Net drie woorde – Nadia de Bruin

“Jy lyk mooi vanaand, Janneman.” Arend gee die vlegsel wat oor haar een skouer lê ’n speelse pluk.

Janne verwens weer die gloed wat haar wange met mening bestyg. Sy kyk dadelik af en maak of sy iets in haar handsak soek.

“Kom ons ry. Dit is ’n nuwe fliek en ek is bang die ry is lank.” Arend hou vir haar sy Ford Ranger se deur oop en sy klim vinnig in.

Op pad Waterfront toe ruil hulle nog nuus oor hul gesinne uit. Hy parkeer onderdak en hulle gesels droog op toe hulle na die kaartjietoonbank stap.

Terwyl hulle kaartjies koop, is daar ’n groep jong meisies wat kort-kort in hul rigting kyk en giggel.

Arend sien Janne se vraende uitdrukking en grinnik verleë. “Dis seker ook deel van my werk. Sodra een van hulle genoeg moed bymekaargeskraap kry, gaan hulle kom vra vir my handtekening,” probeer hy verduidelik.

“Natuurlik, jy is seker al gewoond daaraan.” Janne hou die groep geïrriteerd dop. Is sy nou simpel? Hoe kan sy jaloers wees op ’n klomp skoolkinders?

Skielik is Arend se hand onder haar ken en hy draai haar gesig na hom toe sodat sy verbaas opkyk. Op daardie oomblik word sy van ’n hele paar goed bewus. Nommer een, sy het nog nooit besef hoe ongelooflik mooi sy oë is nie. Dit is pure heuning rondom sy pupille met ’n groen randjie rondom die iris. Tweedens ervaar sy ’n gevoel wat sy net kan beskryf as dit wat mens beleef as jy skielik val. Dan is daar ook haar hart wat so hard in haar borskas klop dat dit die enigste geluid is wat sy vir ’n paar sekondes kan hoor. O gonna, dis verby met my, dink sy verbouereerd.

“Ek is hier saam met jou.” Arend het steeds sy hand onder haar ken. “Kom ons kry die formaliteite agter die rug.” Hy neem Janne se hand en trek haar agter hom aan na die groep jongelinge toe.

Die oomblik toe hulle by die meisies kom, veroorsaak dit nog ’n vlaag giggels. Arend teken fliekkaartjies, inkopiestrokies en hemde en neem geduldig foto’s saam met elkeen. Janne gesels later heerlik saam. Almal wou weet hoe sy en Arend mekaar ken, en hulle dink die storie dat hulle saam op skool was, is baie romanties. Janne kry gelukkig nie kans om op daardie stelling te reageer nie.

Hy maak verskoning dat hulle fliek gaan begin, neem weer haar hand en hulle stap na die verversingstoonbank om gou koeldrank te gaan koop. In die donker teater, terwyl hulle die voorprente kyk, kry Janne dit reg om vir die eerste keer die aand te ontspan. Voorprente is haar gunstelingdeel van die fliekervaring.

Arend vat nie weer haar hand gedurende die fliek nie. Janne weet nie of sy verlig of teleurgesteld is nie. Toe hulle uitstap, haak hy darem haar arm deur syne sodat hulle bymekaar moet bly tussen al die mense.

Net drie woorde is hier beskikbaar:

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>