Bosvelddroom – Judy Troskie (Uittreksel)

Bosvelddroom voorblad

Die aandwind roer tussen die mopaniebome se blare op die oewers van die Olifantsrivier diep in die hart van die Bosveld. In die tweespoorpad wat jou die mistieke bos inlei, staan ’n donkerkopman, breed van skouers en beslis ’n outydse ses voet in sy sokkies. Fors soos ’n ridder van ouds. Dan draai hy stadig om . . .

Simoné vlieg orent in haar bed. Sweet pêrel op haar voorkop. Dit het sy nou van al haar vriende se gespot oor haar verhuising na ’n lodge in die Bos­veld. Sy weet hulle bedoel dit goed, maar die ewige gekerm dat sy hopelik een of ander tyd, nes almal van hulle, ’n maat sal kry, raak net soms te veel. Ge­lukkig is die laaste een van hulle nou getroud en is haar strooimeisiepligte afgehandel. Soms het sy gewonder of hulle gehoop het dit sou haar tot trou bring. Wat hulle nie kan verstaan nie, is dat sy nie meer ’n behoefte aan ’n man het nie. Sy is gelukkig met haar lewe nes dit is. Ongebonde en ongekom­pliseerd.

Sy sug diep, swaai haar voete van die bed af en stap na haar badkamer. Net ’n vinnige stort en dan is sy gereed om te vertrek. Haar bagasie is reeds in haar motor gelaai en almal van belang is gegroet. Sy is dankbaar dat haar vriende aangebied het om na haar woonstel om te sien. Gelukkig is haar ver­skuiwing net tydelik van aard.

Vir oulaas draai sy voor die spieël. Sy trek die bor­sel weer deur haar dik rooibruin hare, wat tot onder haar skouers hang. Dis menige vriendin se versug­ting, volgens hulle ’n dodelike kombinasie met haar blas vel en warm sjokoladebruin oë. Vir haar is haar mond, waarvan die onderlip effens groter is, haar beste bate. Lang wimpers omraam haar groot oë. Sorg ook vir skuilplek as die veraf kyk in hulle ver­skyn. Makliker om so vrae te ontwyk wat eerder on­beantwoord moet bly.

Sy draai in die rondte om seker te maak die wit bloes en kuitbroek rond die prentjie af. Gelukkig kan sy met gemak kort rompe en kuitbroeke dra. Dit word blykbaar warm in die Bosveld en dan sal langbroeke eenvoudig nie deug nie. As jong dog­ter het haar lengte haar gepla omdat sy gewoonlik ’n kop langer as al haar maats was. Vandag is sy dankbaar vir haar lenige lyf met net genoeg kurwes op die regte plekke. Danksy haar gene het sy ook nie ’n wroeging met gewig nie. Gemeet aan mode­voorskrifte, behoort sy enige man se belangstelling te kan prikkel. Tog is dit die laaste ding wat sy wil doen.

Op die ouderdom van sewe en twintig weet Si­moné Olivier presies wat sy in die lewe wil hê. Nog ’n selfvernietigende verhouding is beslis nie deel daarvan nie. Gelukkig het die familie opgehou tor­ring met vrae oor haar vorige verhoudings wat een na die ander skeefgeloop het.

Vreemd dat haar ouers nie kan verstaan waar­om sy na meer in ’n verhouding soek as wat mans blykbaar bereid is om te gee nie. Hulle huwelik het haar vroeg reeds ontnugter. Sy het haar voorge­neem dat sy nooit in die skaduwee van haar man sal leef nie, tevrede met die krummels van sy tyd in die voortsnellende korporatiewe wêreld.

Al het sy self die leer na sukses met passie begin klim, behou sy steeds haar prioriteite. Ongelukkig romantiseer haar vriendinne die Bosveld. Volgens hulle wag daar dalk ’n man in die Afrikabos wat haar voete onder haar gaan uitslaan, ’n bruinge­brande spiertier met ’n malvalekkersagte hart. Met die wind in sy hare en die son op sy vel. ’n Man in murg en been.

Hulle gaan lank wag. Die enigste rede waarom sy besluit het om die pos by die lodge op ’n wild­plaas te aanvaar is omdat haar werkgewer haar geen keuse gelaat het nie. Die maatskappy het on­langs ’n anonieme brief gekry waarin sekere per­soneellede by onwettige handel in ivoor en selfs renosterhoring geïmpliseer word. Haar lojaliteit dwing haar om die maatskappy se belange in die betrokke lodge te beskerm. Ook die feit dat hulle genoeg vertroue in haar kundigheid het om enige bedrog aan die kaak te stel. Onwettige ivoorhan­del val in dieselfde kategorie. Sy het haarself reeds meer as een keer in die regsafdeling van die maats­kappy bewys. Indien daar enige dokumentêre be­wyse is, sal sy dit wel een of ander tyd opspoor.

Ongelukkig moet sy die eentonige rol van ’n ad­ministratiewe klerk vertolk. Sy kan net hoop dat haar liefde vir die natuur daarvoor sal vergoed.

Die plek het ’n interessante naam, Nafasi Ya Tem­bu, “plek van die olifante” in Swahili. Nou kan sy nie wag om die Bosveld tydelik haar tuiste te maak nie. Louwarm someraande met die gebrul van ’n leeu in die verte of die geroep van ’n visarend wat jou luid­keels in Afrika verwelkom.

Sy tel haar motorsleutels en handsak op en trek die deur agter haar toe.

Simoné kyk bekommerd na die son wat al laag oor die mopanies sit. Verlig luister sy na die aankondiging van die GPS dat die afdraaipad na haar bestemming binne sig is. Dankie tog dat die dae van padkaarte verby is. Haar werkgewer het haar net ingelig dat dit in die Hoedspruit-omgewing is, maar met die koördinate in haar hand en op haar GPS was die rit hierheen heel eenvoudig.

Sy verminder vinnig spoed en draai op die grond­pad in. Gelukkig is die toestand van die pad goed, anders was haar klein sportmotortjie dalk nou in die moeilikheid. Sy kan nie oorweeg om haar spoed nog te verminder nie, want om laat te wees vir die afspraak is onaanvaarbaar. Daar mag geen twyfel oor haar aanstelling wees nie.

’n Sug van verligting ontsnap toe sy die naam­borde gewaar. Die silhoeët van ’n ry olifante teen die rooi gloed van die sakkende son pas perfek by die naam.

Dankbaar dat sy die lodge sonder voorval bereik het, klim sy haastig uit haar motor en stap met die trappe op na die ingang van die imposante gebou.

Die ontvangsklerk glimlag skeef. “Ek neem aan u is Simoné Olivier van hoofkantoor. Kom, meneer Grové wag reeds vir jou.” Sy beduie vir Simoné om haar te volg.

Simoné se een wenkbrou skiet omhoog en sy kyk op haar horlosie. Sy is baie beslis nie laat nie. Die bestuurder het seker net niks anders om te doen nie.

Die meisie klop liggies aan die swaar deur en dit val Simoné op dat sy vinnig haar romp regtrek en seker maak haar hare is op hulle plek. Ooglopend wil die jong dame haar baas beïndruk.

’n Diep stem kom van iewers aan die binnekant. “Kom in, die deur is oop.”

Die meisie stoot die deur wyd oop en beduie vir Simoné om in te stap. “Mejuffrou Olivier, Meneer.”

Simoné versteen ’n oomblik in haar voetspore. Die man wat agter die lessenaar opstaan en bo­kant haar uittoring, hoort op die glansblaaie van ’n tydskrif. Hy kon netsowel een of ander Italiaanse Don Juan gewees het met sy donkerbruin hare wat krullerig aan die kraag van sy swart hemp raak. Die middelpaadjie laat dit sag aan die kante van sy voorkop hang en ontbloot die ruie wenkbroue waaronder donker oë stip na haar kyk. Die reguit neus eindig in ’n kortgeknipte snor en die skynsel van ’n baard wat skerp teen sy bruingebrande vel afsteek. ’n Effense glimlag huiwer om sy lippe. Lippe wat ’n vrou kan laat drome droom.

Sy ruk haar oë weg en huiwer ’n oomblik op sy duidelike adamsappel voordat sy byna gehipnoti­seerd na die sterk hand kyk wat hy na haar uithou.

“Dankie dat u gekom het, juffrou Olivier. Paul Grové, aangename kennis.”

Simoné neem sy hand en knik net stom. Haar stem het nog nie weer sy verskyning gemaak nie. Sy gaan sit vinnig op die stoel wat hy vir haar aanwys. Wat de joos gaan met haar aan? Dis nie die eerste keer dat sy met ’n aantreklike man te doen kry nie, maar Paul Grové het nie ’n gelyke nie. So­lank sy nie vergeet wat haar doel hier is nie. Paul Grové is juis een van die verdagtes.

Van oorkant die lessenaar kom sy warm stem na haar toe aangesweef.

“Ek neem aan u het die kontrak deurgegaan. Is daar enige vrae daaroor?”

Simoné het weer haar emosies onder beheer en wy haar volle aandag aan hulle gesprek.

“Ja, ek het dit deurgegaan en dit is duidelik genoeg. Ek het geen vrae rondom die voorwaardes nie. Die personeelhoof het reeds alles aan my verduidelik.”

“Dit is iets wat hulle aandrang op jou aanstelling vir die pos vir my nog duisterder maak. Jy is beslis nie die aangewese persoon nie weens die feit dat jy oorgekwalifiseer is vir die pos. Ek is seker daar moet ’n rede wees waarom jy dit aanvaar het en ek wil weet wat daardie rede is. Daar is ander perso­neellede wie se belange in ag geneem moet word.”

Simoné staar fronsend na die man wat haar met sy stem mesmeriseer. Wat het van haar selfvertroue geword? Haar keel voel soos ’n verdroogde hout­stomp. Sy sluk moeilik.

“As jy bang is dat ek ’n bedreiging vir hulle gaan inhou, kan ek jou gerusstel. Die rede vir my besluit is eerstens omdat ek weet ek kan die werk doen wat van my verwag word en tweedens omdat dit in die Bosveld is. Ek is lief vir die natuur en sou graag nader daaraan wou leef. Verder het ek my in ver­skillende rigtings gekwalifiseer sodat ek ’n wyer beroepskeuse kan hê.”

Sy sal versigtig moet wees. Hierdie man is van nature skepties. Dit is seker ook logies dat hy agter­dogtig is aangesien sy ’n interne aanstelling is.

“Dat jy die werk sal kan doen, betwyfel ek geen­sins, maar die bos is nie kinderspeletjies nie.”

Simoné trek haar skouers regop. “Verstaan my reg, meneer Grové, ek het geen illusies daaroor nie. Ek ken die gevare.” Sy ontmoet sy oë onver­skrokke en merk hoe die breë skouers onder sy baadjie roer.

Paul sak terug in sy stoel en betrag haar ’n oomblik fronsend. Sou iets hom steeds pla? Sy moet seker maak dat haar dekmantel nie ontmasker word nie.

“Goed dan, juffrou Olivier. Hoe gou kan jy begin? Ons is ongelukkig gedruk vir tyd.”

Die oë wat op haar gesig kuier, steek haar stoel se sitplek aan die brand en sy skuif ongemaklik rond. Haar oë loop terug na sy lippe en tot by die verleide­like kuiltjie in sy ken. Hoe sal dit wees as daardie lippe jou soen totdat jou ore sing?

Simoné skrik grootoog vir haar gedagtes. Hemel, wat gaan met haar aan? Sy het geen begeerte dat enige man haar op hierdie tydstip in haar lewe soen nie. Allermins hierdie een oorkant haar. Hy is moont­lik die baasbrein van ’n hele sindikaat.

Die vraagteken tussen Paul se wenkbroue herin­ner haar dat hy nog vir ’n antwoord wag. Sy reageer vinnig.

“Is môre goed genoeg?” Sy blaas haar asem sta­dig uit. Hopelik is hy onbewus van wat hy so pas met haar professionaliteit aangevang het.

“Dit is goed so. Noem my asseblief in die toekoms op my naam. Ek neem aan ek mag jou ook Simoné noem? Almal hier noem mekaar op hul name.” Hy talm ’n oomblik asof hy nog iets wou byvoeg en Si­moné se wenkbrou lig vraend.

“Dankie, ek sal onthou.”

“Soos jy in die kontrak gesien het, is die salaris moontlik nie soveel as wat jy voorheen verdien het nie, maar die gratis verblyf en etes behoort daarvoor te vergoed. Jy kan dadelik in huisie nommer agt in­trek. Dit behoort aan jou verwagtings te voldoen aangesien dit ’n gemeubileerde tuinwoonstel is. Hier is die sleutels. Jy kan dit met jou motor bereik, volg net die aanwysings. Ontbyt is stiptelik seweuur sog­gens. Ons dag begin vroeg.”

Simoné knik. “Dankie, ek verstaan en dankie vir die geleentheid om hier te kan werk.” Sy staan van die stoel af op en trek haar rug regop en Paul volg haar voorbeeld.

Weer die warm stem. “Welkom by die Nafasi Ya Tembu, Simoné. Ek hoop jy sal gelukkig by ons wees.”

Sy kyk na die sterk hand wat weer na haar uit­gehou word. Geen trouring! Is dit moontlik dat Paul nog los rondloop? Hy sal enige vrou veilig kan laat voel, al wag die wolf by die voordeur.

Haar droom van die tweespoorpad met die donkerkopman wat met sy rug na haar toe staan, doem voor haar geestesoog op. Sy skud haar kop heftig. Dis gekheid. Sy heul nie met skelms nie.

Paul is nou die een wat haar vraend aankyk. Sy neem vinnig sy hand en skud dit liggies. ’n Rilling hardloop al teen haar arm op.

Sy neem die sleutel uit sy ander hand en probeer so normaal moontlik by sy kantoordeur uitstap. Hopelik is sy môre ten volle in beheer van haarself. Tog besef sy reeds dat sy ter wille van haar oorlewing ’n professionele afstand tussen hulle sal moet handhaaf. Behalwe dat haar lewe bedreig kan word, is haar hart nie veilig in Paul se teenwoordigheid nie. Ongeag al haar oortuigings.

Simoné volg die aanwysings en bring haar mo­tor voor die woonstel tot stilstand. Die syfer 8 op die voordeur kondig haar tuiste aan. Sy klim haastig uit en sluit die deur oop. Dit maak ’n sagte kraakgeluid toe dit onder haar hand oopgaan.

Paul het nie oordryf dat dit aan al haar verwagtings sal voldoen nie. Die woonkamer is ruim en baie smaakvol gemeubileer. Sagte herfskleure skep ’n gesellige atmosfeer. Die reuk van gras en kreosoot vul die lug. Tipies aan die Bosveld het die woonstel, net soos die hoofgebou, ’n grasdak. Die sandkleu­rige teëls op die vloere sorg vir koeligheid onder jou voete. Ten spyte van die vroeë somerhitte, waaraan sy beslis nie gewoond is nie, is dit heerlik koel in die vertrek.

Sy sit haar ontdekkingsreis voort na die slaap­kamer. Daar is ’n muskietnet wat romanties aan vier pilare gebind is bokant die bed. Sy weet reeds dit is haar beste verweer teen die malariadraers.

Die aangrensende badkamer is ruim en ten volle ingerig. Sy stap na die kombuis toe. Klein, maar met alles wat sy kan nodig kry. Gedagtig daaraan dat sy alle etes by die restaurant gaan nuttig, is dit beslis nie die vertrek wat baie van haar gaan sien nie. Ook maar goed so, kook was nog nooit een van haar sterk punte nie.

Sy merk die ketel op en loer vinnig in die yskas. Sy sal wel die nodige vir koffie moet kry as sy nie aan kafeïenonttrekking wil ly nie.

Tevrede met haar blyplek, stap sy terug na haar motor en begin haar bagasie indra. Heelwat later is alles afgelaai en netjies weggepak. Daar is ’n klop aan haar deur.

Simoné frons liggies. Sy maak die deur vinnig oop en kyk verras na die vrou voor haar. Asof hulle dié versugting van vroeër kon hoor, hou sy ’n skinkbord in haar hande met dit wat sy kan nodig kry om koffie en tee te maak, asook gebottelde water. Sy bedank haar vriendelik en stap terug na die kombuis.

So ja, alles is op hulle plek, nou vir haar eerste koppie koffie in haar nuwe blyplek. Sy skakel die ketel aan en die onmiddellike stoomgeluid laat ’n gevoel van tuiskoms in haar hart roer. Ongelukkig is dit net tydelik. Sy sal egter hieraan kan gewoond raak.

Vanaand gaan sy haar bed vroeg opsoek. Môre mag sy nie swak konsentreer weens moegheid nie. Nie met Paul in die omtrek nie. Sy vermoed dit gaan ’n volskaalse stryd wees om haar aandag by haar werk te bepaal, en dit alles danksy haar vriendinne se verspotte stories. Nou foeter haar hart om voor­tydig van ’n man se sesvoetlyf kennis te neem ter­wyl sy eintlik met voorbedagte rade hier is. Dit is ’n deel van haar werk wat haar nog nooit voorheen gesteur het nie, hoekom juis nou?

Al sou sy Paul vir die oomblik die voordeel van die twyfel gee, mag sy nooit uit die oog verloor dat sy nie kan bekostig om deur sy uiterlike van stryk gebring te word nie. Haar enigste rede is en bly om die bedryf van onderduimshede te bevestig of om die anonieme skrywe as kwaadwillige saakbeskadiging uit te wys.

Die Natalse fisante roep al sedert ligdag luidkeels onder die kamervenster. Al Simoné se pogings om hulle skril aankondigings te smoor is vrugteloos. Sy vlieg uit die bed op. Ten minste sal sy nou kan verhoed om laat te wees vir ontbyt. Paul het nie om dowe neute uitgewys dat dit stiptelik seweuur is nie.

Sy verklee later in ’n swart rompie wat net-net aan haar knieë raak en ’n wit kantbloes. Haar skoene se hakke is hoog genoeg dat dit steeds deftig lyk. Die bloes beklemtoon haar donker hare. Haar wimpers raak aan die kuif wat laag oor haar voorkop hang. Sy wend net genoeg grimering aan om steeds natuurlik te lyk. ’n Titsel meer lipstiffie en nog ’n druppel par­fuum agter die ore, dan is sy gereed vir haar eerste dag op kantoor.

Sy laat haar oë oor die eetsaal gly. Die tafels is vrolik in aardse kleure gedek. Die dekor pas die omgewing soos ’n handskoen. Die vertrek se skuifdeure staan wyd oop en laat die vars oggendlug binnestroom. Sy merk die swembadwater wat byna ysig blou blink, en tiptolle kwetter verspot in die groot besemtrosvy. Alles lyk vreedsaam, en tog ervaar sy ’n elektrisiteit in die atmosfeer, asof daar ’n energielading wag om te ontplof.

Haar oë dwaal oor die bos aan die buitekant van die veiligheidsheining. Moontlik voel sy die bos se energie aan. Op die oog af rustig in die oggendson, terwyl sy weet iewers in die skadu’s skuil gevaar. Blougrys dynserigheid hang laag oor die bosse, al langs die vallei af tot by die granietkoppies in die verte. Die bos lyk droog. Sy sug diep. Dit is nie heelte­mal hoe sy die Bosveld voorgestel het nie.

’n Vreemde manstem praat skielik agter haar. “Genade, waar daardie sug val, vrek alles.”

Simoné ruk haar kop terug en ontmoet twee geelbruin luiperdoë wat by die diep resonansie in die stem van haar besoeker pas. Hy staan oorkant haar tafel. Die man is seker amper sewe voet lank, want hy troon groot en gevaarlik oor haar. Sy glim­lag verleë.

“Dit was eintlik ’n sug van bewondering vir die skoonheid van die bos.”

’n Glimlag verskyn op sy gesig. “Nee, dan mag jy maar sug. Ek neem aan jy is ons nuwe administra­tiewe klerk? Ek is Alex Grové, aangename kennis en welkom hier by ons.”

Sy glimlag vriendelik en knik liggies. “Simoné Olivier, aangename kennis.”

“Kan ek maar sit, Simoné?” Alex wag egter nie vir toestemming nie. Hy trek die stoel met een hand uit en neem langs die tafel plaas.

Sy som haar besoeker vinnig op. Dieselfde diep strelende stem as Paul, maar beslis nie so gevaar­lik vir ’n vrou se nugter denke nie. Met sy skoongeskeerde gesig en kortgesnyde hare lyk hy ook jonger as Paul. Nog ’n verdagte wat in die skrywe genoem is.

Sy beduie met die hand. “Sit gerus.” Jy sit tog reeds, wou sy byvoeg.

Alex buig vooroor en laat rus sy elmboë op die tafel. Hy betrag haar op en af. “My neef het nie oordryf nie. Jy is vrekmooi. Gelukkig volgens hom slim ook. Ek kan jou verseker ek is dankbaar ons het baie vinnig iemand vir die pos gekry. Onse Paul mag ’n goeie bestuurder wees, maar van admin weet hy min, en as hoofgids het ek genoeg hooi op my vurk.”

Simoné baklei met die blos wat dreig om op haar wange te verskyn. Duidelik het die twee mans haar bespreek; tog laat die wete dat Paul dink sy is mooi ’n warm kolletjie net onder haar naeltjie ontstaan.

Alex maak keel skoon. “Hopelik dink jy aan iets goeds, want ek dink nie jy hoor ’n woord wat ek sê nie.”

Simoné pluk haar kop op en begin onbedaarlik hoes. Alex hou ’n glas water na haar uit en sy neem dit dankbaar. Sy klad die nattigheid aan die servet en sukkel om haar stem te normaliseer.

“Jammer, my gedagtes het sommer in die bos verdwaal.”

Die kelner daag met hulle ontbyt op en sy is dankbaar dat Alex se aandag na sy bord verskuif.

“Môre, Simoné. Ek hoop jy het ’n rustige nag ge­had en is gereed vir al die harde werk wat vir jou wag. Skink net eers gou vir ons koffie, dan neem ek jou na jou kantoor.” Hy beduie na die skinkbord agter hom op die kas.

Sy kyk onderlangs na hom. As dit enigsins moontlik was, lyk hy vanoggend nog aantrekliker met sy wit hemp. Sy sal eenvoudig harder moet baklei teen die emosies wat hierdie donker man in haar ontketen.

Sy draai op haar hakke om en stap tot waar die skinkbord met die koffiekoppies staan. Op hierdie oomblik het sy self kafeïen nodig om haar senu­wees te laat kalmeer.

“Melk en suiker?” Sy vervies haar vir die vibrasie in haar stem.

“Net melk, dankie.”

Sy oorhandig ’n koppie aan Paul en gaan sit met hare oorkant sy lessenaar en kruis haar bene. Sy frons liggies toe sy merk dat hy haar bene met sy oë volg en dan met ’n skewe glimlag opkyk.

“Dankie. Ek sien jy het reeds my neef ontmoet. Waarom het jy nie ontbyt geëet nie? Of was hy weer sy gewone sjarmante self?” Hy hou haar oor die kop­pie se rand dop.

Sy roer haar koffie tydsaam en ontmoet die donker oë fronsend wat deur dik wimpers omlyn word. Oë wat goed kan raaksien wat jy eerder sou wou wegsteek. Sy opmerking oor Alex laat haar wonder of die twee neefs dalk nie oor die weg kom nie. Dit kan ook wees dat hy subtiel aan haar wil sê dat sy neef nie altyd so galant is nie. Tog, die Alex wat sy vanoggend leer ken het, kom voor as ’n gematigde persoon. Dis baie moeilik om te glo dat hy ’n skurk kan wees.

Sy skud haar kop liggies. “Nee, ek eet net nie gewoonlik ontbyt nie. Alex lyk na ’n aangename persoon waarmee iemand gemaklik ’n gesprek kan voer.”

Sy kan nie verstaan hoe hy al hierdie dinge weet nie, behalwe as hy self in die omtrek was en hulle net onbewus van sy teenwoordigheid was. Hy moes hulle dopgehou het. Genadiglik kon hy nie die regte afleidings maak nie. In die toekoms sal sy versigtiger moet wees. Paul het so pas bewys dat hy nie net ’n aantreklike swernoot is nie, maar ook geslepe. Sy kyk vinnig op toe hy skielik praat.

“Nou ja, kom ek gaan wys jou waar is jou kan­toor.” Daarmee staan hy op en wag dat sy sy voor­beeld volg.

Sy kom haastig op haar voete en stap doelgerig na die deur toe. Sy glimlag skelm toe sy merk dat Paul se oë weer op haar goedgevormde bene kuier. Al is dit nie haar gewone modus operandi nie, is dit dalk ’n manier om Paul se gedagtes besig te hou terwyl sy haar ondersoek voortsit.

“Jy is ’n pragtige vrou, Simoné. Ek glo die mans trap jou drumpel deur om jou guns te wen. Ek sal moet seker maak hulle pla jou nie by die werk nie.”

Sy opmerking neem die wind vir ’n oomblik uit haar seile. Stry soos sy wil, dit is allesbehalwe ’n onaangename gedagte dat hy van haar as vrou be­wus is. Hoe onvanpas ook al.

Sy loer onderlangs na sy forse gestalte wat langs haar stap. Die reuk van sandelhout en son hang om hom en veroorsaak ’n hol kol op haar maag. Skielik klim die temperatuur sommer ook ’n paar grade.

Twee deure verder stoot hy ’n kantoordeur oop en staan opsy. Hy beduie vir haar om in te stap. Sy gehoorsaam en bevind haar in die middel van ’n ruim vertrek. Meubels van ligte hout, ’n rekenaar, liasseerkabinette en ’n fotostaatmasjien bevestig ’n goed ingerigte kantoor.

Paul beduie met sy hand deur die vertrek. “Ek glo jy gaan alles hier kry wat jy sou nodig hê. Kyk eerstens na ons besprekingsprogram en vra as jy oor iets onseker is. Die dames by ontvangs kan ook van jou vrae beantwoord. Jy behoort dit vinnig onder die knie te kry.”

Hy stap dieper die kantoor in en gaan staan voor die venster. “Verder is dit een van jou pligte om alle betalings na te gaan voordat gaste arriveer en hulle kamers beset. Geen verblyf word op rekening verskaf nie, tensy dit vooraf met my persoonlik gereël is.”

Sy knik net liggies. Alles is nog te oorweldigend om haar stem te vertrou. Veral sy teenwoordigheid wat die vertrek van hoek tot kant vul. Die man veroorsaak ’n magnetiese veld waarteen sy geen verweer het nie. Sy ontspan effens toe hy omdraai en vir ’n oomblik in die deuropening huiwer.

“Goed. Ek is in my kantoor as jy my soek. Anders ontmoet ek jou by die restaurant vir middagete. Ons moet seker maak jy kry iets in daardie maag van jou.” Hy draai op sy hakke om en stap haastig weg.

Sy kyk hom fronsend agterna. Hoe gaan sy in staat wees om ’n mond kos in te kry met daardie man in haar nabyheid? Sy moet eenvoudig aan ’n verskoning dink of haar senuwees in bedwang kry sodat sy kan ophou om haar skielik soos ’n verlief­de tiener te gedra.

Sy skud haar kop heftig, gaan sit agter haar lessenaar en skakel die rekenaar aan. Sy moet haar gedagtes by haar pligte bepaal en die werk doen waarvoor sy hierheen gekom het. Hierdie oordadige gewaarwording van Paul is absurd.

Die dag verdwyn uur na uur onder haar voete uit. Sy kyk moeg maar tevrede van die dokument voor haar op toe Paul om die deurkosyn loer. Sy ver­moed dadelik hy is hier om haar uit te trap aange

sien sy eenvoudig hulle etensuur geïgnoreer het. Sy sou een of ander verskoning geopper het as hy opgedaag het.

“Toemaaktyd, Juffrou.” Hy kom by die deur inge­stap en gaan staan voor haar lessenaar. “Jammer oor middagete. Daar het ongelukkig iets onverwags voorgeval.”

Sy waai met haar hand in die lug. “Vergeet daar­van. Ek het self nie tyd gehad nie.”

’n Skewe glimlag verskyn om sy mond. “Ek gaan wel op ’n manier daarvoor vergoed. Ons eet almal vanaand saam. Die ander aandeelhouers wil jou ook graag persoonlik ontmoet. Ete word rondom sewe-dertig bedien, so dit behoort jou genoeg tyd te gee om jou mooi te maak.”

Dit brand op haar tong om dadelik verskoning te maak, maar sy besef sy kan nie vir ewig weghard­loop nie. Daar moet ’n manier wees om haar ou self terug te kry en soos altyd professioneel op te tree. Dit is uitsluitlik ’n sake-ete. Dalk die eerste stap om Paul te oortuig om haar te vertrou. Sodoende sal haar volgende skuif nie te veel aandag trek nie. Dit is net logies dat sy diep sal moet delf om ’n spoor van enige vorm van sluikhandel te vind.

Sy probeer ongeërg antwoord. “Dankie vir die uitnodiging. Ek sal probeer om jou nie teleur te stel nie.”

Paul glimlag en skud sy kop stadig. “Jy kan nie anders as om mense te beïndruk nie, maar jy kan regtig ontspan. My ouers is gewone mense en die ete is informeel. Sien jou later.”

 

 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>