“Was jy op pad na my toe?” hoor sy Hans se stem.
Waarvan praat die vent?
“Gisteraand?” vra hy skor.
O, nou wil hy praat. “Wat dink jy?” vra sy uitdagend. Dis doodstil aan die ander kant. Haar vingers klem die selfoon stywer vas, haar hart begin al vinniger te klop.
“Ek het nie geweet of jy met my sal praat nie, jy was so vies. Ek … ek wou probeer verduidelik dat Jak en Sanet my wel saamgesleep het, maar vandat ek besef het dis jy op die verhoog, was dit vir my wonderlik, ek bedoel jy was wonderlik … is …” Hy los ’n vloekwoord.
Martha glimlag. Ten minste is sy nie al een wat gefrustreerd is met die situasie nie. Sy hoor weer Hans se stem, dié keer sagter.
“Ek het gedink jy was op pad na my toe, het so gehoop, en toe gryp die vent jou en jy glimlag vir hom,” kners hy dit uit oor die lyn.
Wat maak ’n mens met so ’n man? Sy skud haar kop, sy het gedink sy sien hom nooit weer nie, en nou die oproep. Sy trek haar asem diep in en probeer kalm bly.
“Hans, ek weet nie wat tussen ons aan die gang is nie, jy het vanoggend nog verwys na die feit dat jy binnekort oorsee vertrek, Maandagaand het jy my duidelik laat verstaan ek is nie jou soort meisie nie, onthou jy?” vra sy moedeloos. Hulle is al twee ’n oomblik stil. “Ek het jou al gevra, wat wil jy van my hê?”
“Ek het jou al geantwoord, sal jy onthou,” sê hy en die passie in sy stem maak haar bene lam. Sy gaan sit op die grond, haar rug teen die kombuiskas. Sy woorde spoel oor haar.
“Ek wil vir jou hê. Ek … ek weet ek vertrek binnekort oorsee … maar …” Hy bly lank stil. Martha druk haar hand teen haar hart, dit voel asof dit by haar lyf gaan uitspring.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>