggemaak en dit sal beter wees as jy dit aan hom probeer verduidelik.”
“Sê nou hy is al getroud? Of hy het dalk kinders?” Sy druk haar vingers teen haar slaap waar ’n kloppende kopseer sy oorsprong het. “Dit raak al hoe meer gekompliseerd.”
“Dis hoekom ek dink dit sal beter wees as jy hom self vertel en nie ’n wildvreemde prokureur nie. Julle was immers tog childhood sweethearts gewees.”
Sy wil nie nou, terwyl Pieter voor haar sit, daardie paadjie terug na haar verlede loop nie. Nie waar hy dalk ’n glimp van haar eens flenters hart kan sien nie. Dit het haar ’n hele klompie jaar geneem om dit weer netjies toegewerk te kry. Sy tel die dokument met bewende vingers op. So ontredderd en ontspoor het sy lanklaas gevoel, maar Pieter is reg. Om Daniël van aangesig tot aangesig in te lig is haar probleem. Die papierwerk is syne. “Het jy dalk ’n adres opgespoor?”
“Om die waarheid te sê ek het. Dit is agter aan die dokument vasgeheg.”
Sy slaan die dokument agter oop. Dit lyk soos ’n werksadres in Johannesburg. “Enige ander inligting oor Daniël?” vra sy sonder om op te kyk.
“Dis ongelukkig al wat ek weet. Daar was nog nie tyd om dieper te delf nie. Met die troue ’n paar weke weg het ek gedink jy sal so gou moontlik van die probleem wou weet en hom gaan sien.”
“Jy is reg, en dankie dat jy my so gou ingelig het. Ek gaan dadelik daarvan werk maak.”
“Gaan jy Frans hiervan vertel?”
“Nee, hy weet nie van my . . . e . . . impulsiewe avontuurtjie nie. Niemand weet nie. Dis ’n geheim wat my ma graf toe gedra het. Ek sal bly wees as hy ook nie daarvan uitvind nie. Ek sal Daniël so gou moontlik gaan sien en sy handtekening kry. Hy gaan waarskynlik net so geskok soos ek wees om hiervan te hoor. Hopelik ook net so gretig om die probleem so gou moontlik te laat verdwyn. Ek is seker daar sal geen verdere probleme wees nie.”
Sy swaai haar handsak oor haar skouer, druk die dokument onder haar arm in en groet.
“Wag, ’n laaste vragie. Het jy en jou man, ek bedoel Daniël, enigsins kontak in twaalf jaar gehad?” verander hy sy vraag toe sy hom skerp aankyk. Sy kies haar woorde versigtig.
“Nee, die laaste keer wat ek hom gesien het, was op kampus. My ma het op een of ander manier van my manewales uitgevind. Daar was eendag ’n klop aan my koshuiskamerdeur en my ma het woedend voor my gestaan. Sy het my onomwonde laat verstaan hoe dom ek was. Hoe ek die hand wat my gevoed het, gebyt het. Ná al die drome wat sy vir my gehad het, het ek iets so simpel soos trou loop aanvang. Dié tipe van goed vir my gesê. Sy het my skaars tyd gegee om my goed te pak, wat nog te sê met Daniël kontak te maak. Of te groet. Ons is daardie selfde dag terug Jagersville toe.”
“Wat van jou studie?”
“Ek kon dit gelukkig klaarmaak, maar my ma het my soos ’n valk dopgehou. Die jaar daarna is ek Kaap toe om verder te studeer en dis waar ek graad gevang het.”
“Was jy nie opstandig daaroor nie? Oor die feit dat jou studentelewe so onverwags onderbreek is nie?”
“Ek . . . ek was op die ou end oukei daarmee. My ma was reg, ek het onverantwoordelik opgetree en as dinge skeefgeloop het, kon ek my toekoms geruïneer het.” Sy wil tog glo dat haar ma reg was. In haar beswil opgetree het. Haar ma kon iets sien wat sy nie kon nie. Daniël Retief het net misbruik van haar gemaak. ’n Slegte situasie uitgebuit. As dit nie die geval was nie, sou hy tog sekerlik ’n poging aangewend het om haar op te spoor, sin in haar kop te praat, haar uit ’n egskeiding probeer praat, maar hy het nie. Van Daniël Retief het sy nie weer ’n woord gehoor nie.
“Wou jy hom nie graag weer sien nie? Nie eens net een keer nie?”
“Hoekom vra jy?”
Pieter glimlag enigmaties. “Want meneer Daniël Retief gaan die verrassing van sy lewe kry. Die vrou wat aan sy deur gaan klop, is vandag ’n beeldskone jong dame. Vol grasie, selfvertroue en sterk. Veral sterk. Jy moet dit gerus onthou wanneer jy weer voor hom staan. Belowe my, Amelie, jy sal nie vergeet wie jy vandag is nie en jy sal nie toelaat dat hy oor jou loop nie.”
Sy glimlag effens. “Ek sal nie, ek belowe.”
Dis maklik om beloftes te maak, maar bitter moeilik om dit te handhaaf. Toe sy by Pieter se regspraktyk wegry, voel dit kompleet of haar lewe soos sy dit nou ken tussen haar vingers deur glip. Dit voel of twaalf lang jare krimp tot daar net ’n enkele paar weke van haar lewe oor is. ’n Paar weke wat die grootste geluk asook die grootste spyt en skaamte in haar jong lewe meegebring het.