Ekstra toneel! Net drie woorde – Nadia de Bruin

Hierdie toneel is tydens die herskryfproses van Nadia se eerste novelle, Net drie woorde, weggesny. Maar ons hoop jy geniet hierdie addisionele toneel!  

Proloog

Dit is die eerste dag van die nuwe skooljaar en die graad agts staan in ‘n lang ry by die trappies wat na die skoolsaal se verhoog lei. Janne is seker die ander kinders kan haar bene sien bewe.

Sy was in haar lewe nog nooit so bang nie!

Dit is amper haar beurt om oor die verhoog te stap en sy hoop sy dit kan regkry sonder om op haar gesig te val. Sy voel klaar soos ’n idioot met haar skoolrok verkeerdom aangetrek. Haar hare is in twee lang poniesterte aan weerskante van haar kop vasgemaak en ’n verspotte groot fopspeen-lekker om haar nek. Sy was opgewonde om hoërskool toe te gaan, maar het glad nie uitgesien na die oriënteringsdeel nie.

Sy wonder paniekerig op watter bynaam die skool se leerderraad vir haar gaan besluit. Een van die graad twaalfs gaan haar ook kies om vir die volgende paar weke sy skaduwee te wees. Sy het by die ander gehoor dat dit beteken hulle moet die graad twaalfs se tasse dra. Hoe op aarde gaan sy dit regkry? Sy kan kon skaars haar eie swaar tas vanoggend op haar rug kry. Hulle moet blykbaar ook altyd pouses beskikbaar wees vir ingeval een van die graad twaalfs iets nodig het. Vir haar is die heel ergste dat hul hierdie persoon na die graad-agt-sokkie moet vra.

“Janneke Franziska Kaube,” lees die hoofmeisie oor die mikrofoon van die klaslys af. Die res van die saal bars uit van die lag oor haar vreeslike name en sy wens met haar hele hart dat sy heeltemal onsigbaar kon word.

Wat het haar ouers besiel om haar met sulke name te straf?

Die gedagte aan haar ouers laat haar wonder oor haar ma se doktersafspraak. Sy het die afgelope vakansie nie lekker gevoel nie en moet ’n reeks toetse ondergaan. Sy hoop dat alles goed sal verloop.

Janne voel skielik na aan trane en moet hard op haar lip byt om nie haarself nog verder te verneder nie.

In die middel van die verhoog kom sy tot stilstand en kry van êrens die moed bymekaar om na die graad twaalfs in die voorste rye te kyk.

Die leerderraad sit heel voor en die res van die graad twaalfs agter hulle. Sy besef verlig dat niemand regtig vir haar kyk nie, maar koppe teen mekaar sit en saggies gesels. Sy haal ’n paar keer diep asem en wonder of sy van die verhoog kan stap.

’n Seun met deurmekaar blonde hare hou op gesels en kyk reguit na haar.  Hy is groot en sterk gebou maar die oë op haar is vriendelik. Janne sluk hard en sy maak gereed om van die verhoog af te vlug.

“Janneke, van hierdie oomblik af word jy Janneman Kaube, skaduwee van Arend Viljoen, Graad 12A,” sê hy en beloon haar ’n breë glimlag.

Haar ore slaan bot toe. Sy hoor amper nie die opgewonde gefluister wat van die graad agts langs die verhoog kom nie.

Arend Viljoen is die hoofseun en hy het haar gekies!

“Kom graad agts, beweeg! Ons het nie die heel dag tyd nie.”

Sy skrik toe die hoofmeisie se stem weer skerp oor die luidsprekers kom en stap so vinnig moontlik van die saal se verhoog af.

Hoe gaan sy die hierdie jaar oorleef?

Net drie woorde is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>