Irma Joubert is gebore en getoë in die Bosveld (Nylstroom) en het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Sy het vir 35 jaar onderwys gegee (Afrikaans en Geskiedenis vir senior sekondêre leerders) voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het. Sy het sedertdien as vryskut-joernalis verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte gepubliseer, is in 2005 aangewys as Media24 se Spesialisjoernalis van die Jaar en was ’n Mondi-finalis.
Tans skryf sy historiese romans, want geskiedenis is haar passie. Haar bekendste boeke is Verbode drif, Ver wink die Suiderkruis, Tussen stasies en die trilogie Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad wat by NB Uitgewers verskyn het.
In 2008 was Irma ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjieprys vir Prosa met Tussen stasies, en in 2010 wen Anderkant Pontenilo die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans. Sy was ook finalis vir die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans met Pérsomi in 2011 en Kronkelpad in 2012.
Sy is al 43 jaar lank getroud met Jan en woon in Bloemfontein. Hulle het drie volwasse seuns, ’n skoondogter, ’n pleegdogter en drie kleinkinders.
Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies is reeds in Nederlands vertaal. Volgens die Nederlandse uitgewer was Irma Joubert ononderbroke op die toptien-trefferlys vir meer as twee jaar.
Kommentaar (16)