Liefde vir ’n cowboy – Didi Potgieter

Brad oorweeg dit om nie die telefoon te beantwoord toe hy sy reklameagent se naam op die skerm sien nie, maar aangesien hy haar vreeslik baie geld betaal omdat hy haar nodig het, kan hy seker nie die oproep ignoreer nie.

Hy het skaars geantwoord toe haar kwaai woorde hom tref: “Wat de hel het jy aangevang?”

“Wat bedoel jy?”

“Jy en Amelia Anniston-Parker, Brad.”

Dit vat hom ’n rukkie om tot verhaal te kom. “Hoe het jy uitgevind?”

“So, dis die waarheid? Jy en sy is getroud.”

“Ja, hoe weet jy?”

“Dit is die hele internet vol en op die voorblad van elke skinderblad van hier tot in Mexiko.”

’n Vloekwoord glip oor sy lippe.

“En dit voor die vrystelling van jou en Melinda se duet. Jy weet hoe nodig het jou loopbaan hierdie treffer en die publisiteit wat daarmee saamgaan.”

Brad sak terug op die kussings. Hy het nie sy reklameagent nodig om hom te herinner aan die feit dat hy maande laas ’n nuwe lied geskryf het nie. Hy wil ook nie graag herinner word aan die feit dat hy saam met een van die knaendste vroue in die bedryf moet werk om dit reg te stel nie.

“Is sy saam met jou hier in Nashville?”

“Nee, sy is terug New York toe.”

“Hoekom? Julle is dan pas getroud.”

“Ons het albei ’n lewe, Julia.”

“Jy bedoel julle was albei besope en nie een van julle het aan die gevolge gedink nie.” Hy hoor die histerie in Julia se stem. “O, ek kan net sien hoe die media dit gaan geniet.”

“Die plan was eintlik dat die media nie uitvind nie.”

“Ons praat van Amelia Anniston-Parker, Brad. As sy die dag nie haar hare was nie, is dit nuus. Slegte nuus. Negatiewe nuus.”

“Ek verstaan.”

Julia sug. “Nee, ek dink nie so nie. Mense kyk op na jou. Dit het my bitter lank gevat om vir jou ’n goeie skoon naam in hierdie bedryf te gee. ’n Naam wat oornag hierdeur vernietig kan word.”

“Soos ek sê, die media moes nie uitvind nie.”

“Nou het hulle en jy sal ’n plan moet maak.”

Brad sit lank net so nadat sy die oproep beëindig het. Hy kan dink wat Amelia Anniston-Parker gaan sê as sy die nuus kry. In ’n mate is hy bly hy is nie by nie.

Toe die deur van haar woonstel agter haar toegaan, gun Ami haarself nog ’n rondte se trane. Sy het een van twee keuses: Maak ’n plan of aanvaar dat sy nie meer ’n verhouding met haar familie sal hê nie.

Die gedagte aan Kersfees oor ’n bietjie meer as ’n maand laat haar na haar selfoon soek.

Sy het nie ’n keuse nie. Sy is niks sonder haar familie nie.

Ami voel huiwerig terwyl sy wag vir Brad om sy selfoon te antwoord. Wat as hy die een was wat dit wat in Vegas gebeur het aan die pers verklap het? Wat as hy, soos Clinton, háár status wil gebruik om vooruit te kom?

“Hallo?”

“Haai, dit is Ami. Amelia.”

“Ek weet. Ek het nogal gedink jy gaan bel.”

“So, jy het gesien?”

“My reklameagent het my in kennis gestel. Ek wou jou bel, maar ek het nie jou nommer nie.”

“Nou het jy dit.” Sy sug. “Ons moet praat. Hierdie wending het die situasie verander.”

“Ons kan nie oor die foon praat nie.”

Ami knik, al weet sy hy kan haar nie sien nie.

“Ek is oor die naweek in New York. Jy is welkom om Saterdagaand na my konsert toe te kom. Ons kan daarna gesels.”

Omdat sy nie hou van die manier hoe haar hart opeens vinniger klop nie, is haar stem bitsig toe sy sê: “Ek luister nie eintlik countrymusiek nie.” Sy haal ’n slag diep asem voor sy verder praat. Sy kan dink hoe dit gaan lyk as haar nuwe man in New York optree en sy is nie daar is nie. “Maar ek sal daar wees.”

Spaar 15% vir jou kerskous as jy al vier Romanzas op die nuwe www.lapa.co.za koop: https://lapa.co.za/november-romanza-boeke-3 

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>