My eerste manuskrip is klaar, wat nou? – Elsa Winckler

My eerste manuskrip is klaar, wat nou? – Elsa Winckler

Jou storie is klaar geskryf, jy is opgewonde, maar hoe oortuig jy ’n uitgewer om jou manuskrip uit te gee? Dis ’n lang proses en vra vir ’n goeie skeut geduld en gewone outydse maniere. Wees respekvol, wees ordentlik en onthou om te skryf is ’n lewenslange leerskool, jy gaan nooit alles weet nie.

Ek deel graag met julle ’n paar belangrike moets en moenies wat ’n mens in gedagte moet hou wanneer jy ’n uitgewer nader.

  1. Besluit aan watter uitgewer jy jou manuskrip wil stuur. Alle uitgewers het ’n webwerf en daar sal jy ’n goeie idee van min of meer watter tipe boeke die betrokke uitgewer uitgee. Jy kan jou manuskrip na meer as een uitgewer stuur, maar maak seker wat die uitgewers se beleid is. Sommige uitgewers vra baie spesifiek dat jy nie jou manuskrip aan ’n ander uitgewer stuur terwyl hulle dit oorweeg nie.
  2. Alle uitgewers het ’n afdeling ‘Manuskripvoorlegging’ op hulle webwerwe. Hier kan jy presies uitvind wat hulle verlang – die lettertipe, die aantal woorde, of jy dit moet pos en/of ook per e-pos kan aanstuur. Vergewis jou hiervan voor jy jou manuskrip aan ’n betrokke uitgewer stuur.
  3. Stuur ’n dekbrief saam met jou manuskrip waarin jy jou kontakbesonderhede gee, die titel van jou manuskrip, die teikenmark, ’n kort opsomming van jou storie, enige publikasie-agtergrond wat jy het en die woordtelling. Gee kort, relevante inligting oor jouself (die feit dat jy baie lekker kos maak, is byvoorbeeld nie relevant nie, tensy jy ’n kookboek skryf).
  4. Moenie jouself met bekende skrywers soos byvoorbeeld Deon Meyer of JK Rowling vergelyk nie.
  5. Gebruik jou eie idees, jou eie storie en vertel dit in jou eie stem, moenie bekende stories soos Harry Potter of die Twilight-reeks of enige ander bekende televisiestorie oorvertel nie.
  6. Lees en herlees jou manuskrip en dekbrief en maak seker daar is nie foute of tikfoute in nie.
  7. Moenie jou e-pos of manuskrip in hoofletters skryf nie. Hoofletters beteken jy skree die hele tyd.
  8. Maak gebruik van paragrawe.
  9. Gebruik leestekens korrek.
  10. Aanvaar jou manuskrip is een van baie ander en dit gaan ’n paar maande neem voor jy enige terugvoering kry.
  11. Wees daarop voorbereid om ’n paar keer ‘nee’ te hoor voor jy uiteindelik ’n ‘ja’ kry.
  12. Vermy enige uitgewer wat van jou verwag om vooraf iets te betaal. Uitgewers betaal jou, nie andersom nie.
  13. Die Engelse mark is baie moeiliker, daar is soveel meer uitgewers, soveel meer skrywers. Dis baie belangrik om vooraf seker te maak jy kies die regte uitgewer vir jou manuskrip.

Dis ’n wonderlike gevoel wanneer jou manuskrip aanvaar word en jy en die uitgewer begin om saam te werk. Maar dieselfde reëls geld nog steeds – wees geduldig, wees respekvol, en onthou jou maniere. Jy is nie die enigste skrywer nie.

My beste raad? Sit en skryf. Dis ’n eensame werk, een wat jou elke dag uitdaag, maar die gevoel wanneer jy uiteindelik die gedrukte boek in jou hand hou, maak alles die moeite werd.

Want die hart weet is die vierde boek in Elsa se wonderlike nuwe Jody-reeks. Hier is die volledige reeks, beskikbaar by www.lapa.co.za 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>