’n Man soos Lodewijk – Magdaleen Walters

Lucy skrik wakker van ’n lawaai. Eers dink sy dis die buurman wat weer begin werk het hier langsaan, soos hy trouens weer eens vanoggend tussen vyf en sewe gedoen het, maar haar onderbewussyn herken die deuntjie en sy voel onbeholpe rond tot sy die selfoon raakvat. Nog heeltemal deur die slaap kom sy regop, vryf haar hare uit haar gesig en probeer fokus. Onbekende nommer, sien sy.

“Hallo?” Sy klink so deur die slaap soos wat sy is.

“Haai. Is dit Lucy wat praat?”

’n Manstem. Sag, sensueel, rokerig.

Die een helfte van haar brein spring op aandag. Die ander helfte staan gereed om haar weer kop in die kussing te laat druk om verder te slaap.

“Lucy wat praat,” bevestig sy en skuif hoër op teen die kussing.

“Lucy.” Hy sê haar naam asof hy haar streel en sy frons.

“Wie praat nou?”

“Tannie Ammie het my van jou vertel.”

Sy wag dat hy verder praat, maar ’n stilte hang in haar oor.

“Wie’s jy?” wil sy weet.

“Andreas Steyn. Tannie Ammie-hulle woon langs ons.”

“O?”

“My ma en tannie Ammie is vriendinne? Die kunstenaar?”

Hy laat hang die sinne soos vrae in die lug.

Genade, ja. Nou weet sy. Tannie Ammie het nie tyd gemors nie, het sy?

Hy wag ’n paar tellings vir die nuus om in te sink.

“Ek hoor jy is ook eensaam,” sê hy toe.

Mooi. Daar het hy haar nou behoorlik wakker.

“Ek is nie regtig eensaam nie. Maar, wel, hoekom bel jy?” Sy voel meteens simpel.

“Kom ons twee kom bymekaar en leer mekaar beter ken.”

Nou ja, dink sy. Ten minste draai hy nie doekies om nie. En sy hét nie vir tannie Ammie reggehelp toe sy vanoggend met haar kupidospelery begin het nie. Nou moet sy maar die beste van die saak maak.

“Wanneer wou jy dit doen?” vra sy op die man af.

“Wat van vanaand? Ek is in ’n nostalgiese bui. Niks lus vir werk nie.”

Sy huiwer. Sy het nog nooit ooghare gehad vir ’n toe-oë-afspraak nie. Maar sy is nou in die ding en sy moet dit op een of ander manier hanteer.

Sy loer na die wekker. Tweeuur, sien sy. Nou ja, sy het ses, amper sewe ure se slaap ingekry. Sy behoort vanaand te kan wakker bly. Dis te sê as sy nie hoef te werk nie.

Heimlik wens sy daar wil wel iets by die werk gebeur sodat sy uit hierdie malligheid kan kom. Wat makeer haar dat sy sulke goed aan haarself doen?

“Nou goed,” gee sy ’n bietjie teensinnig toe. “Wat het jy in gedagte?”

“O, ’n lekker uiteet, om mee te begin. ’n Bietjie atmosfeer en stemming om ons auras se kleur te verbeter?”

A, daar hoor sy nou die kunstenaar praat.

“Dit klink goed.”

“Wat van . . .” Hy dink ’n paar oomblikke en noem toe die naam van ’n restaurant in ’n winkelsentrum. Sy het al daar verbygeloop, maar nog nooit daar geëet nie. Dit het vir haar na een van daardie plekke gelyk waarheen mense gaan wanneer hulle iemand wil beïndruk. En die geld het om dit te doen. Nou ja, sy is bereid om beïndruk te word.

“Dit klink goed,” sê sy vir ’n tweede keer.

Toe sy vroegaand voor die spieël draai, is sy onverwags opgewonde om ’n slag te kan uitgaan. Dit laat haar sommer jonger voel, soos toe sy op universiteit was. Wanneer laas het sy ’n afspraak gehad? Sy frons soos sy probeer onthou en gee toe op. Want sy kan nie eens onthou nie.

Sy druk die laaste knippie op sy plek in en bekyk haar beeld. Haar hare is in ’n rol ingeboelie en op haar kop vasgesteek, want dit hou ten minste die oorgrote meerderheid van die spul krulle op een plek. Sy het ’n slag gegrimeer, goed wat skitter in haar ore gehaak en ’n rok aangetrek. Dis nou wel ’n gewese strooimeisierok in ’n diep rooi wat glad nie haar kleur is nie, maar ten minste pas dit mooi aan haar. Voeg daarby ewe rooi stelte aan haar voete, armbande en ’n hangertjie om haar nek. So ja.

Tien minute later bel Andreas Steyn om te sê dat hy voor hul hek wag. Lucy stap versigtig op haar hoë skoene voortuin toe en sien in die verbygaan dat buurman Lodewijk besig is om goed van sy bakkie langs die huis af te laai. Dit lyk na ’n saag wat hy daar aftel, ’n yslike ding wat eintlik deur minstens twee mense gedra behoort te word. Sy armspiere stoot indrukwekkende bulte toe hy met die vrag teen sy bors staan.

Sy kry hom onverwags jammer. Hy werk altyd so alleen. Miskien moet sy hom met meer lydsaamheid verduur. Hy kyk oor die bakkie en sien haar.

“Goeiedag, juffrou Uiljie,” roep hy gemoedelik en bederf haar goeie voornemens van die oomblik heeltemal.

“Goeiedag, meneer Saag en Kap,” groet sy koel terug.

Hy grinnik onverwags. “Sorrie daaroor, hoor? Dit sal darem seker nie vir altyd aanhou nie.”

“Daar is iets soos kantoorure, weet jy.”

“Dit is so,” gee hy geredelik toe. “En in die kantoorure van my dag is ek by my kantoor.”

“O, nee, jy is nie. Jy is tot in die donker nag by jou kantoor. En dan kom jy hier aan en begin lawaai. Ek moet in elk geval nou gaan. Ek het ’n afspraak met iemand wat nié kap en saag nie.”

“Beteken dit ek kan vanaand in vrede werk sonder ’n uil wat vir my loer?” roep hy agterna.

“Dis presies wat dit beteken,” roep sy terug en kry hier in haar hart ’n bietjie skaam omdat sy nou verkeerd is.

Sy stem volg haar. “Geniet jou aand.”

Sies vir jou, Lucy Lessing, baklei sy met haarself. Maar hy moes van beter geweet het as om haar wéér ’n uil te noem.

Spaar 15% op al 4 Romanzas op ons nuwe webtuiste: https://lapa.co.za/desember-romanza-boeke-4

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>