kristel-loots-2-november-2014

Kristel Loots bly knus agter die boereworsgordyn in die Kaap. Sy luister na die stories om haar en skryf graag oor die vroue wat sy hier – en elders – raakloop. “Gewone” voorstedelike vroue, soms met voorskote om die geronde heupe, ander tye weer modieuse stadsbewoners in stylvolle stiletto’s wat vir niks skrik nie. Of oor “anderste” vroue, verskillende vroue, vroue met issues. Want menswees en veral vrouwees en die vele fasette daarvan fassineer haar. Vroue is stunning en dikwels die hoeksteen wat huis en haard aanmekaar hou en elke vrou het ’n storie.

By almal sien sy ’n universele begeerte – na iemand om lief te hê én na iemand wat vir jóú sal lief wees. Hartsmense by wie jy vreesloos jou siel kan omdop. Iemand wat jou sal hoor wanneer jy “eina”! skree.

Om te skryf is vir haar om die werklikheid van ’n onvolmaakte en gebroke wêreld te skets, maar ook om die absurditeite daarvan uit te lig sodat ons vir onsself en die dinge wat ons doen kan lag. Humor is ’n gawe wat die lewe soveel lekkerder maak. Om te skryf is ook om te ontsnap van alles wat nie mooi netjies in plek wil val nie en jou eie wêreld te skep waar jý dinge kan plooi om jou te pas. En natuurlik om daardie fiktiewe wêreld aan jou leser oor te dra. Om te skryf is ’n héérlike verslawing. Dis om te skep en in verwondering terug te staan oor die mooi ding wat jy in jou hande hou. En te weet jy het dit nie alleen of in eie krag reggekry nie.

Die gewoonte om haar gedagtes neer te skryf kom van ver af toe sy as ’n kleindorpse kaalvoetkind taamlik windverwaai tussen die bitter aalwyne en stroopsoet turksvye, die duwweltjies en die klippertjies van die kleurryke Oos-Kaapse dorpie, Despatch, se stofstrate grootgeword het. Eintlik was daar nie veel opwinding in hierdie dorpie nie, maar ’n mens sal dit nooit sê as jy haar dagboeke lees nie. Met ’n vrugbare verbeelding het sy soos ’n wafferse drama queen haar klein wêreldjie as opwindend genoeg beleef om baie uitroeptekens in die beskrywing daarvan te gebruik. Inderwaarheid was sy jou tipiese bloukous wat “opspraakwekkende” beriggies in die skoolkoerantjie geskryf het.

Kristel is lief vir haar lesers en sy wéét ’n mens lag soms sodat jy nie sal huil nie.

Kristel Loots skryf ook verhale en artikels vir verskeie vrouetydskrifte. Meer as veertig romans van haar het al onderskeidelik by LAPA, Tafelberg en Carpe Diem verskyn.

Kommentaar (61)

  1. AntwoordMarile Cloete
    Ek is vreeslik bly om jou hier te sien, Kristel - ons Kapenaars is mos maar yl gesaai! Groete.
  2. AntwoordMarile Cloete
    DOKTER VAN DROME was vir my een groot fees!
    • AntwoordSusan Pretorius
      Wie het Dokter van Drome geskryf?
  3. AntwoordMarile Cloete
    KANNIEDOOD-LIEFDE was een groot plesier. En ek dink die agterbladteks is besonder goed geskryf - ek wonder of dit jou eie werk was? Dis nie altyd die geval dat die agterbladteks die gees van die storie so lekker saamvat sonder om die hele storie uit te blaker nie. Indien nie jy nie - komplimente aan daardie persoon.
  4. Antwoordkristel
    Dankie Marile, self nie seker oor daardie agterblad nie, klink half vreemd, moontlik die mense by Lapa wat so oulik is.
  5. AntwoordMadelie Human
    Kristel, "Aspoesterskoene" het al jou vorige werk vir my oortref. Jy het die nuwe genre met oorgawe gepak en 'n sukses daarvan gemaak. Moet seblief nie ophou skryf nie!
    • AntwoordSusan Pretorius
      Madelie hoekom is daar so min boeke van jou op die rak? Hier by ons in Pietersburg het ek nog net 2 gesien. Wat is jou boeke sodat ek dit kan aanvra?
  6. AntwoordDina Botha
    Kristel, Ek het ongelukkig nog nie Aspoesterskoene gelees nie, maar wel van jou ander werk en ek hou verskriklik baie van jou skryfstyl.
  7. AntwoordRika Du Plessis
    Ek het Losbol se Moses geniet!
    • Antwoordkristel
      Jammer dat ek nou eers antwoord. Losbol se moses het ek geskryf na n oorsese 'trippie' en iets van die andersheid daarvan probeer weergee. Bly jy het dit geniet.
  8. AntwoordMarile Cloete
    Kristel, ek het Aspoesterskoene gate uit geniet!
  9. AntwoordRika Du Plessis
    Kristel, het daar 'n boek met die naam "Agterstevoorliefde" van jou by Hartbees Uitgewers verskyn?
    • Antwoordkristel
      Dis reg, ja en jy kan gerus die foto plaas waar jy dit wil plaas. As jy weet hoe . . . Stuur sommer vir my die link ook. Lekker aand.
  10. AntwoordRika Du Plessis
    Dankie. Ek stuur die link vir jou sodra alles op die webwerf klaar gelaai is. Ek is op die hond se stert met die einde daarvan - behoort teen Donderdag op die laatste Vrydag te werk. Mag ek ook ietsie uit jou bio vat om daarby te skryf? Daar is nie so baie plek vir 'n lang stuk nie, so as ek mag, sal ek net ietsie daaruit trek.
  11. AntwoordRika Du Plessis
    Kristel, Harbees se webtuiste is nou aan die gang. Hier is die site se adres. www.hartbees.site11.com
  12. AntwoordSuzie Combrinck
    Dankie vir 'n pragtige versmeling boeke, ek sien op die jongste blad van Tafelberg, daar is 'n nuwe boek van jou, 'n Lipstiek-lewe. Dit is nog nie in die Leserskring katalogus nie, sal dit in Oktober in die katalogus wees? Ek het jou "Agterstevoorliefde" werklik baie geniet, en dan geniet ek ook die boeke wat jy in die eerste persoon geskryf het, waarvan ek vyf het, ek sal so graag daardie bitterbek wil ontmoet, het amper die kans gehad op die 30ste Junie, maar dinge het anders verloop as wat ek dit wou gehad het. Ek het darem gehoor jy het in Pretoria kom kuier. Sou jou graag persoonlik wou ontmoet, en ek het by LAPA aangehou om jou in Pretoria te kry om jou twee Enkelboeke wat jy vir hulle geskryf het, te kom bekend stel. Maar dit is nou ook geskiedenis, hoop jy sal gou meer van daardie soort boeke vir ons skryf. Groete uit 'n pragtige Pretoria, Suzie Combrinck
    • Antwoordkristelloots
      Suzie, Magdaleen en Madelie, ek vra om verskoning omdat ek nou eers op julle 'posts' antwoord. Ek het dit nou eers gelees. Jammer dat ek jou in Pretoria gemis het, Suzie. Dit was 'n heerlike kuiertjie. Dankie vir die mooi woorde oor 'n Sjokoladesoene en 'n Lipstieklewe. 'n Skrywer het aanmoediging baie nodig en ek waardeer elke soete woordjie.
    • Antwoordkristelloots
      Ek onthou nou skielik van jou - en van die baie boeke wat jy van al ons skrywers bymekaar gemaak het. Gaan dit goed? Het jy al jou boeke begin minder maak?
    • Antwoordkristelloots
      Ek onthou nou skielik van jou – en van die baie boeke wat jy van al ons skrywers bymekaar gemaak het. Gaan dit goed? Het jy al jou boeke begin minder maak?
  13. AntwoordMagdaleen Walters
    Kristel, ek het jou Lipstiek-storie in 'n Mall in Pta op die rak gesien, sommer-so van 'n afstand en toe loop ek onmiddellik daai boek storm om te kyk wat dit is wat so 'n oulike buiteblad het. Toe ek sien dis joune, toe koop ek hom net daar en toe gaan lees ek hom daar in die bosse waar niemand my kan pla nie. Ek het dit ONTSETTEND geniet. Baie geluk, hoor? (lekker gehik soos ek lag oor die *** groot blom met sy vrugbare binnekant oor die rand van die afgrond). Die boek toer tans tussen my dogters en daarna sal hy na my skoonsussies aangegee word.
    • Antwoordkristelloots
      Ek verdwaal so dat ek nie so gereeld hier uitkom soos wat ek wil nie, maar baie dankie. So bly as mense my boeke geniet. En dan nogal van alle ouderdomme as jy sê jou dogters lees dit ook.
  14. AntwoordMadelie Human
    Kristel, ek stem saam met Magdaleen. Ek het 'Sjokoladesoene' en 'Lipstieklewe' albei baie gulsig gelees. Jou sin vir humor bly bobaas! My man het ook albei gelees en net soveel soos ek geniet. Hou net aan skryf, seblief!
    • Antwoordkristelloots
      Dis n baie vreemde gedagte dat daar iewers n man is wat my boeke gelees het. Ek HOU daarvan, maar is seker daarvan hulle is skaars. Lees hy ook al jou boeke?
  15. AntwoordElizabeth
    Kristel, 'Sjokoladesoene en Aspoesterskoene' van die beste este wat ek nog gelees het. Baie dankie. Mens voel so saam met hierdie vroue wat al oor die 40 is dit gee iets aan die boek. Ek was dol oor Jessie in Sjokoladesoen sy was so onskuldig naief.
  16. Antwoordkristelloots
    Dankie Elizabeth, ek is bly dat jy dit geniet het. Ek is net so bly dat die arme Jessie toe darem geholpe geraak het en ek stem met jou saam dat die verhale oor 'ouer' vroue wat die liefde nog net so intens beleef, geskryf - en gelees - moet word.
  17. Antwoordkristel
    !*!
  18. AntwoordMadelane
    Kristel, ek droom van die luukse om elke nuwe Afrikaanse boek vir myself te kon koop en ek kan myself op die sypaadjie voor die boekwinkel sien oorslaap om eerste te wees as daar 'n nuwe boek op die rak verskyn, maar soos ek sê...drome. Ek sit maar geduldig en wag tot my vriendinne hulle nuwe boeke opgelees het en dan kom ek aan die beurt. Met ander woorde, ek is so effens laat met my lofprysinge aan jou oor hierdie boek, so verskoon asb. Ek was in die bevoorregte posisie om Aspoesterskoene te kon lees die afgelope naweek en toe ek begin kon ek dit nie neersit nie. Baie geluk met 'n puik boek!
  19. Antwoordkristelloots
    Dankie Madelane, dis altyd lekker om van iemand te hoor wat my boeke gelees en geniet het. En `n boek word darem mos nie sommer oud nie. Ek kom sélf dikwels eers maande na die tyd so ver om `n nuwe publikasie te lees. Na Aspoesterskoene het Sjokoladesoene verskyn. En ons hoop om binnekort, in Mei of Junie, nog `n boek op die rak te sien. Ek hoop jy lees - en geniet - die ander twee boeke ook. Lekker lees!
    • AntwoordMadelane
      Ek gaan sommer nou hoor watter vriendin het Sjokoladesoene...kan nie wag om dit te lees. Mag ek weet wat die titel van jou nuwe boek is wat in Mei/Junie vrygestel word?
  20. Antwoordkristelloots
    Sjokoladesoene vertel die storie van `n vrou wat net so lief was vir sjokolade soos ek! In Lemoenseisoen, die boek wat vanjaar verskyn, word daar eerder aan lemoene gesmul!
  21. AntwoordMadelane
    Ek is self verslaaf aan sjokolade. 'n Goeie boek en sjokolade...wat meer kan ek van die lewe vra?
  22. AntwoordKobie van Aswegen
    Dankie vir "Lemoenseisoen" dit was 'n heerlike leeservaring (nie dat ek enigiets anders verwag het nie).
  23. AntwoordRonelle
    Kristel Ek het Lemoenseisoen gekoop en gehou vir 'n baie spesiale geleentheid waar ek werklik kon ontspan en jou boek geniet. Dit was regtig nie aldag maklik nie ...! Op Waenhuiskrans saam met goeie vriende, het ek menigmale kliphard uit gebars van die lag en dan wou my vriendin dadelik weet wat nou weer gebeur het. Ek het haar net so hier en daar ietsie vertel, sodat sy later nie kon wag dat ek moes klaar lees nie! Baie dankie! Jy is regtig 'n meester!
  24. Antwoordkristelloots
    Ag, ek is so bly as ek iemand aan die lees en dan nog aan die lag ook kan kry!
  25. AntwoordRonelle
    Hi Kristel Ek was Vrydag omtrent uit my vel toe ek by die bib kom en op die rak waar die nuwe boeke is, sommer twee van jou boeke te sien! Elke lid mag net een nuwe boek kry, maar ek het dit so bewimpel dat ek altwee kon kry! Sjokoladesoene was gister my metgesel! Wat 'n lekker loslit tema! Kon myself met Jessie vereenselwig, want die lyf lyk nie meer soos 30 jaar gelede nie! Baie, baie dankie!
  26. Antwoordkristelloots
    Ek is so bly dat jy dit geniet het. Ek het regtig so lekker sjokolade geëet terwyl ek aan die boek geskryf het dat ek daarna dringend moes briek aandraai. Ja, ek sal self betáál om weer die lyf van dertig jaar gelede te hê. Maar laat ons maar 'werk' met wat ons het, wat! Nou is ek net nuuskierig om te weet watter ander boek was ook daar. Maak nie saak nie, ek hoop jy lees weer eens lekker daaraan.
  27. AntwoordRonelle
    My geheue het my lekker in die steek gelaat! Dis 'n Lipstieklewe. Het al 'n end weg gelees en geniet dit baie!
  28. Antwoordkristelloots
    Ek is so bly jy geniet dit. Ek het nogal lekker aan `n Lipstieklewe geskryf. En nie weer `n verskoning gehad om my vol sjokolade te prop nie. Is jy `n Kapenaar?
    • AntwoordJuane Venter
      Liewe Kristel My ma dood oor jou boeke en die hopeless romantic wat ek is het, VREK oor jou boeke. My gunsteling een is van n meisie wat vir n skrywer moet gaan werk wat sy arm gebreek het. Dit is my all time favourite maar hys weg en ek wil graag n nuwe een koop. As jy kan onthou watse een dit was kan jy asb vir my die titel gee. Ek is 60% jy is die skrywer en dit verbaas my nie want jou boeke is defnitief my favourites. Groete, Juane x
      • Antwoordkristelloots
        O aarde, ek is bevrees ek kan nie ma staan vir daardie storie waarna jy soek nie. Hoop jy kry dit opgespoor, hoor.
  29. AntwoordRonelle
    Ja, ek bly tussen Heidelberg en Swellendam op 'n plaas, kom gereeld in die Kaap, my jongste swot op Wellington. Ek het in Parow groot geword. Het al gelees jy bly in Goodwood.
  30. AntwoordRonelle
    Kristel, het uiteindelik 'n Lipstieklewe klaar gelees en lekker saam met Roxy al haar wedervarings belewe. Dalk gaan ek ook nog eendag bungy! Gaan nou dadelik jou nuutste op die net bestel. Lekker skryf! xx
  31. Antwoordkristelloots
    Ek wou weet of jy in die Kaap bly omdat ek jou wou uitnooi na die bekendstelling van Troukoek maak nie vet nie. Hoop jy geniet dit boek.
  32. AntwoordRonelle
    Baie geluk met die bekendstelling van Troukoek maak nie vet nie, het op fb gesien. dis sou 'n eer gewees het om dit te kon bywoon, dalk 'n volgende keer, dan doen ek moeite om Kaap toe te kom. Was die dag by Meetsnoer se bekendstelling van Chanette en het jou daar gesien. Lekker skryf aan die volgende ene.
  33. AntwoordRonelle
    Hi Kristel Jou boeke lees asof dit werklik bestaan! Ek het Vetkoek maak nie vet nie, Vrydag uit die pos gehaal. Ek kon net nie die boek vir 'n spesiale geleentheid hou nie! Saterdag het ek begin lees en ounag Sondag klaar gemaak. Die beste van alles is dat my vriendin gister in die Kaap was en gebel het oor 'n plekkie in Langstraat. Dit was op die punt van my tong om vir haar te sê sy moet gaan kyk hoe lyk Bliss and Beautiful! Die storie van Dixie was weereens uit die boonste rakke. Dit is duidelik 'n page turner, want ek het my elke keer belowe ek gaan nog net een bladsy lees en eers die boek neersit, maar so het dit altyd nog 'n bladsy en nog 'n bladsy geword! Baie dankie, ek het dit baie geniet!
  34. Antwoordkristelloots
    Jy is `n skrywer se droom - `n leser wat haar so inleef in `n storie dat sy (amper) haar vriendin wil stuur om na `n fiktiewe plek te gaan soek! Dankie Ronelle. Jy vrolik my dag op. Moenie ophou lees nie, hoor.
  35. AntwoordRonelle
    Hi Kristel Waar kan ek MUURBLOM die boek , nie e-boek, kry? Is dit al herdruk? Ek het Emma se storie, dink dis die regte titel, ek is so sleg met titels, het glad in my vorige skrywe aan jou van Vetkoek i.p.v. Troukoek gepraat. Dis maar seker die plaas wat daar deurslaan. Ek wil bitter graag die boek hê, is regtig nog nie geletterd om 'n e-boek te lees nie!
  36. Antwoordkristelloots
    Kan ek jou `n geheimpie vertel? Ek is self nog nie e-boek vaardig (of baie lus) nie. Bel vir Carpe Diem by 016 982 3617 as jy wil en vra of hulle dalk nog eksemplare het. Dalk is daar tog nog, of dalk, wie weet, herdruk hulle dit??? Toemaar, daar is beslis n verband tussen troukoek en vetkoek en ek het dit nie eens agtergekom nie.
  37. AntwoordRonelle
    Dankie! Ek gaan hulle dadelik bel en hoop vir die beste!
  38. AntwoordAninaFouche
    Hi Kristel. Ek het al byna al jou boeke gelees. Was mal oor Lipstiek lewe, Lemoenseisoen en Sjokoladesoene!! Ek wil so so graag Aspoesterskoene in die hande kry maar oral waar ek kom in boekwinkels sê hulle dis is uit druk uit. Waar kan ek 'n kopie kry of wanneer druk hulle weer?? Dringend op soek na Aspoesterskoene! :-)
  39. AntwoordKristel Loots
    Hallo Anina (vroegoggend op Kersfees!) Hoop jy gaan `n wonderlike dag hê. Bly om te hoor jy lees my boeke. Ek dink Aspoesterskoene kan nog van Kalahari.com af bestel word. Of by Lapa self? By 012 401 0700. Laat weet my as jy nie regkom nie. Ek het nogal `n spesiale sagte plekkie vir Aspoesterskoene.
    • AntwoordAninaFouche
      Hallo Kristel, dis al amper weer 'n jaar later en ek kon nogsteeds nie Aspoesterskoene in die hande kry nie. Dis baie hartseer :-( . Ek het nou al intussen jou ander boeke gelees. Eendagmooi was baie goed en ek het onlangs Emma is gn Engel en Muurblom gelees. Ek is mal mal oor jou boeke. Ag as jy weet van iemand wat hulle Aspoesterskoene wil verkoop of weet waar ek 'n kopie kan kry. Groete Anina
  40. AntwoordRonelle
    Hi Kristel, hoop dit gaan goed. Ek het Eendagmooi klaar gelees en dit verskriklik geniet. Natuurlik omtrent niks anders gedoen as net die een woord na die ander opgeslurp nie! Baie dankie! Soos gewoonlik kon ek soms nie my lag hou nie en wou my man nuuskierig weet waaroor lag ek. Dankie ook vir die paar trane wat ek gestort het. Dit was sommer oor 'n paar ander dinge ook. Soos gewoonlik het jy my nie teluergestel nie en het my heldin haar ware helekry, al is dit ook baie jare na die tyd. Jou boek bewys maar net weer dat liefde altyd op die ou einde seëvier! Ek het ook uiteindelik Muurblom in die hande gekry en dit gelees. Wanneer kan ons vir 'n Hap van die Appel, (of het die naam al intussen verander) onder oë kry?
  41. Antwoordkristelloots
    Haai Ronelle, altyd lekker om van jou te hoor. Nou nog meer as eers, vandat ek jou 'ken'. Dankie dat jy Eendagmooi gelees het. Ek het myself ook soms daar in trane in geskryf en is bly om te hoor dit het jou ook geráák. `n Hap van die appel groei nog aan die boom, maar die titel het nie verander nie. Hoop om dit later in die jaar op die rak te sien. Mooi wense vir jou ook.
  42. Antwoordjakkie
    Waar kan ek n kopie van aspoesterskoene kry? Niemand kan my help nie
    • AntwoordAninaFouche
      Ek is ook opsoek na een, as jy regkom laat weet my ook asb. Hy is ooral uit druk uit, ek het al begin soek of ek nie 'n tweedehandse een kan kry nie :-(
  43. Antwoordjakkie
    Ek het een gekry by Protea boekklup. Proteaboekehuis.com probeer daar hulle het dalk nog.
  44. Antwoordkristelloots
    Anina, ek hou my oë oop. Het ongelukkig self ook nie ekstra eksemplare nie. Baie bly dat jy lekker aan my boeke lees.

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>