“Min dinge laat my so goed voel soos wanneer ander mense geluk vind” – Nadia de Bruin

Ons gesels met Nadia de Bruin, ’n nuwe skrywer in die Romanza-familie met haar eerste novelle, Net drie woorde!

Wyn of sap?

Wyn, dis baie gesonder!

Drie items waarsonder jy nie kan lewe nie:

’n Lekker koppie koffie, my selfoon (okay ek herkend dit) en my Corolla.

Beroep: Onderwyseres

Woon in: Die mooi groen Oos-Vrystaat

Stokperdjies: Behalwe vir lees en skryf natuurlik is ek ’n regte fliekvlooi.

Troeteldiere: Een kat, twee honde, 9 goudvisse en my man se tropiese vis semi-boerdery (Malawi Peacock Cichlids.)

Wie is Nadia de Bruin as sy van haar skrywerstoel opstaan?

Vrou, Mamma en Juffrou.

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Ek kan nie besluit nie! Deon Meyer, Irma Joubert, Eleanor Baker, Diana Gabaldon, Nicolas Sparks. Is dit al drie?

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

My drie grootouers wat reeds oorlede is. Ek sal so graag weer al hul stories wou hoor. My oupa Piet wat in die tweede wêreld oorlog geveg het, kon boer, kook en naaldwerk doen.  Sy vrou, my ouma Sophie wat so verlief was op haar lang rooikop soldaat. Oupa Dirk wat oorlede is toe ek te klein was om hom regtig te leer ken. Hy was my ouma Anna van amper 90 se groot liefde wat haar nie weer in die rigting van ’n ander man laat kyk het nie.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Bietjie praktiese raad wat my man vir my gegee het: “Moet niks uitvee wat jy geskryf het nie.”

Watter boeke kan jy herhaaldelike lees?

Me before you van Jojo Moyes, Meer as vriende van Cynthia Robertson (my gunsteling-Romanza) en enige boek van Sarah du Pisanie (ek het almal).

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

Dalk Jodi Picoult, ook een van my gunstelingskrywers. Sy is ’n ongelooflike storieverteller.

Watter fiktiewe karakter sal jy in jou vriendekring wil hê? Hoekom?

Die hoofkarakter van die reeks wat ek nou besig is om te lees, Tara Sharp, ’n soort van privaatspeurder (soos sy haarself beskryf) wat spesialiseer in nie-verbale kommunikasie. Sy is reguit, sonder pretensie en het ’n hart vir mense wat deur die lewe bietjie rof behandel is.

Waarom skryf jy romanses? Is dit een van jou gunstelinggenre?

Ek is ’n ‘hopeless romantic’. Daar is min dinge wat my so goed laat voel soos wanneer ander mense geluk vind (al is hul fiksionele karakters). Niks in die lewe gee mens meer hoop as die liefde nie.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Stapels kinderboeke wat ek in die aand vir my dogtertjie lees.

Net drie woorde is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>