Wilde jasmyn vir Steyn – Rosita Oberholster (Uittreksel)

WIlde jasmyn vir steyn voorblad

Selfveragting is ’n vieslike ding. Haat ook. Maar om jouself te haat is amper erger as om dié gevoel teenoor jou medemens te koester. Voeg daarby die hel van depressie en jy sit met die perfekte resep vir ’n wrak. ’n Selfveragtende, haatdraende, depressiewe wrak wat amper niks van die lewe weet nie. Pateties, met ander woorde. Twee en veertig jaar oud en sy weet nie eintlik hoe die lewe inmekaarsteek nie. En dis sagkens gestel. As sy heeltemal eerlik met haarself wil wees, het sy nie ’n donnerse clue nie.

Dit alles in ag genome, het sy dus ook nog nie geleef nie. Vir al wat sy weet, is sy al oor die helfte van die jare aan haar toegeken en sy het geen benul van wat dit is om die lewe te geniet nie. Daardie gedeelte is sommer net plein hartseer. En tog was dit haar keuse. Sy het gekies om agter ’n pottebak­kerswiel vir die wêreld en die verlede weg te kruip. Nou het die verlede haar ingehaal en eis die lewe haar bydrae tot die samelewing.

’n Yskoue windvlaag kom om die hoek van die huis en ’n paar verdroogde akkerblare tol op die stowwerige stoep in die rondte. Vind hul weg tot teen ’n diggeweefde spinnerak wat aan die stoepreling hang en bly net daar sit. Die ou windpomp maak ’n aardige steungeluid en raak weer stil. Sy trek die kombers stywer om haar skouers. Die dag gaan bin­nekort breek en sy het nog nie geslaap nie. Dis die probleem as mens nie ’n doel het nie. Tyd raak irrelevant. Sy sug en tel haar amper leë koffiebeker van die leiklipvloer af op. Skiet die laaste bietjie koue koffie oor die stoepreling en sien hoe die Franschhoekberge vorm begin aanneem in die eerste lig van die nuwe dag. Wat sal sy vandag doen? Seker maar presies dieselfde as wat sy al vir bykans ’n jaar lank doen.

Niks.

Steyn skop haar bene ver uit en leun terug teen die sagte koningsblou fluweelbekleedsel. Haar kop is te ver agteroor, sy kyk in die plafon vas. Sugtend kom sy regop. Sy druk ’n los kussing agter haar rug in en vou haar enkels oormekaar. Skuif ’n bietjie laer, dan heen en weer. Nou druk haar ken weer op haar bors. Sy vlieg regop en klap haar tong. Pluk die kussing agter haar rug uit en val weer terug teen die leuning. As sy nie eens ’n simpel ding soos “maak jou gemak­lik” kan baasraak nie, hoe de hel wil sy ’n hele nuwe lewe begin? Dis nie sy nie, dis hierdie basterbed wat maak dat sy nie haar lê kan kry nie. Die een wat gesê het ’n chaise longue is gemaklik, moet sy kop laat lees. Dit is nie ’n sit- of ’n lêplek nie, dis eerder ’n sitlêplek. Met ander woorde, useless. Behalwe as jy dalk ’n fotograaf is en hou van ’n ouwêreldse aanslag. Soos Louisa. Dié hou daarvan as daar ’n tikkie romanse met haar fotosessies gepaardgaan. Die boudoir shoots noem sy dit.

Sy moenie aan Louisa dink nie. Gedagtes aan haar dogter trek haar af in ’n diep donker put en dis die een plek waar sy nie nou kan bekostig om te wees nie. Of miskien moet sy juis aan haar dink. Haarself dwing om aan Louisa te dink, ten einde hierdie selfkastyding te beëindig. Louisa is immers die hoofrede dat sy so sukkel om met haar lewe aan te gaan. En haar lê hier te kry.

Sy skuif weer rond en berus haar in haar lot om vir ’n uur in niks vas te kyk. Miskien is dit nie so ’n slegte idee om teen die plafon vas te staar terwyl sy met die sielkundige praat nie; deesdae kry sy nie­mand meer in die oë gekyk nie.

Sy kantel haar horlosiearm en korrel na die wysers. Dit is tyd. Tyd om ’n bril te kry, en tyd vir derms uitryg vir ’n hele uur lank. Dis te sê as sy ’n volle ses­tig minute gaan hou. Sy twyfel. As dit nie vir die nag­merries was nie, het sy opgestaan en geloop, maar dit het haar weer tot in die vroeë oggendure gery. ’n Donker drievertrekhuisie in ’n bloekombos. Die reuk van brandende kruie verstikkend om haar. Die ver­skriklike koue. Meesal hitte. Gedempte stemme. Die flou skreetjie van ’n pasgebore baba. Verlatenheid. Dit was later so erg dat sy nie anders kon as om op te staan nie. Sy het haar CD-speler aangeskakel, ’n Nag Champa-stokkie aangesteek om die bitter kruiereuk uit haar kop en lyf te verdryf en iets uit klei probeer vorm. ’n Halfhartige poging aangewend om ’n bietjie van die kreatiwiteit terug te kry wat haar al maande lank bly ontwyk. Natuurlik kan sy ’n bol klei op die wiel sit en ’n pot of ’n bak of ’n ding maak, maar dit het nie daardie iéts nie. Daardie iets wat haar werk van dié van ander pottebakkers onder­skei. Dit was ’n totale flop. Dit was veronderstel om ’n boepenspot met ’n geboogde swaannek te wees, maar halfpad deur “Tù quieres volver” van Sarah Brightman het sy die klei platgedruk. Sy het nog al­tyd ’n aanvoeling gehad vir die sukses of mislukking van haar maaksels. As dit nie van die begin af reg voel nie, druk plat en begin van voor af. Probleem is net, die laaste tyd kry sy nie van voor af begin nie. Amper asof sy belangstelling verloor het. Paniek bondel saam op die krop van haar maag. Dit mag nie gebeur nie. Klei is haar lewe. Haar ontvlugting. Die ding wat haar deur die moeilikste van moei­like tye staande gehou het. Hoekom wil dit nie meer dien as medium tot heelwording nie? Is dit moont­lik dat daar ’n vervaldatum op die mens se skep­pingsvermoë is, of is dit omdat daar die een of an­der blokkasie tussen haar siel en hande is wat haar verhoed om te skep? Soos daardie onding wat skrywers soms ervaar wanneer woorde en gedagtes om en om in hul koppe maal, maar om den dooie vrekte nie tot lewe deur hul vingers wil kom nie. Skrywers­blokkasie. Pottebakkersblokkasie. Dit klink nie reg nie.

Sy sug liggies toe die deur oopgaan. Die vrou wat op ’n hoërugstoel aan die voetenent van die chaise longue plaasneem, staan haar nie aan nie. Self­versekerd. In beheer. Irriterend korrek. En so jonk! Dit lyk asof sy nog op skool moet wees. Wat weet sy van die lewe? Boekgeleerdheid, ja. Maar lewenservaring? Daarvan kan hierdie jong mens nie veel hê nie en dis wat sy nou die nodigste het. Iemand met genoeg ondervinding daarin om haar die weg te wys.

Die vrou tik-tik met haar pen op ’n notaboek. Haar mooi gevormde mond met die koraal lipstiffie gaan oop. “Is jy gemaklik, Steyn?” Haar stem sag strelend. Vals. Nee, nie vals nie. Net sonder warmte.

Steyn knik. “Ek is.” Miskien moet sy ’n dankie by­voeg, maar sy is nie lus nie. Sy is lus om in haar bed te gaan klim en die duvet oor haar kop te trek. Te slaap tot die bure se hoenders begin kraai en eers op te staan wanneer die son sy flou winterstrale deur haar kamervenster gooi.

Die boks tissues wat onopsigtelik, halfverskuil onder ’n maidenhairvaring neergesit is op ’n lae tafeltjie langs haar, kon ook maar gebly het. Steyn Coetzee het in jare nie gehuil nie en sy is glad nie van plan om nou te begin nie.

“Sal ons begin?” vra die sielkundige en wag nie vir ’n antwoord nie. Sy maak fyntjies agter haar hand keel skoon. “Volgens die agtergrond wat jy geskets het, is jou ma oorlede toe jy veertien jaar oud was, jou pa het erg begin drink en op sewentien het jy swanger geraak. Dit het ’n geweldige impak op jou lewe gehad, in so ’n mate dat jy jou heeltemal van mense onttrek het . . .”

Steyn luister nie verder nie. As dit maar so een­voudig was. As dit maar al was wat gebeur het, het sy nie nou hier gelê nie. Om jou ma vroeg te verloor, ’n dronklap vir ’n pa te hê en op sewentien pregnant te word is nou nie juis wat sy die einde van die wêreld sal noem nie. Dit is hoe dit hanteer is deur mense wat veronderstel was om van beter te weet wat dreig om haar hele menswees te ver­woes.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>