Die ATKV-Skryfskool en LAPA Uitgewers bied in 2018 ’n Liefdesnovellekompetisie vir die Lenteskool aan. Die wenner sal die Lenteskool GRATIS kan bywoon en staan ’n kans om gepubliseer te word onder die RomanzaLiefde-vaandel. Sluitingsdatum vir ontvangs van kompetisie-inskrywings: 30 Julie 2018.
Die wenner sal op 20 Augustus 2018 bekend gemaak word.
Wat moet jy doen om in te skryf?
Skryf ’n 15 000-woord-liefdesnovelle.
Stuur dit na Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za met die duidelike opskrif: Liefdesverhaal vir die Lenteskool-Kompetisie!
Hou duim vas!
Reëls:
- Slegs oorspronklike werk deur die skrywer sal aanvaar word.
- Die storie mag nie voorheen elders gepubliseer is nie.
- LAPA Uitgewers behou die reg om die novelle te publiseer.
- Alle deelnemers moet beskikbaar wees om die Lenteskool van 6 tot 8 September 2018 in Potchefstroom by te woon.
- Slegs getikte manuskripte met ’n romantiese storielyn sal aanvaar word.
- Indien LAPA Uitgewers nie die skrywer skriftelik in kennis stel dat die manuskrip nie gepubliseer gaan word nie, mag dit nêrens anders voorgelê word vir publikasie nie.
- Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
’n Verkorte weergawe van die belangrikste vereistes vir romantiese fiksie:
- ’n Vurige en lewendige heldin. Sy moet intelligent wees, ’n sin vir humor hê en onafhanklik wees. Haar vermoëns en talente moet dié eienskappe weerspieël. Sy is passionate − oor alles, veral oor haar beroep. Sy is ’n moderne vrou van die nuwe millennium. Sy het besliste menings en weet wat sy van die lewe wil hê. Maar al is sy nie ’n tipiese voorbeeld van ‘n onderdanige vrou nie, is sy uiters vroulik en baie menslik. Hierdie vereiste van lesers dui op die toenemende behoefte van die teikengroep aan bemagtiging, sonder om hulle vroulikheid in te boet.
- Die held is iemand met ’n presence. Hy is seker van homself, tuis in sy eie vel en in alle opsigte is hy die heldin se gelyke. Hy’t ’n sterk persona sonder om bombasties of oorheersend te wees. ’n Sin vir humor is ook ’n moet en natuurlik moet hy suksesvol wees. Hy is (veral in die begin) teen sy sin benewel deur die heldin en hy’t bowe-al ’n intuïtiewe aanvoeling vir haar diepste behoeftes en menswees!
- Die hoofkarakters moet emosioneel volwasse wees − óf hulle twentysomething is óf fiftysomething. Dit spreek van die teikengroep se behoefte om die konflik wat hulle in hulle eie verhoudings ervaar beter te verstaan en te hanteer.
- Een van die belangrikste vereistes is dat die storie uit die heldin se perspektief vertel moet word. Die alomteenwoordige verteller hoort nie in romantiese fiksie nie, en perspektiefwisseling ook nie. Die leser wil met die heldin identifiseer, weet wat sý dink en voel. As sy rondspring tussen die karakters skep dit afstand tussen die leser en die heldin en die emosionele band tussen hulle kan nie tot sy reg kom nie.
- Die kern van die genre is die konflik tussen die hoofkarakters − al die opgekropte frustrasies wat hulle ervaar, met mekaar en innerlik. En die sterkste hiervan is die seksuele frustrasie. Dít is wat van die storie ’n romanse maak.
- Liefdestonele self, al is dit net soen, moenie oordoen word nie. Dit moet spaarsaam gebruik word – met die klem op die uitgestelde begeerte.
- Die hoofkarakters moet volgehoue kontak en interaksie hê sodat die verhouding (struikelblokke, the battle of the sexes, misverstande en al) stadig en oor ‘n lang tyd kan ontwikkel.
- ’n Gelukkige einde met hoop is ’n ononderhandelbare vereiste. Daarmee saam hou lesers soms van ‘n bietjie detail nadat die hoofkarakters hulle verskille uit die weg geruim het. Dit vergestalt die behoefte aan ’n verbintenis met ‘n lewensmaat wat die toets van die tyd sal weerstaan.
Vir die RomanzaLiefde-riglyne volg hierdie link: https://romanza.co.za/onderhoude-met-lesers/
Kommentaar (9)