Liefde binne die wet – Magda Schmidt

“Versigtig tog, juffrou Malherbe!” terg hy sag, en sy verbeel haar sy stem is nog dieper as gewoonlik. “Jy weet mos jy is tot ongelukke geneig!”

Sy tree terug en hy laat haar dadelik gaan. Dan wil hy weet of hy nie soos sy suster se twee kinders bederf gaan word nie.

“Hulle kon nie uitgepraat raak oor die lekker sap en die gawe tannie nie! ’n Biertjie sal ook nie onwelkom wees nie. Of hou jy nie bier in jou yskas vir jou kêrels nie?”

“Nee, omdat ek nie mans in my kamer onthaal nie maar appelsap met ys is op pad. Sit solank en koel ’n bietjie af!”

Sy bring vir haar ook ’n glas, gaan sit oorkant hom en neem klein slukkies terwyl hy sy glas met een teug leegdrink.

“Sjoe, ek het nie besef ek’s so dors nie,” sê hy en vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Die twee snuiters was reg. Dis lekker sap en ’n gawe tannie! Om terug te kom na die mans wat jy nie in jou kamer onthaal nie. ’n Wyse besluit, sou ek sê, en dalk kuier jy seker elders saam met hulle. As dit nie voorbarig is om te vra nie: Is dit nog kêrels in die meervoud of is daar al soos by jou vriendin Katryn iemand spesiaal?”

Ingrid aarsel, antwoord dan eerlik dat hulle soms as ’n groep vriende saam uitgaan, maar nie een is haar kêrel nie en nog minder is daar iemand spesiaal. Sy is nie haastig nie, want sy wil eers haar graad klaarmaak en haar klerkskap doen. Sy het te veel opgeoffer om tot hier te kom en sy gaan dit nie nou laat skade ly omdat sy muisneste kry nie!

“En tog gaan jy dalk nie ’n keuse hê nie, weet jy, want ek merk dat ’n paar mans se koppe vinnig draai wanneer jy in die klas instap. Veral die blonde reus, Kurt van Zyl, s’n.”

“Kurt?” vra sy opreg verbaas. “Nee wat, hy hou maar net daarvan om met my te stry. In enige klasdebat neem hy altyd die standpunt in wat direk teenoor myne staan.”

“Taktiek om jou aandag te trek. Wag maar en sien.”

Ingrid glimlag net, onoortuig.

“Nog appelsap?”

“Nee, dankie. Ek moet nog gou jou grasperkie ook sny en dan aan die werk kom in my studeerkamer. Maar sê my, terwyl ek jou nou so uitgevra het, wonder jy nie ook net so ’n klein bietjie oor my liefdeslewe nie?”

Sy skud dadelik haar kop en probeer so ongeërg moontlik lyk.

“Dis onvanpas vir ’n student om oor haar dosent se persoonlike lewe te wonder.”

“En tog het jy, toe ek jou die eerste keer gesien het, jou medestudente aangeraai om uit te vind of ek al ’n vrou het.”

“Jy weet tog dit was as ’n grappie bedoel. Maar goed, terwyl jy my aanmoedig om te vra: Is daar al iemand spesiaal in jou lewe?”

Hy is so lank stil dat sy wonder of hy nog gaan antwoord. Sy voel ook aan dat sy vrolike gemoedstemming nou verander het, want hy lyk somber en daar is ’n vreemde hartseer trek om sy mond.

“Nie meer nie,” sê hy eindelik gedemp, “en ek beplan om dit so te hou want die meisie saam met wie ek amper vyf jaar was, het my nie net verlede jaar afgesê nie, maar ook duidelik laat verstaan dat ek nooit ’n vrou gelukkig sal kan hou nie.”

“Dis darem baie drasties. Waarom sou sy so iets sê?”

“Want ek is glo nie net ’n werkslaaf nie, maar boonop so gefokus op my ander belangstellings soos musiek, die natuur en die geskiedenis, dat ek nie plek het vir liefde in my lewe nie. Ná so ’n verdoemende uitspraak van iemand wat my immers goed geken het, sal ek dit dan maar liewer nie waag om weer ’n vrou lief te kry en haar dan te faal nie.”

Ingrid dink hard aan iets gepas om te sê, dalk ’n trooswoord, want al het Martin sonder emosie probeer praat, kan sy aanvoel dat die mislukte verhouding en veral sy eksmeisie se harde oordeel nog seermaak. Hy staan egter op en steek sy hand uit om haar ook op te trek.

“Genoeg tyd afgeneem van jou studies, juffrou Malherbe,” sê hy amper kortaf. “Dankie vir die sap, maar ek verwag darem nie in die toekoms lafenis elke keer dat ek die gras sny nie!”

Spaar 15% op alle Romanzas op LAPA se webtuiste: https://lapa.co.za/november-romanza-boeke-3 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>