Gelykbreek-liefde – Ernalize du Toit

Gelykbreek-liefde – Ernalize du Toit

“Hulle sê ’n mens kry nie ’n tweede kans om ’n eerste indruk te maak nie, maar kan ek dalk weer probeer? Kan ek pleit om vergifnis?” vra ’n stem naby haar.

Behati kyk op in twee helderblou oë. Sy oë is ’n ongewone kombinasie met sy donker hare. Sy oorweeg om haar hardgebak te hou, maar haar hart vermurwe. Sy sien iets sags en boetvaardigs in sy oë.

“In ’n boekwinkel kan ek jou seker enigiets vergewe. Of ek dit wel gaan doen, is nog nie ’n uitgemaakte saak nie. Wat lees jy?” ’n Man se boekrak of gebrek daaraan was al dikwels in die verlede vir haar ’n waterskeiding.

“Ek het gedink ek moet dalk in ’n kunsboek belê?” Hy lig sy wenkbrou vir haar. “Maar ek lees ook graag misdaadromans.”

“Ek kan ’n paar kunsboeke aanbeveel, maar ek dink dit is ’n hopelose saak. ’n Mens kan nie ’n padda in ’n prins verander nie. Party mense kan jy mooi aantrek, maar jy kan hulle ongelukkig nêrens heen neem nie.”

“Eina! Maar ek sal die pak moet vat. Behati, ek weet regtig nie wat my besiel het nie. Ek het jou dadelik raakgesien toe ek by die deur inkom en wou só graag met jou praat. Ek het nie ’n idee gehad wat om vir jou te sê nie en toe ek na die kunswerk voor my kyk, kon ek nie aan een sinvolle ding dink nie. Ek moes maar net my mond toegehou het, dan kon die donkie dalk vir ’n perd deurgegaan het, of hoe?”

Behati glimlag. Haar naam klink so anders uit sy mond. “Ek is dankbaar dat jy nie geweet het ek is die kunstenaar nie, want dan sou jy nie jou eerlike opinie gegee het nie. En ek verkies eerder dat jy sê wat jy dink. Daardie skildery is in ’n heel ander styl as baie van my werke, maar ek probeer juis myself uitdaag met verskillende style en mediums.”

“Ek het nie jou naam herken nie, maar ek het al van jou kunswerke aanlyn gesien.”

“So jy is nie totaal anti-kuns nie?”

“Inteendeel, jy sal verras wees om te sien watter vreemde en interessante kunswerke ek in my huis het. Ek koop graag kuns, hoewel ek nie die verskil ken tussen Picasso en Portchie nie. Wil jy nie asseblief ’n drankie saam met my kom drink nie, dan kan jy my gebrekkige kunskennis uitbrei?”

“Ek het eintlik ’n vroeë aandjie met my liefdesromans in my pajamas en koeipantoffels beplan, maar een drankie kan seker nie skade doen nie. En as daar een ding is wat ek die heelal skuld, is dit om die publiek se kennis en liefde vir kuns uit te brei. Laat ek net gou my boeke betaal.” Genugtig, Behati, is dit nou nodig om voor ’n wildvreemde man van jou pajamas te praat! Die geamuseerde uitdrukking op sy gesig wys vir haar dat hy hom die prentjie kan voorstel. Sy vroetel met haar beursie om haar verleentheid te verberg.

Gelykbreek-liefde is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>