Opa! vir die liefde – René van Zyl

Sy word ligdag opgeklop. “Athina.” Dis Cristos se stem.

Sy loer vaak-vaak deur die venster af na waar hy voor haar winkel staan. Hy en die einste Jason wat breed glimlag. Hy lyk vandag nog aantrekliker en meer energiek as gisteraand.

“Wat nou?” vra sy bot in Grieks, sommer kwaad vir haarself.

“Jy kom vandag saam. Bazyli het gepraat.” Hy antwoord terug in Grieks.

“Waarheen nou weer?” Sy is nog erg deur die mis en haar brein slaap steeds.

“Ons gaan vir Jason die eiland en ons eiland- gasvryheid wys, aldus my pa. Kom.” Cristos klink opgewek asof hy uitsien na die bootrit met jong geselskap.

Athina wil nie. Sy weet sy gaan Bazyli goed kwaad maak as sy weier. En sy is hom soveel in die lewe verskuldig. Sy het nie juis ’n keuse nie. Deksels.

“Ek is nie lus nie.”

“Kom,” roep hy. “Ma stuur vir Maria saam om ons te voer. Dit gaan lekker wees.”

Arme Maria word nou ook hierby betrek. Hoekom is dit dan nodig dat sy wat Athina is, ook saamgaan? En hoekom lyk dit of Jason haar ellende geniet?

“Bazyli sê ek moet jou in jou slaapklere daar kom uithaal as jy nie wil kom nie. Ek het die winkel se spaarsleutel hier by my,” dreig Cristos.

“Oukei, oukei, ek sal kom.” Sy trek haar wit bikini aan en ’n wit katoenrok bo-oor. ’n Dag op Cristos se boot sluit beslis swem in. Dit kan dalk tog lekker wees. Sy was lanklaas uit op die boot. Solank daardie mannetjie sy kamera op ander goed fokus, nie op haar nie.

Toe sy die deur oopsluit, kyk sy hulle afgemete aan. “Jy, Jason Haven, ek wil nie die kamera na my toe sien mik nie.” Sy beduie ernstig oor haar gesig. “En dié gesig sal nooit ooit op ’n foto wees nie, verstaan ons mekaar?”

“Absoluut. Ek belowe. Ek neem net die eiland af.” Hy glimlag met sy kuiltjies en sy oë lyk of hulle met haar spot. Tog sien sy ’n erns daarin wat haar effens ontstig. Hy is beslis nie so ’n happy-go-lucky tipe ou as wat hy dalk voorgee nie.

Sy byt op haar tande. Hoe sy die dag met hierdie man gaan oorleef, weet sy nie. Sy is nie meer gewoond aan wêreldse mans en hulle agendas nie. Sy sluit die deur agter haar en loop haastig vooruit hawe se kant toe. Die mans volg. Maria sluit voor Zorba’s by hulle aan en dra ’n groot mandjie wat heel waarskynlik vol lekkernye gepak is. So in die verbyloop tel Cristos die koelhouer met drinkgoed op wat langs haar staan. Athina is heimlik bly Maria gaan saam. Dis tyd dat Cristos die meisiekind raaksien. Dis dalk wat Rosa ook in gedagte gehad het.

“Welkom op my boot, die Argo,” sê Cristos terwyl hy die hawe verlaat en suid om die eiland vaar in die rigting van die argeologiese eiland Despotiko. “Vreemd genoeg, Jason, was die skip waarop die mitologiese Griekse held, ook ’n Jason, gevaar het, se naam ook Argo. Ek wed jou jy het dit nie geweet nie.”

“Ek het grootgeword met daardie verhaal. Dit maak júlle dan my dapper Argonauts,” sê Jason terwyl hy aan sy kamera en lense karring. “Ek onthou nog daardie Jason was ’n heldhaftige mannetjie wat vele struikelblokke moes oorkom.”

Cristos vertel. “Om sy regmatige posisie as koning terug te wen moes hy vir koning Pelias die bos goue hare van ’n ram gaan opspoor. Die ram is deur ’n slapelose draak opgepas. Jason het die draak met ’n middel bespuit wat hom aan die slaap gemaak het. En toe kon hy die goue hare steel.”

Athina, wat op die rand van die boot sit en die uitsig oor die hawe geniet, luister net met ’n halwe oor na die gesprek. Sy kan nie help om by te voeg nie: “Die Jason het ook heelparty vroue op sy reise verlei en kinders by hulle gehad. Zeus se vrou, Hera, het hom hoeka alleen laat oud word sonder kind of kraai omdat hy ewige liefde aan haar dogter Medea beloof het en haar toe verneuk het.”

Los 'n boodskap

Jou epos adres sal nie gepubliseer word nie.

U mag hierdie HTML tags en eienskappe gebruik:

<a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>